Die pad terug na God II

4 Augustus 2021

“The ultimate act of power,
is surrender.”

― Ram Dass —

Ons reis hierdie maand met ʼn landkaart en kompas wat ons op pad vat na ons Ware Noord. Ons vra weer die oeroue, belangrike vrae: wie is ek; waar kom ek vandaan; waarheen is ek op pad; en wat vat ek saam vir die reis?

Die eerste besoekpunt was ʼn gesprek oor die begrip, AANVAARDING.

Aanvaarding is NIE apaties of ʼn ‘don’t-care’ houding nie, dit beteken nie opgee nie, en maak nie van jou ʼn deurmat waaroor ander trap nie.

Wat aanvaarding wel is, is verstaan; dit is ʼn ‘oop wees’ om te ontvang; dit is ontvanklik vir ʼn groter perspektief; dit maak plek vir menswaardigheid, bereidwilligheid, en medemenslikheid.

Acceptance = acknowledgment, affirmation, agreement, appreciation

En so vat ‘Aanvaarding’ ons na ons tweede besoekpunt naamlik, OORGAWE.

Dink aan die Vrugte van die Gees waarvan Paulus praat: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, en selfbeheersing — is enige een moontlik sonder ʼn intellektuele, emosionele, en bowenal spirituele OORGAWE …?

Soos met aanvaarding beteken ‘oorgee’ NIE opgee nie. Baie mense dink dat die oomblik van oorgawe is die einde van hul lewe, maar dit is juis waar LEWE begin.

LEWE begin waar ek ophou om krampagtig vas te klou uit vrees vir verandering; my obsessies laat gaan oor gister, my illusies oor môre; ophou baklei, ophou kwaad wees; en laat los aan dit wat nie werk nie.

Een van my gunsteling U2 liedere is, “Moment of Surrender” waarin die lirieke sê —

“my body’s now a begging bowl
that’s begging to get back
begging to get back to my heart
to the rhythm of my soul
to the rhythm of my unconsciousness
to the rhythm that yearns
to be released from control”

Wanneer ek nie meer alles en almal wil beheer nie, en nie situasies wil manipuleer sodat ek my sin kry nie, is juis die oomblik waar liefde en vreugde en vrede mý vind.

Vir só lank in my lewe het ek gestry en baklei, teensinnig en rebels my voet gestamp as die wind my skep, of die stroom my vat. So dikwels op my knieë gedryf deur ʼn oorweldigende oortuiging dat ek nêrens anders het om heen te draai nie.

En dan, ‘a moment of surrender’ waar ek kyk na als wat kwel en ontstel, na elke vorm van emosionele pyn en dit sien soos wolke wat kom en gaan, en ek al my emosies op ʼn lysie skryf en dit in ʼn papier-boot vou en laat gaan op ʼn rivier wat verbyvloei.

OORGAWE is nie swakheid nie, maar juis ʼn krag wat sterk en dapper is. Dit is ondersteunend en bemoedigend.

Natuurlik gaan die ego aan jou knaag met vrae soos: wat gaan ek als verloor, waarmee gaan ek dit vervang, wat gaan van my word …?

Wanneer hierdie vrae aan jou deur klop, moet jy God dank, want dis ʼn geleentheid om te groei. Dank God vir die geskenk van omstandighede wat jou gebring het op ʼn punt waar ons eerlik genoeg met onsself kan wees om te sê —

Ek gee alles oor wat my nie meer dien nie, wat nie meer waarde toevoeg nie, wat nie meer betekenis het nie … ek gaan die lig van my hart bring na die duisternis in my gedagtes … ek gaan laat die siel my wys waar die LIEFDE heen wil gaan.

Die laaste twee dekades moes ek tweemaal van voor begin. Dit was verseker nie maklik nie. Die onsekerheid, die twyfel, die enorme skuldgevoelens oor sekere besluite, en die vrees of ʼn mens dit gaan maak, het in my geval lang littekens op my lyf gelos.

In 2010, hulpeloos en magteloos om na myself om te sien, was ek genoodsaak om OOR TE GEE.

Dit was ʼn OORGAWE om die liefde, omgee, hulp, en sorg van ander met dankbaarheid te ontvang — I had to learn how to receive gracefully. Dit was nie maklik nie. Vir iemand wat in ʼn roeping staan van ‘GEE’ was ontvang nog nooit maklik nie. My oorgawe was weereens ʼn geskenk van God.

Na ʼn leeftyd van gebroke verhoudings — in my persoonlike maar ook professionele lewe — moes ek leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir my reaksies (emosies). Dit was ʼn OORGAWE om te laat gaan aan dit wat WAS, om dit wat IS te omarm, en God te vertrou met wat sal WEES.

Die laaste 11 jaar hou ek daagliks vas aan daardie belofte van September 2010: I will surrender to my Bright Self ...

... wat beteken:

  • God sal in ʼn duisend stemme op ʼn duisend maniere my daaraan herinner dat Hy na ons kyk met ʼn stem wat sê, “dit is my geliefde seun / dogter in wie ek ʼn welbehae het …”
  • Ons almal is geskape in die beeld en gelykenis van God (Genesis 1:26); ons almal asem die ASEM van God (Genesis 2:7); en niks en niemand kan ons van die liefde van God skei nie (Romeine 8:37-39).

AANVAAR jy dit? Kan jy jou lewe, jou ganse lewe, OORGEE aan hierdie Liefde wat die fondasie van jou geloof en hoop is?

Kom ons verken Sondag ʼn paar bakens op ons reis as ons vir mekaar vra: wat hou jou terug; waarvoor is jy bang; wat dink jy gaan gebeur as jy ophou keer; waarom is ‘oorgee’ so moeilik; en hoe doen mens dit?

  • “Kyk, ek staan by die deur en ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met my.” — Openbaring 3:20

Kom ons breek Sondag saam die brood, en deel die wyn, en sê dankie vir die seisoen waarin ons is.

Tot dan wens ek vir jou ʼn geseënde week.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Forget your voice, sing!
Forget your feet, dance!
Forget your life, live!
Forget yourself, and be!”

― Kamand Kojouri 

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Elke Sondag om 10h00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville

Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights