Die Betekenis van die Opstanding II

Potgooi:

“Try not to resist the changes that come your way. Instead, let life live through you.”
— Rumi —

Paasfees gaan oor om te onthou wat 2000 jaar terug gebeur het, maar nog meer belangrik is om te besef wat die invloed daarvan op jou lewe is — NOU, hier, vandag.

Die ‘opstanding’ van Christus is nie ʼn eenmalige gebeurtenis in die verlede nie, maar ʼn uitnodiging om anders te reageer — om met meer vervulling en betekenis te leef, dieper en sonder voorwaardes lief te hê, en om ʼn groter perspektief te ontwikkel wat God in alles sal sien en ervaar.

Dink ek weer aan die woorde van Jesaja 43:19

“Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om uit te spruit. Kan julle dit nie besef nie? Selfs in die woestyn sal Ek 'n pad maak, in die wildernis riviere.”

As Christene glo ons Christus het ‘opgestaan’ uit die dood — nie ʼn resussitasie van ʼn liggaam nie, maar ʼn herlewing en hernuwing van die siel. Daarna sou mense sy teenwoordigheid as so ʼn tasbare werklikheid ervaar, dat die enigste manier om dit in woorde om te sit, was om te praat van ‘anastasis’ — opwekking uit die dood (i.e. geestelike wedergeboorte, en transformasie).

In die Joodse geloof en mistiek, is dit duidelik dat iets hoef nie letterlik te wees om waar te wees nie. WAARHEID is veel dieper, groter, en betekenisvol as wat woorde en dogma dit ooit kan vervat.

“The resurrection of Jesus was not a return to his former life. It was a transformation—a new way of being, recognised by few, understood by fewer. The disciples did not find Jesus in the tomb; they found him in a garden, in a stranger on the road, in the breaking of bread.” — Nadia Bolz-Weber

Die emosionele en spirituele implikasie is dat dit ons vorentoe roep, nie agter toe nie. Dit nooi ons om wat nuut is te omarm — selfs as dit onseker of ongemaklik voel.

By die werk, in ons gesinne en huwelik is dit om hoe jy was en altyd reageer het te laat gaan om plek te maak vir ʼn nuwe, ander, beter weergawe van jouself.

Vra jouself hierdie Paasfees: is daar plek in jou lewe vir iets nuut, iets wat regtig 'n verandering sal bring, is jy oop vir God om jou te lei uit die graf na 'n opstanding?

“Resurrection is a shift in consciousness, an entry into Christ-consciousness as the universal presence of God — a way of seeing the world through the lens of love, grace, and divine connection.”
— Richard Rohr

Hoe sou jy hierdie ‘teenwoordigheid van Christus’ in jou lewe beskryf?

In oomblikke van innerlike vrede

Selfs in chaos, is daar ʼn onuitspreeklike kalmte wat jou anker. Daardie diep Shalom is die opgestane Christus in ons.

In woorde van compassion

Waar ook al iemand woorde gebruik wat heel maak in plaas van seer, wat verlig in plaas van veroordeel, is Christus teenwoordig.

As emosionele pyn versag in empatie is die transformerende krag van die opstanding sigbaar in ons dieper meegevoel en deernis.

In elke gebaar van vergiffenis

Wanneer ons ‘LET GO’ aan ons verwyte en bitterheid, laat ons liefde opstaan uit die dood en daardie skuif in ons gedagtes en gemoed, laat Christus lewe in ons harte.

In onvoorwaardelike liefde

Christus se teenwoordigheid is sigbaar wanneer ons liefhet verby dit wat maklik is, en aanvoelbaar waar ons nie verval in ons fight or flight patroon nie.

In die lig wat breek deur ons lyding

Waar ons groei en ons lewensdoel sigbaar word deur pyn, is dit die Christus wat ons die weg wys na die lewe deur dood, of soos Jesus daarna verwys —

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, bring dit baie vrug voort.” (Joh 12:24)

In musiek en kreatiwiteit

Wanneer ek musiek hoor wat my gees voed, voel ek in die vibrasie van die melodie die krag van ‘opstanding’ — in die verwondering van ʼn lied, dans, skildery, digkuns wat my siel roer, word ʼn sielsdors na begrip en betekenis geles.

In die gawe om bewustelik te lewe

Daardie skielike helderheid, wysheid, en vermoë om goed in perspektief te sien — daardie “aha” oomblik as die opgestane Christus jou sig verander na insig.

So, as ons sê, “Christus het opgestaan, Hy het waarlik opgestaan!” dan is DÍT net ʼn paar van die maniere en plekke waar ons Hom sien, hoor, en voel.

Sondag het ek afgesluit met hierdie gedig wat in die vroeë oggendure geskryf is en soveel het gevra vir ʼn afskrif dat ek besluit het om dit hier te plaas —

Waar is Christus, ons Messias,
in dit Alles?

Ek sit in die stilte van die nag
en hou woorde vas,

te teer om hardop te noem.
As die heilige spasies tussen asem
vir 'n oomblik my hart vashou —
asem in ... asem uit ...
lewe in ... liefde uit.

Hier staan ek, en stap altyd agteraan
soos 'n gentleman betaam
en hou die deur oop

sodat jy eerste die Christus sal sien.
Elke hande vat en vou onthou ek,
waar woorde onnodig is, want
in Hom het Liefde vlees geword.
My liefhê bly gesluier
in dit wat wêreld en bloed is.

My wie en wat en hoe ek is
bly onbekend vir mense —

maar Christus herken, erken,
ken my!

Waar is Christus, ons Messias,
in dit Alles?

Is Hy in die valleie of op kruine,
of sal ek dink hy is net die tuinier
of 'n ontydige reisgenoot
op pad na Emmaus?

Het Hy nie keer op keer juis
in ons wonde verskyn nie?

Nou vra ek jou:
sal jy Hom in my sien,

nie in die skaduwee
van misken en ontken nie

maar in Sý LIG?
Waar twee of drie in pyn vergader —
HY is daar,
maar net as ons hom inlaat.

Laat ons, asseblief, Hom inlaat.

Soos altyd

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“Easter is not a miracle one either believes or disbelieves. It is an experience one enters into.” 
― John Shelby Spong 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights