“Everybody has a destiny,
but destiny is God.”
― Andrea Bocelli —
Op Litnet skryf Antjie Krog ʼn roerende huldeblyk aan Koos Oosthuysen (1933-2021).
“In mý vertalingkop is Koos Oosthuysen die laaste van die heel grotes. Daar bestaan nie meer iemand op aarde wat só na Afrikaans kan vertaal nie. Omdat hy betrokke was by Bybelvertaling, het hy die tegnieke wat gebruik word in die vertaling van Grieks en Hebreeus, toegepas in sy vertaling van Xhosa. Hy sou ’n enkele woord opbreek in sy stam, sy huidige vervorming in die sin sowel as sy letterlike, figuurlike en idiomatiese betekenis en so die magtige rykdom wat in die inheemse tale verskuil lê, boontoe ploeg.”
Sy noem hoe hul pad gekruis het in haar vertaalwerk vir haar digbundel, ‘Met Woorde Soos Met Kerse’ waarin sy inheemse gedigte uit o.a. Xhosa vertaal het na Afrikaans.
Keer op keer was sy verstom oor hoe ʼn enkele woord se betekenis met ʼn hele sin in Afrikaans vertaal moet word, veral Xhosawoorde wat gebruik is om hul eerste kontak met die witman te beskryf.
Aanvanklik net fisiek: Hulle-deur-wie-se-oë-die-wind-
Wat dit sê van die witman met die Bybel onder sy arm wat God na dié kontinent wou bring, is ʼn gesprek vir ʼn heel ander dag.
Maar dit was hierdie paragraaf wat my laat nadink het —
“So sal Koos dan verduidelik dat daar by die 60 Xhosawoorde is vir “loop”, omdat ’n mens soms van ver af aan iemand se loop moet aflei hoe die persoon voel, wie dit is, watse nuus gebring word, wat gesoek word, en of gevaar dreig.”
Vir ʼn oomblik dink ek aan my eie ‘stap’ en wonder, wat sê my ‘loop’ vir ander? Is my wandeling met God ʼn Pad terug na die Hart?
DÍT is waaroor hierdie maand se gesprekke gaan — God vind ons in Sy liefde; in ons liefde ervaar ons God; met ons liefde vir mekaar word God sigbaar.
Die ganse kosmos berus op die wetmatigheid van gravitasie … ʼn aangetrokkenheid, en planmatigheid van balans en harmonie. Die Heilige Geometrie van eenheid as deel van ʼn groot geheel (a sacred wholeness).
Carl Jung praat van ‘whole making’ in sy skeptiese beskouing van die Christendom. Sy pa, en vyf ooms, was almal Gereformeerde predikante en hy het na hul gekyk en al wat hy gesien het, is klinies ongelukkige en emosioneel ongesonde mans.
Religieuse sisteme konsentreer, volgens Jung, te veel op die uiterlike. Dis oordrewe moralisties met weinig indien enige innerlike transformasie. Die Christendom aanbid ʼn straffende God.
In Jung se psigoterapie was dit duidelik dat hierdie Godsbeeld lei tot min of geen self-erbarming (compassion for yourself), en hoe selfgeregtigheid lei tot geen vergiffenis van jou skadukant nie.
Om die Pad terug na die Hart te vind, vra nie moralistiese perfeksie nie want dis geknoop aan die ego waar ons onsself heeltyd sien as swak en sondig wat verdien om gestraf te word nie.
Die pad van transformasie vind ʼn balans en harmonie met ons paradokse. Ons leef nie in ontkenning oor ons eie wonde nie, en weet waar om die LIEFDE te hengel wat ons in staat stel om meer liefdevol teenoor onsself en ons medemens te wees.
— maar, en dit is ʼn sagte ‘maar’
“If God is torturer in chief, then a punitive and moralistic society is validated all the way down. We are back into problem-solving religion instead of healing and transformation.” — Richard Rohr
Die Pad terug na die Hart kan nie die dryfsand van dualisme volhou nie.
Bv: Paulus sê dat die liefde nie boekhou van die kwaad nie maar ons glo God teken als op wat ons verkeerd doen; Jesus sê herhaalde kere dat ons mekaar onvoorwaardelik moet vergewe maar ons glo daar is goed wat God nie vergewe nie; en as ons dink dat God se liefde met voorwaardes en verwagtinge kom dan gaan ons liefde ook met meriete en verpligtinge werk.
Daarom stem ek saam met Biskop John Shelby Spong:
“It is time, I am convinced, to move Christianity beyond that historically inaccurate and psychologically damaging definition of humanity that has resulted in a constant denigration of human life as helpless, depraved, sinful, and in need of divine rescue.”
God is LIEFDE. Daar is nie ʼn “maar” of ʼn “as...” aan gekoppel nie. Die hart is die kruik van ons liefde — toegeneentheid, toewyding, adorasie, en passie. Die hart is die spens van ons liefhê — empatie, meelewing, menswaardigheid, en medemenslikheid.
Vir ons as Christene staan die simbool van die kruis sentraal. Nie as ʼn simbool van lyding en dood nie maar van triomf en lewe.
… en waar die twee mekaar ontmoet, lê die HIER en NOU. Hier waar ons laat gaan aan ons skuldgevoelens (gister) en vrees (môre), en die ewige nou wat nieteenstaande, desondanks alles liefde kies bo vrees.
Dit is waaroor eerskomende Sondag se gesprek gaan.
Tot dan — maak jou kop, lyf, en hart oop om hierdie LIEFDE in sy volheid te laat inloop, vol loop, en oorloop.
Hoe anders as met liefde, net liefde, liefde genoeg.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
"The great I AM is less noun,
more verb.
Less destination,
and more direction."
― Rob Bell ―
Elke Sondag om 10:00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville
Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek