Die Pad terug na die Hart

1 September 2021

“We are not held back by the love we didn't receive in the past, but by the love we're not extending in the present.”
― Marianne Williamson —

Laas maand het gegaan oor ‘Die Pad terug na God’ en dit was ʼn wonderlike bedevaart van insig (waarheid) en uitsig (wysheid).

Hierdie maand gaan ons die reis verken hoe God óns vind as ons gesels oor — Die Pad terug na die Hart.

Die eerste tree na volwassenheid bring ons voor ʼn keuse: ons moet besluit WIE en WAT ons IS.

Jou loopbaan, vriendskappe, huwelik, jou ouerskap, godsdiens, is nie die antwoord op hierdie vraag nie.

Wat ek hiermee bedoel, is dit — baie mense antwoord hierdie vraag deur te sê: ek is ʼn pa of ma; ʼn onderwyser of dokter of huisvrou; ek is ʼn Christen of agnostikus; of ek is ʼn wit of ʼn swart of ʼn bruin. Nie een van hierdie ‘ek is …’-verklarings antwoord die vraag oor jou ‘Ware Self’ nie.

Vir Carl Gustav Jung is die ‘Ware Self’ daardie Goue Draad (God self) wat dwarsdeur jou lewe loop. Maak nie saak of jy man of vrou, wat jou werk of geloof, jou adres of kultuur is nie — die Goue Draad is in en deur jou geweef.

Die Ware Self vra: is ek meer...? Meer liefdevol, meer omgee, meer tolerant, meer begrip, meer menslik, meer deernisvol, meer oop-hart?

Dit gaan nie oor ‘goed’ of ‘sleg’, ‘reg’ of ‘verkeerd’ nie, maar of my Ware Self ʼn refleksie is van hierdie Goue Draad.

In die Evangelie van Johannes lees ons die sewe “Ek is …”-uitsprake van Jesus —

  • “Ek is die brood van die lewe” — Johannes 6:35
  • “Ek is die lig vir die wêreld” — Johannes 8:12
  • “Ek is die deur” — Johannes 10:9
  • “Ek is die goeie herder” — Johannes 10:11
  • “Ek is die opstanding en die lewe” — Johannes 11:25
  • “Ek is die weg, die waarheid, en die lewe” — Johannes 14:6
  • “Ek is die wingerdstok” — Johannes 15:5

Al sewe hierdie uitsprake is ʼn manifestasie van sy Ware Self. Al sewe is ʼn refleksie van die LIEFDE wat in en deur hom klop.

LIEFDE is ons 'Ware Self' … daarom sê Jesus —

“Dit is my doelstelling (Gr: ἐντολή – focus on the end result), dat julle mekaar sal liefhê soos ek julle liefgehad het.” — Johannes 15:12

Hoe anders kan ons die brood, lig, deur, herder, opstanding, weg, waarheid, lewe, of wingerdstok vir die wêreld word waarin ons leef?

Wie nog dink dat Jesus se uitsprake eksklusief is en dat hy net van homself praat, verstaan gewoon nie wat die betekenis van ons Ware Self is nie.

Ons hoor hom nie as hy sê, “JULLE is die lig vir die wêreld …” (Matteus 5:14) en “… julle sal die dinge doen wat ek gedoen het, en selfs nog groter dinge.” (Johannes 14:12) nie. Nee, ek is nie Jesus nie, maar in Christus herken, erken, ken ons God.

Dit lyk vir my, en ek kan myself vergis, dat ons broer Gustav Jung sy spirituele psigoterapie vestig op die leer en lewe, inhoud en betekenis van Jesus.

Die keuse lyk vir my eenvoudig —

ÓF ons is net ʼn fisiese wese wat been, bloed, en brein is. ʼn Biologiese samestelling as gevolg van selle, spoeg, en semen wat moet eet om te oorleef en moet teel om voort te leef, met min indien enige invloed op die lewe in die algemeen en my lewe spesifiek.

So word geglo dat ons bloot reageer op kondisies en omstandighede met weinig invloed om ʼn betekenisvolle lewe te skep wat nie net afhang van mý talente en vermoëns, mý intelligensie en geluk (good fortune) nie.

As ek myself sien as bloot ʼn fisiologiese kreatuur dan pendel die lewe tussen aksies en reaksies wat beheer word deur omgewing en opvoeding, gewoontes en omstandighede, voorafgaande data en instink.

Hierdie keuse sê dat ons hier (op dié planeet) is vir geen ander rede behalwe as ʼn uitdrukking van jou persoonlikheid en prestasies, besittings en sukses, plek en invloed in die samelewing, binne ʼn sekere lewenstyl en -standaard nie.

ʼn Alternatiewe keuse is dat ek myself sien as ʼn spirituele wese wat manifesteer in ʼn fisiese vorm.

In hierdie domein is daar ʼn diep wete, ʼn deurleefde ervaring, ʼn sensitiewe bewussyn wat nie met verstand, rede of intellek verklaar kan word nie. Elke definisie of verduideliking is klaaglik arm as dit kom by spirituele begrippe soos o.a. liefde en vreugde.

Die brein het géén inhoudsruimte om die liefde wat jy het vir jou vrou of kind te verklaar nie. Die brein het ook géén kapasiteit om begrip te gee aan ʼn vreugde wat nie afhang van omstandighede nie. Uit watter fakulteit van die brein kom vergiffenis vir ʼn moordenaar of barmhartigheid teenoor iemand wat niks vir jou kan doen nie?

Spiritualiteit beteken tog ʼn erkenning van ʼn verhouding tussen my en dit wat ek ervaar as God; ʼn verhouding tussen jou en my wat ongeag, nieteenstaande, desondanks ons agtergrond en verskille betekenis het; en ʼn verhouding met myself waar ek kan onderskei tussen wat is sinvol en wat is onsin.

Ons verwar spiritualiteit met godsdienstigheid en die meeste teoloë sal vir jou sê dat spiritualiteit vloei uit teologie, maar dis juis net mooi andersom. My religie (teologie) is net ʼn demonstrasie van my spiritualiteit.

Spiritualiteit is die gravitasie tussen jou en die Goddelike wat reflekteer in alles wat IS. Ons kan gravitasie ontken soveel as wat ons wil, maar dit maak dit nie minder werklik (waar) nie.

Ons noem hierdie gravitasie, LIEFDE.

Kom ons gesels hierdie maand oor hoe die LIEFDE ons vind.

Die pad terug na die hart.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

"There's a Light that shines
beyond all things on earth,
beyond us all,
beyond the heavens,
beyond the highest,
the very highest heavens.
That is the Light
that shines in our heart."

― Upanishads 

 

Neo-Spektrum Byeenkomste

Elke Sondag om 10:00
Kolping Kapel
7 Biccard Straat
Durbanville

Die eerste 50 wat kom
kry 'n sitplek

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights