Vir ʼn tweede keer sit ek en kyk na die formidabele reeks van Morgan Freeman op NETFLIX getiteld, ‘GOD’ en ek hoor hom die vraag oor wie God is, opsom deur te sê, “God is so many things to so many people — the warm light of the sun; the sound of sweet music; an inner voice that drives us forward; a friend. If you ask me who God is, I would say there is a bit of the Divine in all of us. The God in you — the God in me. The God in me is who I really am in my core. The God in me is the best version of what I can be. The God in me is who I strive to be … who I was meant to be.”
'Hoe ervaar ʼn mens die ‘awesome’ krag van God se liefde?' — wanneer jy daarvoor vra, oop is daarvoor, dit toelaat om in en deur jou te vloei ... regtig oop is, sonder reservasie. Hier is die waar van waarheid en die juis van juistheid — God se liefde is sonder voorwaardes of verwagtinge ... dit word vrylik gegee sodat dit ons vrymaak om lief te hê sonder verpligtinge of vereistes.
Te veel, te lank het ons liefde gekom met 'tit for tat' want die ego se weergawe van liefde is om net lief te hê as jy MÝ lief het, net liefde gee as jy dit eers vir MÝ gee, en dit dan weeg sodat ek nie ʼn titsel meer gee as wat ontvang is nie.
“O Heer, red my van myself!”
Waar kom ons aan die idee dat God se liefde is ‘eksklusief’ of sit jy nog geboei aan ʼn tribal religion van die Ou Testament? Nog nooit verstaan wat beteken, “Want so lief het God die WÊRELD gehad ...” of vir ʼn oomblik dink wat sou dit beteken dat Jesus die liefde van God wys vir bedrieglike tollenaars en skynheilige Fariseërs, vir elkeen wat volgens die tempel nie ingesluit is by die liefde van God nie — Samaritane, prostitute, blindes, kreupeles, melaatses ...?
Sal dit nóg ʼn 2000 jaar vat voor ons die ewige waarheid snap dat die liefde van God is onvoorwaardelik en dat ons NIKS kan doen om ʼn jota of tittel by te voeg of weg te vat van die liefde van God nie. Al wat gebeur as ons voortploeter op die ritme en gekerm van die ego, is die feit dat ons bogenoemde waarheid vergeet — maar selfs al sou ons dit versuim of vergeet, kan ons dit nie verminder of verloor nie.
God gee nie op nie. God gooi nie ʼn tantrum as hy nie kry wat hy wil hê nie. God het nie ons liefde nodig om LIEF TE HÊ nie. God is LIEFDE en die LIEFDE van God is oorvol, oorloop, oorgenoeg van alle eeue tot verby die einde van tyd. Goeie genugtig — hoeveel millennia gaan dit vat voor die mens uit sy selfgeregtigheid ontsnap dat God se liefde is nie net vir Christene ... en net vir ʼn sekere groep binne die Christendom ... en dan in besonder vir ʼn handjievol binne die kringetjie nie?
Vir hoe lank nog gaan ons onsself die reg toeëien om namens God te besluit wie God se liefde verdien en dit dan parfumeer met teologiese fiksasies, of luister na dominees se ydele gebruik van die woord “skrifgesag” om daarmee god te speel op die puinhoop van hul eie disfunksionaliteit asof die kosmos in die algemeen en dié planeet in besonder ʼn sopie langer omgee om vir die kerk te wag om die liefde van God te manifesteer — of voel jy dit maak God minder God as God se liefde alles en almal, altyd insluit? Maak dit Jesus minder Jesus as hy meng met almal wat nooit ons toelatingseksamen sal slaag van wie die liefde van God 'verdien' nie?
Ek is geleer dat God is toeganklik, welwillend, onselfsugtig. God is ons inspirasie en motivering, ons krag ... my liefde, my muse, my vlam. Ek glo in ʼn God wat in my glo. My liefde vir dié God wat my liefhet desondanks, nieteenstaande, ten spyte van al my geite, nukke, eienaardighede, doel-mis, en kluts-kwyt. Laat ek dit weer nog ʼn keer uitroep: die liefde van God is ALLESINSLUITEND!
“Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug?
Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom?
Klim ek op na die hemel, is U daar,
gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar.
Vlieg ek na die ooste,
of gaan woon ek in die verre weste,
ook daar lei u hand my,
hou u regterhand my vas.
Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek,
of die lig rondom my om in nag te verander,
maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie
en die nag so lig soos die dag,
duisternis so goed soos lig.”
— Psalm 139:7-12
Dít is waaroor hierdie maand se gesprek gaan as ons praat oor — DIE LIEFDE VAN GOD — en hierdie liefde is onvoorwaardelik. My 'sonde' maak dat ek dit vergeet maar verloor kan ek dit nooit verloor nie, minder kan ek dit nooit verminder nie!
Kom ons gesels eerskomende Sondag oor die gelykenis (i) van die goeie herder (Johannes 10:1-5, 11-18), (ii) die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:25-37), (iii) en die pêrel van onskatbare waarde (Matteus 13:45-46).
Mag die res van hierdie week in elke opsig vir jou ʼn herinnering wees van die liefde van God.
Soos altyd
Terblanche
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Hierdie week se liturgie: 16 Junie 2019
.