Die Hoop Beskaam Nie III

“Hope is the thing with feathers
That perches in the soul
And sings the tune without words
And never stops at all.”
― Emily Dickinson —

Ons tema vir die maand is: DIE HOOP BESKAAM NIE. Die Joodse verstaan van HOOP is ‘om te kan wag met ʼn doel’ — die antisipasie van wat goed en mooi en reg is.

Die eindelose moontlikhede en potensiaal van HOOP wat selfvertroue, geduld, volharding, en deursettingsvermoë kweek.

Hoop is om okay te wees selfs al is jy nie okay nie.

Laas week het gegaan oor die twee vlerke van HOOP — die een is GELOOF en die ander is LIEFDE. Sonder geloof en liefde verdamp hoop.

Geloof het niks te doen met jou godsdienstigheid nie. Geloof is ook nie iets waarop Christene alleenreg het nie.

Geloof is die gravitasie in elke verhouding, byname die verhouding tussen my en wat ek ervaar en beskryf as GOD. Dit is ʼn aangetrokkenheid wat (soos hoop en liefde) berus op vertroue, verstaan, moed, en getrouheid ongeag die omstandighede.

In my beskeie ervaring is daar niks wat HOOP so voed en geanker hou soos LIEFDE nie. Elke keer wat die liefde ons oorrompel, sien ons hoe HOOP floreer!

Liefde gee insig en perspektief. Dit bring verandering in ons aksies en reaksies. Daar is groter waardering en dankbaarheid. Dit bemagtig ons om wat ook al ons HOOP versmoor, te laat gaan.

Sonder geloof en liefde is HOOP broos en weerloos, gewoonlik kortstondig en maklik beïnvloedbaar deur situasies — of, miskien was ek net nog nooit in staat om HOOP te hengel sonder geloof en liefde nie.

In die mallemeule van die lewe word ons daagliks voor ʼn keuse gestel of ons HOOP gaan kweek en koester of hoop gaan opgee.

Ons staan in die oggend op met die opregte voorneme om vandag ʼn goeie en betekenisvolle dag te maak. Dit vat net één Whatsapp, één oproep, één vonkpos en skielik is ons hoop op die puinhoop van onsekerheid.

Jy beplan en sien só uit na ʼn vakansie. Die dag voor die tyd begin jou keel krap en teen dag drie van jou vakansie is jy in die bed met antibiotika.

Vir maande lank word jou troue beplan. Alles verloop presies soos jy dit wil hê maar op die dag sak 'n donderbui los en in 'n oogwink moet almal onderdak skarrel. Die tafels reën nat en die troue vind plaas onder sambrele en met maskara op jou skoene.

Met ʼn oop hart en hande hou ons vas aan ons spirituele HOOP, net om daagliks gekonfronteer te word met die realiteit van beurtkrag, korrupsie, geweld, en onvoorstelbare armoede. Keer op keer hoor ons onsself prewel, “waar sal ons hoop vandaan kom?”

Tydens die Twee Wêreldoorlog was daar ʼn jong Joodse meisie met die naam Anna Frank wat op 15 Julie 1944 in haar dagboek skryf:

“It’s really a wonder that I haven’t dropped all my ideals because they seem so absurd and impossible to carry out. Yet, I keep them, because in spite of everything I still believe that people are really good at heart. I simply can’t build up my hopes on a foundation consisting of confusion, misery, and death. I see the world gradually being turned into a wilderness, I hear the ever-approaching thunder, which will destroy us too, I can feel the sufferings of millions and yet, if I look up into the heavens, I think that it will all come right, that this cruelty too will end, and that peace and tranquillity will return again.”

Minder as drie weke later sou sy en die mense wat saam haar weggesteek is in Amsterdam gevind en gestuur word na ʼn konsentrasiekamp in Duitsland. Sy was 16 toe sy gesterf het.

Hoe is dit moontlik dat iemand wat in lewensgevaar verkeer, steeds gevul is met HOOP? Dink aan Viktor Frankl en Dietrich Bonhoeffer se briewe uit konsentrasiekampe en hoe dit generasies inspireer om HOOP te kies bo wanhoop, vertroue te kies bo verlorenheid, en liefde bo vrees.

Dit kan tog nie wees dat ons wat alles het wat ons hart begeer — vryheid, versorging, vrede, en veiligheid — se hoop só swak en feilbaar is dat die geringste dingetjie ons laat twyfel of ons goed genoeg is, toekyk hoe iemand anders se opdrifsels ons beddings verspoel, of in sinisme verval want dinge het nie uitgewerk soos jy gehoop het dit sal doen nie.

Immanuel Kant (1724-1804) was ʼn Duitse filosoof wat in sy boek ‘Critique of Pure Reason’ drie lewensbelangrike vrae vra, “What can I know? What ought I to do? What may I hope?”

Hier is ʼn oefening wat jy kan doen om hierdie vrae te antwoord:

— gaan sit en skryf vyf goed neer wat jou grootste hoop en diepste vrese verwoord;

— nooi jou man / vrou om dit saam met jou te doen en gaan sit êrens waar julle dit met mekaar kan bespreek op 'n sagte en liefdevolle manier;

— jy kan dit ook met jou kinders, of kollegas en werknemers doen.

Jy sal verstom wees hoe een so gesprek die potensiaal van HOOP ontsluit, en jou in staat stel om anders te dink oor goed, en anders te reageer op dit wat gebeur.

Kom ons verken Sondag nog vyf maniere hoe om HOOP te laat vloei soos ʼn leivoor na ons tuin. Om HOOP te hoor roep soos kiewiete in die vlei. Om HOOP soos ʼn vuurhoutjie te trek wat net genoeg lig gee sodat ons een tree nader kan kom uit die donker tonnel.

Mag HOOP hierdie week jou glase vul en jou tafels dek. Mag dit die liggies aan jou kersfeesboom wees, en die reënboog na ʼn donderstorm.

Met liefde

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Your ears thirst for the sound of your heart's knowledge.”
―  Kahlil Gibran 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights