LITURGIE: 8_april_2018
Na afgelope Sondag se ‘CELEBRATION OF LIFE’ met brood en wyn en ʼn gesprek oor TRANSFORMASIE, vat ʼn pad my na Misty Cliffs. ʼn Klein strandjie tussen Kommetjie en Scarborough wat die plek is waar ek tot in ewigheid sal rus omdat dit my wens is dat my ‘stof’ eendag daar in ʼn rots gemessel moet word as ek my asem teruggegee het aan die Asem waar ek vandaan kom. Wat begin het met ʼn sonsopkoms oor die Hottentots-Holland berge eindig met ʼn Sonsondergang by Oudekraal. ʼn Dag van genoeglikheid, dankbaarheid ... en ʼn hart wat milddadig oorloop van seëninge.
Later die aand gee ek die dag woorde in my dagboek en plak ʼn kiekie om te onthou en dis toe dat ek besef — om ʼn sekere ervaring te hê en dan ʼn verduideliking van daardie ervaring te gee, is nie dieselfde ding nie. Met ander woord, the experience and explanation of the experience is not the same thing. Miskien het jy dit ook al ervaar dat jy op vakansie was en na die tyd vir ander vertel waar jy was en wat jy gedoen het en net nie woorde vind om dit te beskryf sonder om plat te klink nie. Of die ervaring ʼn uitbundige ekstase of ʼn hartseer was, om dit te verduidelik is twee keer verwyder van wat oorspronklik ervaar is. Stel jou voor jy begin praat oor jou hart, jou gevoelens, emosies, aspirasies, inspirasies, en geloof ... en skielik word ʼn verduideliking drie keer verder van wat werklik in jou gedagtes lê.
Die Jakkals is reg as hy vir die Klein Prinsie sê, “Woorde is die begin van alle misverstand!” en later tot die konklusie kom, “Hier is my geheim, ʼn baie eenvoudig geheim: dit is net met die hart wat ʼn mens regtig kan sien; wat belangrik is, is onsigbaar vir die oog.”
Reeds in die eerste gemeente waar ek gewerk het in Jeppestown (Johannesburg) het ek besef: die vrae wat die kerk probeer antwoord, word nie meer gevra nie. Toe reeds het ek geweet dat ons dogmatiese fiksasies en lomp religieuse strukture diep gaan moet delf om enige relevansie te behou. Drie dekades later en in die Sirkel van Neo-Spektrum weet ek meer as ooit, dat daar ʼn radikale, fundamentele spirituele reformasie gaan moet plaasvind om aan die Christendom ʼn geloofwaardige stem te gee. Daar gaan nuut gedink moet word om ʼn gesofistikeerde, moderne lewens-, mens- en Godsbeskouing te vestig wat vir ons kinders en hul kinders ʼn fondasie sal gee om hul Christelike Spiritualiteit te beoefen.
Dit was die Franse filosoof, Blaise Pascal wat gesê het, “The heart has its reasons which reason knows nothing of …”— wat beteken, die hart weet sekere goed en verstaan dinge soms baie beter as die verstand. Miskien het dit by my as klein seuntjie begin, of miskien was dit ʼn traumatiese skoolloopbaan of dalk die letsels van ʼn Teologiese fakulteit maar ek moes vroeg in my lewe leer om na my hart te luister. Die hart het ʼn ander manier om na die waarheid kyk. Dikwels, en soms meer as dikwels, het dit my in die moeilikheid laat beland want ek het my hart gevolg en selde my gesonde verstand. Na 2010 sou die betekenis van hart ʼn hele ander dimensie aanneem. Meer as ooit sal ek my oor hou op die spirituele stetoskoop. My bediening, in die volle kring daarvan tot waar dit gekom het by Neo-Spektrum is nog altyd: om ʼn veilige ruimte te skep vir hulle wat nie meer tuis voel in georganiseerde kerke nie asook vir hulle wat hul geloof gekompartementaliseer het tot iets vir doop, dood, en nood. Dit vra ʼn moedige, dapper hart om die sekuriteitsheinings van georganiseerde godsdiens oor te steek en dit te waag om jou eie waarheid te definieer. And we can do with a few more Bravehearts, can’t we?
Kom saam op reis in April as ons ons hart open vir ʼn nuwe manier van dink oor God, Jesus, Heilige Gees, erfsonde, lewe-na-die-dood, die duiwel, hemel-en-hel, en wat dit beteken om Christen te wees in die 21ste eeu.
LIFE IS A JOURNEY — kom ons vat die pad na ʼn nuwe ervaring waarin God sigbaar is ... in ons eet, ons lag, ons kleur ons storie in, ons rus op iemand se skoot, ons kronkelpad en strandstap met voete in die water om te onthou ons is soos ʼn golf onlosmaaklik deel van die Oseaan, ons tol betaal, ons nuwe lied saamsing, ons stop vir stilte om die son te sien groet, ons knipoog vir die volmaan ... want liefde neem ʼn duisend, nee tienduisend vorme aan ...
Kom saam om ʼn paar vrae te verken oor wat dit beteken as ons praat oor God en onsself Christene noem wat dié Liefde in ons liefde ervaar sonder om te moet verdedig of verduidelik. Kom ons maak die ‘reis’ die bestemming. Let the journey bring us to a new understanding, a new awareness of what it means to be a beloved of God. Die laaste woord behoort aan die teoloog, John Shelby Spong en daarmee berus ek vir die maand se gesprek wat voorlê — “I am not willing to abandon the Christ experience, which I still find real, simply because the words traditionally used to describe that experience no longer translate meaningfully into the language of our day. I am willing to sacrifice all claims to possessing a literal Bible, literal creeds or historical liturgies in the Christianity that I seek to create, but I am not willing to sacrifice my conviction that there is something real that draws me beyond myself, which I call “God.”
🌺 ACIM — Stad 19h30: 9 April — en Kolping 19h30: 19 April — Lessons 51-61 (which is a REVIEW on everything we’ve been reading the last 3 years!)
Gedagte vir die Week:
“Not all those who wander are lost.” ― J.R.R. Tolkien, ‘The Fellowship of the Ring’