LITURGIE: 16_september_2018
Ons is op reis met die tema — DIE LEWE VOOR DIE DOOD -- wat saamval met die seisoen van Lente wat altyd ʼn herinnering is van Nuwe Lewe. Soos reeds genoem, is dit die seisoen van herlewing, die gety van transformasie, ʼn kans om opnuut te begin, ʼn geleentheid om te groei en vrug te dra. Daarmee saam is Lente ʼn seisoen van spirituele, emosionele, en intellektuele renovasie, restourasie, en rehabilitasie ... want die ritme van die natuur is ook ons ritme. Met geduld en deursettingsvermoë beur ons deur die winter en dan breek die bloeisels deur vir ʼn seisoen van transformasie. Elke einde is ʼn weer-begin. Wat ons dink is dood, is die eerste spriet van ʼn wedergeboorte. Vir iemand in die Noordelike Halfrond is dit die eb van Herfs en vir ons is dit die vloed van Lente.
Laas Sondag het ons onder andere gesels oor Mindfulness & Meaningfulness — die Hebreeuse woord vir mindfulness is ‘shimat leb’ wat beteken: om met die hart te luister, en meaningfulness gaan oor die interkonneksie en interafhanklikheid wat daar tussen ALLES en ALMAL is. Soos skoenlappers breek ons deur die spleet in die kokon en sprei ons vlerke vir ʼn nuwe verstaan wat dit beteken om te glo dat ons lewe in dié Lewe gevleg is en dan met sekerheid bely: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Romeine 8:38-39)
Dit is waaroor Lente gaan vir elkeen wat getuig van ʼn deurleefde verhouding met God, hoe jy ook al ‘God’ ervaar en betekenis gee in jou lewe. Daarom verwys ons ook na Lente as die seisoen van ‘vervulling’ waarin die rykdom van liefde, vreugde, vrede en geduld oorloop met oorgenoeg oorvloed van vriendelikheid, goedheid, en getrouheid sodat ons die vrugte sal pluk van nederigheid en selfbeheersing. Wie is nie oorweldig deur die groen op ons landerye nie; wie stop en kyk nie na die sneeu op die bergtoppe nie; wie is daar nie wat die vrugbaarheid van die grond ruik en die klam seelug toelaat om deur ons hare te waai nie ...? Die skoonheid van ons Kaapse landskap wat ontvou voor ons oë en ons betower met die kleur in die bome. Die tuine wat ten spyte van die na-winter reeds in blom staan onder die koepel van blou wat geen skildery of foto vas kan vang nie.
Laat my dink aan die woorde van die Psalmis --
U sorg vir die land en gee oorvloed,
U maak dit baie vrugbaar.
Die groot riviere is vol water,
U laat die koring welig staan.
Alles is u werk!
U maak die ploegvore vol water en die kluite nat,
U laat hulle sag word van die reëns,
U laat alles welig groei.
U kroon die jaar met u goeie gawes.
Waar u ook gaan, is daar oorvloed!
Daar is volop weiding in die woestyn;
die bulte juig,
die velde wemel van die kleinvee,
die vlaktes staan vol koring;
hulle juig en hulle sing.
(Psalm 65:10-14)
Kom ons verken Sondag nog ʼn paar aspekte van ʼn sinvolle lewe (voor die dood). Kom ons gesels oor (i) die waarde van stilte en afsondering, (ii) let op jou asem, (iii) eet met intensie, (iv) vat ʼn breek van ‘skerms’, (v) luister!, (vi) laat jou voete die grond raak, en (vii) ‘mind the gaps’ ... êrens het iemand gesê, “There is no such thing as a mundane moment. Only mundane states of mind.” Sien uit om Sondag vir ʼn uur in die Stilte en Teenwoordigheid van ons Sirkel dankie te sê vir my ‘agt-jaar-later’ — want 18 September 2010 is my tweede geboortedag.
GEDAGTE VIR DIE WEEK
“I cannot change the world
but I can change the way I think about the world,
and when I change the way I think about the world,
suddenly the world changes.”
― A Course in Miracles ―
A COURSE IN MIRACLES
— Kolping: 13 September @ 19h30 --
— Stad: 17 September @ 19h30 --
Lessons 122-125
[Lees asseblief elke dag 'n stukkie uit ACIM]