Die Pad terug na die Hart IV

22 September 2021

“The best way to find yourself
is to lose yourself
in the service of others.”

― Mahatma Gandhi —

Een ding is verseker: die WAARHEID is altyd waar! Dit is die wetmatigheid waarop die ganse kosmos berus. Ons ervaring en interpretasie van hierdie WAARHEID verander en vernuwe. Dit móét ook, anders leef ons klaaglik arm.

In 1995 het ek Kaap toe getrek in my wit 1979 Mercedes 280. Sy was perfek opgepas en het soos ʼn droom gery. So hard soos staal en jy sou ʼn 10 ton klip op haar moes gooi om ʼn duik te maak. Daar was net mooi niks fout met hierdie, toe reeds ‘sweet sixteen’, motor nie.

Sy het als gehad wat ʼn mens nodig het: 'n outomatiese ratkas, kragstuur, lugversorging, elektriese vensters,\ en 'n wonderlike klanksisteem. As jy die sleutel gedraai het, was sy reg om jou na enige bestemming te vat … veilig, gemaklik, en betroubaar.

Laas Sondag ry ek ná ons 10 jaar feesviering huis toe met ʼn hart wat oorloop van vreugde om in die gemeenskap te kon wees van mense wat mekaar hartlik liefhet. Met trots dink ek terug aan als wat ons die laaste dekade bereik het … ek ry huis toe in my wit Benzie.

Wat is die verskil tussen ʼn 1979 en 2016 model behalwe vir die 37 jaar wat tussen die twee lê? Die huidige een het als in wat die eerste een gehad het ... jy sou kon sê dat dié twee is dieselfde, of kan jy? Natuurlik nie, want in elke opsig is die huidige een ʼn verbetering.

Dit het my aan die 'kerk' laat dink waar ons steeds onverpoos vashou aan die ou model … ons glo dat wat 2000 jaar gelede geglo is, is die enigste manier. Hoe ons dinge 50, 100, 500 jaar gelede gedoen het, is beter. Om ʼn ‘nuwe model’ te hê, voel of die vorige een geen waarde gehad het nie en of ons ontrou is aan wat ons geken en geglo het van die vorige een.

Hierdie maand se tema gaan oor: Die Pad Hoe God Ons Vind — en het begin deur te sê dat God ons vind in die KOSMOS — tussen sterre- en sonnestelsels met ʼn gravitasie wat alles in balans en harmonie hou en daardie gravitasie noem ons: Liefde.

LIEFDE is die gravitasie wat alles na mekaar toe aantrek en maak dat ons nie in die ruimte ronddryf soos ʼn ballon nie.

Toe het ons gesels oor God wat ons vind in die KRUIS. In die vertikale balk lê ons eenheid met God en die horisontale balk is ons verbintenis aan mekaar. Waar die twee ontmoet lê die Ewige NOU. Die Heilige Oomblik (Holy Instant) waar ons kies vir LIEFDE bo vrees.

Laas Sondag het ons gesels oor God wat ons ook vind in die KERK — die ruimte waar ons in verwondering stil word voor die Groot Liefde. Die plek waar ons in aanbidding en eerbied ons gedagtes en intensies fokus op dit wat waarde- en betekenisvol is. Ons kritiek teen die kerk kan nooit die inhoud en betekenis van die gemeenskap van gelowiges oorskadu nie.

Eerskomende Sondag sluit ons die reis af as ons gaan praat oor God vind ons ook in die KOMBUIS.

As jy nog nooit Martin Versfeld se boek Food for Thought gelees het nie, doen jouself asseblief die guns.

Dié boek gaan oor kos as die naelstring tussen mens en natuur. Hoe ons kos bekom en kook, sê iets van hoe ons as menslike spesie gegroei en ontwikkel het. Hy gee resepte vir kos, maar nog meer belangrik nooi hy jou in om aan sy (filosofiese) kombuistafel te sit.

Meer as enige ander plek in jou huis vind jy God, en vind God jou in die kombuis.

As vriende kom kuier word die dag beplan vanuit die kombuis. Elke oggend begin in die kombuis as die reuk van koffie met die vroeë oggendlig deur die venster meng.

Die kombuis is waar ek snags na iets gaan soek om die insomnia te verdryf. Dis waar ek al dikwels om middernag trane van die toonbank gevee het, maar ook waar ek al vieruur in die oggend gedans het.

Die kombuis is die heiligdom van jou huis.

Om ʼn tafel in die kombuis word méér waarheid en wysheid gedeel as enige ander plek. Dit is waar ons ons stories deel en liefde geskink en geskep word.

MAAR — die spirituele betekenis van ʼn kombuis is die diens waarin ons staan van mekaar.

Elke maaltyd wat êrens vir ʼn hawelose gegee word, begin in ʼn kombuis. Elke huis wat vir ʼn vreemdeling ʼn herberg is, sentreer om die kombuis.

Jesus som sy roeping op in een sin: “So is dit met die Seun van die Mens: hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien.” (Matteus 20:28)

Kan ons nuut dink, ʼn nuwe model vind in ons verstaan van kosmos (gravitasie), kruis (eenheid), kerk (gemeenskap), en kombuis (diens)?

Iemand het eenkeer gesê: They will not care how much you know, until they know how much you care.

Hierdie woorde was nog altyd die kole in die stoof van my roeping.

Nie ʼn diens omdat jy skuldig voel nie. Ook nie ʼn diens om jou gewete te sus nie, en nog minder om geprys te word deur ander nie.

So, kom ons praat Sondag oor DIENSBAARHEID — en waarom dit die plek is waar God nie net ons vind nie, maar deur ons hande se omgee ander vind.

Van kosmos na kruis, van kerk na kombuis — altyd in, deur, en met LIEFDE.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“How we walk with
the broken speaks louder
than how we sit with the great.”

― Bill Bennot 

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Elke Sondag om 10:00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville

Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights