Dit is die jaar 303 na Christus -- ʼn jong Romeinse offisier, van Griekse herkoms, met die naam Georgius, word tereggestel voor die stadsmuur van Nicodemia omrede hy geweier het om sy Christen geloof te verloën. In die annale van die Christen geskiedenis staan hy bekend as George the Martyr en in volkslegende staan hy bekend as George the Dragon Slayer — die naam van die swaard waarmee hy die draak verslaan het, is Ascalon wat ook die naam van Winston Churchill se vliegtuig was, terwyl St George ook die patron saint van die Swede is.
Gister sit ek in die St George Cathedral in die middestad van Kaapstad wat benoem is na die einste Georgius wat in 303 sy lewe gegee het vir sy Christen geloof. Ek steeks ʼn kersie op om dankie te sê, en gaan sit vir ʼn oomblik in die stilte met my oë gesluit in ʼn dankgebed vir 8 jaar toe ek op ʼn aanvoelbare en deurleefde manier my eie sterflikheid in die gesig moes staar. In my gedagtes is die woorde van Paulus aan die gemeente van Korinte, “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?” (1 Kor 15:55) wat nie koggelend of tergend bedoel word, ook nie onbewus dat ons fisiese dood ʼn harde realiteit is nie, maar die verligting en verademing dat ons Lewe in God in der ewigheid nooit sal sterf nie. Niks en niemand kan ons Spirituele Naelstring knip nie. As 18 September enige ander betekenis in my lewe het dan is dit die voorafgaande sin waar Paulus sê, “Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”
So word ons tema vir die maand — DIE LEWE VOOR DIE DOOD — ʼn hallelujah, ʼn loflied, ʼn credo, ʼn dankgebed! Ek leef nie vir ʼn ‘lewe’ ná die dood nie, ek leef in hierdie lewe met al sy valleie en bergtoppe ... vir elke oewer en waterval. Ek leef met die skerp rotspunte van stroomversnellings maar ook vir elke rivierklip se wip-wip oor my rug. Nie langer geboë onder die basiese instink van oorlewing en selfbehoud nie maar in en deur Christus bevry tot ʼn lewe wat keer op keer opstaan uit die dood. Niks te doen met dié vorm (liggaam) se kringloop tussen verval en verganklikheid nie maar alles te doen met die siel se ewigdurende siklus van vernuwing en verandering.
Vir die loopbaan wat my gekies het, is 8 jaar terug se gebeure ʼn keerpunt gewees om ander te begelei op hul pad om mortaliteit te bevriend en die skaduwee van ‘dood’ te verlig met ʼn nuwe verstaan wat die inhoud en betekenis van LEWE werklik is. Dat dit gaan oor ʼn baie groter en dieper gebeurtenis wat ons nie altyd ten volle begryp nie — wat lyk soos ʼn einde, is eintlik ʼn nuwe begin ... wat voel soos dood, is in werklikheid ʼn geboorte ... wat klink soos verloor, is eintlik ʼn oorwinning. Op 18 September 2010 het my muur ʼn opening gekry ... ʼn poort wat nooit gesluit kan word nie!
Die spirituele betekenis van ʼn hart met omlynings, kan nie in woorde omvat word nie: ʼn hart wat KLOP, is ʼn hart wat OOP is, is ʼn hart wat VOEL, is ʼn hart wat WEET dat elke klop is LEWE. Nie net mý hart nie maar ook joune waar jy nou sit en lees. Dat die hart nie net bloed nie maar LEWE (i.e God) in en deur ons totale verstaanswerklikheid pomp. Raak ek soms nog verstrengel in die gehakketak van elke dag se roetine? Verseker! Raak ek soms nog verdwaal as die 'onbekende' sy landkaart voor my oopvou? Verseker! Maar die (nuwe) hoop beskaam nie en het ʼn brug geword tussen my geloof en liefde.
Daar is ʼn diep erkentlikheid en nederigheid in ons wandeling met God wat gepaardgaan met ʼn hele nuwe bewus-wees (awareness), ʼn dapper bereidwilligheid om te gaan waar ek voorheen weggeskram het om te gaan. Henri Nouwen (wie se dood ons eerskomende Vrydag herdenk) som dit die beste op in sy boek ‘Beyond the Mirror’ na ʼn motorongeluk waar sy lewe aan ʼn draadjie gehang het as hy sê, “The hour of death, has revealed more true spiritual freedom than I had been able to reveal during all my years of my life. I realised on a very deep level that dying is the most important act of living. It involves a choice to bind others with guilt or to set them free with gratitude.”
Die vorige drie weke het ons gesels oor lewenslesse wat gaan oor ons intellektuele en emosionele welstand en eerskomende Sondag gaan ons stilstaan by die lesse vir ʼn gesonde en gebalanseerde spirituele lewe wat sin en betekenis gee in DIE LEWE VOOR ONS (FISIESE) DOOD.
Daarom nooi ek jou van harte uit om Sondag by ons aan te sluit vir ʼn uur se gesprek oor Om My Hart Te Voel Klop ...wie weet, miskien is hierdie Lente jou Renaissance (wedergeboorte). Meer as ooit is dit tyd om op die Lente-Klop te reageer en oop te maak. Die wêreld smag na ʼn tuin wat blom!
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“Life is eternal, and love is immortal,
life is eternal, and love is immortal,
and death is only a horizon;
and a horizon is nothing
but the limit of our sight."
― Rossiter Worthington Raymond ―
A COURSE IN MIRACLES
— Kolping: 8 November @ 19h30 --
— Stad: 24 September @ 19h30 --
Lessons 122-125
[Lees asseblief elke dag 'n stukkie uit ACIM]
Besoek ons Facebook
Vir aanwysings om by ons uit te kom, druk hier