Die Hoop Beskaam Nie I

“Hope is able to find a way to go on when nothing else can even find a way in.”
― Caitlin Seida —

Hier is ons, die laaste maand van 2022 en ek probeer nog 2019 prosesseer. Die laaste drie jaar voel soos ʼn wasigheid in my geheue.

Wat het alles dié jaar gebeur? Hoe het dié jaar so vinnig verbygegaan?

Die afgelope jaar het verseker sy uitdagings gehad wat soms oorweldigend was. Daar was oomblikke van ekstase maar ook tye van spanning en onsekerheid.

Elke seisoen het sy eie prentjies geteken — daar was ʼn Somer van uitbundigheid en Herfs se laat gaan aan die dooie blare. Daar was ʼn Winter van hiberneer en net stil wees, en ʼn Lente se bontkleed van liefde en vreugde.

Die grootste les wat ek hierdie jaar geleer het, is dat ons nie veronderstel is om als alleen te wil doen nie en daar is niks dapper om te probeer voorgee dat alles okay is as dit nie is nie!

Verder het ek geleer dat ʼn mens net die sterre sien as dit donker is, maar die grootse geskenk van dié jaar is die deurleefde ervaring van wat HOOP beteken.

‘Hoop’ is ʼn begrip, waarde, gevoel wat só misverstaan word.

HOOP is nie ʼn verwagting dat als sal uitwerk soos ek wil hê dit moet uitwerk nie, en nog minder dat ek my sin sal kry met wat ook al my behoeftes is. Nee, HOOP is dat ek okay sal wees selfs al is ek nie okay nie.

Die Hebreeuse woorde vir ‘hoop’ gee ʼn mooi verduideliking van wat dit beteken:

  • Die eerste woord is: תִּקְוָה — tiqvah — cord (like a rope), longing, waiting, anticipation, aspiration
  • Dit kom van die woord: קָוָה — qavah — enduring, eagerly looking forward, expectancy, wait with purpose, confidence
  • Die ander woord vir ‘hoop’ is: יָחַל — yachal — to wait patiently, wait expectantly, to have hope

Die verstaan van HOOP in die Judaïsme is die vermoë ‘om te kan wag’ — iets wat ons as moderne mens totaal verloor het. Ons wag vir niks en jaag holderstebolder na wie weet waar. Ons staan in ʼn ry by die bank of apteek en raak iesegrimmig. Ons sit in die verkeer en raak ongeskik ongeduldig. Ons wil nie wag nie, alles moet NOU!

Drie mooi voorbeelde hiervan —

“Maar, die wat wag (qavah) op Adonai kry nuwe krag; hulle sal opvlieg met vlerke soos arende; hulle sal hardloop en nie moeg word nie; [en] hulle sal stap en nie uitgeput word nie.” — Jesaja 40:31

Party vertalings begin met “Die wat op die HERE hoop...”

“Want ek ken die gedagtes wat ek dink oor julle,’ verklaar Adonai, ‘gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om vir julle 'n toekoms te gee en hoop (tiqvah).” — Jeremia 29:11

Maar hoor wat sê die Psalmis —

“En nou, waarvoor wag (qavah) ek Adonai, my hoop (yachal) is in U.” — Psalm 39:7

Met ander woorde, “waarvoor qavah ek, my yachal is in U.”

In Afrikaans sê ons van ʼn vrou wat swanger is dat sy ‘verwag’ — dit is wat yachal beteken. Dit is om swanger te wees aan die potensiaal van eindelose moontlikhede. ʼn Vrou wat ‘verwag’ weet wat dit is om ‘te wag’ en dit wat in en deur haar gebeur toe te laat om sy volheid te bereik. Sy jaag dit nie aan nie al wens sy dikwels dat die ongemak en uitputting verby is.

DÍT IS HOOP!

Ons is almal daaraan skuldig dat ons sekere goed wil WEES maar ons wil nie deur die proses van WORD gaan nie. Ons wil suksesvol WEES maar nie hard werk om dit te WORD nie. Ons wil geliefd WEES onder vriende en familie maar nie daaraan werk om ʼn geliefde vriend te WORD nie.

We want to BE a great teacher, a good councillor, a great dad but very few want to put the effort and devotion into it to BECOME a great teacher, councillor, or dad.

Hope is waiting with a purpose!

My dierbare pa het my altyd daaraan herinner om vir mense “hoop te gee” — en nou dat hy nie meer hier is nie besef ek vir die eerste keer wat hy bedoel het: bemoedig en bemagtig mense met inspirasie om die HOOP in hulself te vind.

Paulus skryf aan die gemeente in Rome —

“ons verheug ons oor die verdrukking omdat ons weet verdrukking bring volharding (deursettingsvermoë) en volharding (gee) karakter en karakter (bring) hoop, en die hoop beskaam nie want die liefde van God is in ons harte uitgestort…” — Romeine 5:4-5

Daarom glo ek dat HOOP maak jou dapper en gee jou moed. HOOP ontsluit die vermoë om anderkant die horison te sien. HOOP bring selfvertroue en die kapasiteit om goed in konteks te sien met ʼn groter perspektief.

Dit is die maand waar die meeste mense ʼn welverdiende vakansie vat. Ons spandeer tyd met geliefdes en ons laat los aan alles wat die jaar swaar en seer was. Ons vier Kersfees en deel geskenke om daarmee te sê: hier is my liefde, ek het geen groter geskenk om te gee nie.

Laat HOOP jou môre en oormôre bepaal, en nie jou mislukkings en teleurstellings nie.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“They say a person needs just three things to be truly happy in this world: someone to love, something to do, and something to hope for.”

―  Tom Bodett 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights