“Kom ONS maak 'n mens na ONS beeld, na ONS gelykenis.”
― Genesis 1:26 —Op 3 Augustus 1650 skryf Oliver Cromwell ʼn brief aan die algemene sinode van die Kerk van Skotland waarin hy onder andere sê, “I beseech you, in the bowels of Christ, think it possible you may be mistaken.” Alhoewel die ondertoon van die brief gaan oor die verhouding tussen Staat en Kerk, kan hierdie woorde 373 jaar later steeds van toepassing wees op ons mens-, wêreld-, en Godsbeskouing.
Kom ons sluit ons maand se gesprek oor die inhoud en betekenis van die Christelike Mistiek af met die invloed van die Mistiek op ons Godsbeeld.
Laat my dit net weer onomwonde sê: mý manier van God verstaan en ervaar, is nie die regte of beter manier nie — net ʼn ander manier. Jy mag daarom radikaal van my verskil en dit is okay. Solank jy toegee dat God nie ‘ingeboks’ kan word deur een tradisie of kultuur nie, en dat daar deernis en respek is vir ander se manier van glo in God.
God is nie ʼn Christen of Jood of Moslem nie. God is geen man of vrou, geen wit of swart, geen definisie, dimensie, of vorm nie.
God is nie êrens in ʼn geografiese ruimte tussen die sterrestelsels nie. Verseker is God nie gemoeid met net een planeet in een sonnestelsel nie, met een spesie op dié knoets grond, en in besonder met net een Godsdiens onder die spesie nie.
Hierdie dualistiese Godsbeeld het nog nooit water gehou vir my nie. Dit is beperkend op ʼn Godsbeeld wat ons aan die eenkant bely as ‘Almagtig’ en ‘Alomteenwoordig’ maar aan die anderkant glo dat God net aan die kant van Christene is, en dan ook net vir sekere Christene wat optree asof hul die eienaars van die waarheid is.
Ek vind dit verstommend dat ons in 2023 steeds dink dat ons namens God kan besluit wie is in en wie is uit, en dit aan die hand van die Bybel wil doen sonder om enige konteks te verstaan wat die agtergrond en omstandighede van die verskillende boeke was.
Daar is weinig, of geen verwysingsraamwerk vir die kompleksiteit van die oudersvraagstukke nie wat nog te sê wat die kultuur-historiese raamwerk was van 2000 jaar se orale tradisie voor dit ʼn versameling boeke geword het.
Dan word maklik gesê, “Maar die Bybel sê ...” asof die Bybel (soos ons dit het) die eerste en laaste woord van God aan die mens is. Wanneer ʼn sin so begin, blyk dit gou dat wat daarna volg, baie selektiewe aanhalings is wat gewoonlik gebruik word as ʼn projeksie van ons eie subjektiewe oortuigings.
Wat wil ek sê?
Die Christelike Mistiek gaan in sy wese daaroor dat ons 'n direkte en persoonlike ervaring met God het, en die Goddelike Teenwoordigheid sien en erken in elke verhouding waarin ons staan, insluitende ons verhouding met die natuur en die kosmos. Dit open die vensters om die groter geheel in perspektief te sien, en om die inwonende krag van God in alles te ervaar.
Om vir God vorm, definisie, of dimensie te gee, is om van God ʼn projeksie te maak van ons eie behoeftes en verwagtinge.
Natuurlik is God in elke man en vrou, bejaarde en kind. God is in ons lag en ons trane. God is in volmaan oor die Hottentots-Holland berge en die groen van die Kaap se winters. God is in die gravitasie tussen sterrestelsels en in die stroomversnellings van die Oranje- en Bergrivier. God is in die soen van my kind en die arms van my beminde. God is in die sakrament van die brood aan die bedelaar en die doop van ʼn gay-couple se kind.
Ons het, meer as ooit, ʼn dringende behoefte om anders oor God te dink, verstaan, en te ervaar. Die premoderne manier van glo, vra ʼn vernuwing en verandering wat sin maak vir die mens in die 21ste eeu.
Voorbeeld: Toe Leonard Cohen oorlede is 'n paar jaar gelede het ek die Sondag gewy aan sy lewe, gedigte, en musiek. Na die tyd kom 'n vrou na my toe en sê, “Hy het sulke wonderlike musiek gemaak, net jammer hy is nie in die hemel nie.” Toe ek vra wat sy bedoel, is haar antwoord — “Want hy was nie 'n Christen nie, hy was 'n Jood.”
Ek kan, nee ek wil nie in so god glo wat ʼn karikatuur word van ons eie vooroordele en selfgeregtigheid nie. Só god het niks met DIÉ God te doen nie.
Ja, God word geken en ervaar in die leivore van die Christen tradisie waarin ek gebore is, maar God is SOVEEL meer as dit.
Kom ons verken eerskomende Sondag sewe maniere hoe ons ons Godsbeeld kan verfyn en vernuwe om te gedy in ʼn lewensveranderende ervaring met dié God wat gesê het, “Kom ONS maak 'n mens in ONS beeld, in ONS gelykenis.” (Genesis 1:26)
Die laaste woord behoort aan Herman van Veen —
God is die wind,
God is die wind my kind wat deur jou hare, wat deur jou hare waai.God is die son,
God is die son my kind wat jou gesig, wat jou gesig verwarm.God is geen byl,
God is geen wet, God is geen standbeeld, God is geen oordeel.God is 'n vlok,
God is 'n sneeuvlok my kind wat op jou hand, wat op jou hand smelt.God is 'n woord,
God is 'n naam wat in jou hart, wat in jou hart woon.God is gratis.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“There is no distinction between
Greek and Jew, circumcised and uncircumcised, uncultured, Scythian, slave, and free, but Christ is all, and in all.” ― Colossians 3:11 ―