“Let your hopes, not your failures, shape your future.”
― Robert H. Schuller —
Tradisioneel is dit daardie tyd van die jaar wat opsy gesit word vir vakansie en tyd met vriende en familie. Dit is ook ʼn tyd vir besinning, introspeksie en spirituele refleksie.
Ons kyk terug na ʼn jaar wat verby is en pak die mooiste en beste wat geleer en ontvang is in ons knapsak vir ons reis in die nuwe jaar.
Ons vat bestekopname van alles wat emosionele, intellektuele, en spirituele waarde toegevoeg het tot ons lewe.
Dit is ook van pas om êrens voor dié jaar verby is, stil te word met ʼn DANKIE uit die hart wat oorloop van dankbaarheid en waardering.
Dankbaar vir ʼn jaar waar ons die seëninge van God gesien het wat die hele tyd daar en hier, in en om ons is. Seëninge wat nie afhang van wie of wat ons is nie — allermins ook nie wat ons gedoen of nie gedoen het nie, maar gesien en ervaar word as ons aandagtig en bewustelik leef.
Vir die sowat 2.6 biljoen Christene in die wêreld word die ‘geboorte van Jesus’ gevier op 25 Desember wat deur Konstantyn in 336AD besluit is.
Wat maak hierdie datum so merkwaardig?
Goeie Vrydag word bepaal deur die MAAN en Kersfees deur die SON. In die Noordelike Halfrond is die Wintersonstilstand (Winter Solstice) op 21 Desember. Vir drie dae en drie nagte lyk dit of die son stilstaan en dan op die derde dag ‘staan die son op uit die dood’ en stadig maar seker kom hy terug om Lente vir die Noordelike Halfrond te bring.
In feitlik al die antieke godsdienste was 25 Desember die geboortedag van hul gode. Klaarblyklik het Konstantyn geen moeite gehad om dié datum ook te reserveer as die geboortedag van Jesus nie omrede die Christendom die amptelike godsdiens van die Romeinse Ryk geword het.
Dit is egter nie die geskiedenis van die datum wat vir Christene belangrik is nie maar die betekenis daarvan. In die ‘geboorte van Jesus’ vier Christene hul ‘wedergeboorte’ (birth and rebirth) — dit is die seisoen van hernuwing, transformasie, en HOOP wat ook ons tema vir dié maand is.
‘WIE IS JESUS?’ is ʼn komplekse vraag in die Christologie, wat lei tot drie verdere vrae: wie was hy as persoon; wat het hy gedoen; en hoe raak dit ons vandag?
Deur die geskiedenis is mense wreed vervolg en vermoor wat ʼn antwoord durf gee het wat nie in lyn was met die ‘dogma’ van die tyd nie.
Meer as 2000 jaar later is dit steeds die vraag: was hy mens; was hy God (al het hy dit self nooit gesê of geleer nie behalwe om te sê, “Ek en my Vader is een”); wat het hom gemotiveer en geïnspireer; wat was sy drome, hoop, en aspirasie?
Antwoorde op hierdie vrae is so uiteenlopend as die tyd, plek, en omstandighede van ʼn bepaalde denominasie binne ʼn bepaalde era van die geskiedenis.
Dit is duidelik uit moderne Bybelkunde dat die Evangelie-skrywers nie ʼn outobiografie oor Jesus se lewe probeer skryf het nie maar ʼn interpretasie van wat Jesus se leer en lewe vir elkeen van hulle beteken het.
Kom ons kyk na Jesus se geboorte en lees tot die einde as dit nie sin maak nie —
Dit is egter onnodig om in ʼn debat betrokke te raak oor die wie, wat, waar, en wanneer van Jesus se geboorte. Waaroor dit gaan, vir my, is die inhoud en betekenis van Jesus se lewe.
Anders as die res van ons was hy nie egosentries nie. Hy was voortdurend oop om die behoeftes van ander raak te sien, en mense (ALLE mense) onbaatsugtig lief te hê. Elke aksies en reaksie was geïnspireer deur bewus te wees van die Teenwoordigheid van God. Vir hom was daar geen verwydering tussen hom en God nie en gevolglik het hy nooit getwyfel oor die sin van die lewe in die algemeen, en die betekenis van sy lewe spesifiek nie.
Die ‘groot misterie’ van Jesus gaan volgens my nie oor ‘maagdelike geboorte, wonderwerke, of versoeking’ nie maar eerder hoe, en deur watter KRAG hy in staat was om deur die heinings van mensgemaakte wette en grense te breek? Hoe is dit dat hy in sy laaste ure nie soos die res van ons gekies het vir veiligheid en oorlewing nie maar sy kruis opneem en deur dit te doen sy belofte gestand doen toe hy gesê het, “ek het gekom om vir julle LEWE te gee en sodat jul dit in oorvloed mag hê!” (Joh 10:10)
Ons gaan Sondag vir ʼn oomblik stilstaan by net een vraag: Wie is Jesus vir jou?
Die vraag is nie wat jy geleer is in Sondagskool of hoeveel Bybelversies jy kan opsê nie maar WAT is die invloed van hierdie Rabbi op jou lewe en HOE beïnvloed dit jou om volwaardig Mens en Christen genoem te word?
Kersfees gaan oor die verstaan dat wat ons in ons lewe ervaar, is ontmoetings met ‘a Transcendent Presence’ (soos Richard Rohr dit noem) wat ons uit ons selfgesentreerdheid lei.
Kersfees gaan oor die liefde waarmee ons vir mekaar geskenke gee om daarmee die ‘Goue Reël’ (doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê) in ons intensies, gedagtes, wil, aksies, en ervarings te weef.
Kersfees is nie 'n dag nie — but a way of life!
Mag dit daarom vir jou en jou geliefdes ʼn geseënde Kersfees wees.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.