Potgooi:
“Listen to the wind, it talks. Listen to the silence, it speaks.
Listen to your heart, it knows.”
— Native American Proverb —
Oor die jare hoor ek dikwels hoe min mense die taal (woordeskat) het om oor hul geloof en emosies te praat. Hulle sukkel om te sê wat hulle dink, en weet glad nie hoe hulle voel nie.
Die enigste emosies wat genoem kan word, is: mad, glad, and sad. Hoe verdrietig as die somtotaal van ons gevoelswêreld net hierdie drie emosies is.
Tradisioneel is ons gebore in ʼn kultuur waar seuns voorgesê word om NIE te praat oor ‘emosies’ nie want dit word gesien as ʼn swakheid, en het ek al gehoor hoe ʼn pa sê, “SLUK DIT!” toe sy klein seuntjie begin huil het.
In ʼn patriargale sisteem, word vroue se stemme nie na waarde geag nie. Ons sien dit steeds in die werksmilieu, en in huise waar mans dink HÝ sal besluit, HÝ sal sê hoe dit is, met geen idee wat sy vrou dink of voel nie.
Ek is oud genoeg om te onthou hoe die NG-kerk geworstel het om vroue toe te laat om op die kerkraad te dien, en gestotter het om hul toe te laat as leraars.
Vandag is daar baie vroue wat in beroepe staan wat voorheen eksklusief deur mans beoefen is, maar hulle sal jou vertel hoe hul in baie gevalle harder moet werk om herkenning te kry, en steeds nie ‘gehoor’ word nie.
Kom ons gesels hierdie maand so bietjie oor hoe ʼn mens oor jou emosies kan praat, jou gevoel kan oordra, en jou oortuigings en geloof kan verwoord. Nog meer belangrik, hoe om mekaar te hoor en om alle stemme na waarde te ag.
Die meeste van ons het nooit die vaardigheid geleer om te kan praat oor wat ons voel nie. Ons ouers het nooit geleer om hul emosies te verwoord nie. Daardie taal het nooit ontwikkel nie en is derhalwe nooit oorgedra aan ʼn volgende geslag nie.
As ʼn mens nie geleer het om jou innerlike ervarings en emosies te beskryf nie, is dit moeilik om dit te deel. Wanneer kerktaal só dogmaties is dat ons nie verstaan wat gesê of bedoel word nie, sukkel mense om hul geloof te artikuleer op ʼn manier wat persoonlik en betekenisvol is.
Wanneer dit gesien word as ʼn swakheid om openlik oor jou gevoelens te praat, trek ons terug en bly eerder stil uit vrees vir veroordeling.
Almal, mans en vroue, is bang om te praat oor ons emosies uit vrees vir kritiek en om gespot te word dat ons ‘te sag’ of ‘sensitief’ is. Ons voel meestal misverstaan omdat ons dit nie so goed kan uitdruk nie. Met tyd raak ons al hoe stiller tot ons later self nie eers meer weet wat ons voel nie.
Dit kan ook wees dat ons in die verlede een of ander vorm van abuse ervaar het, en besef het dat wat jy sê is nie belangrik genoeg om na waarde te ag nie, en dat dit ‘veiliger’ is om stil te bly.
Studies oor PTSD wys hoe trauma ons harte sluit en ons totaal disconnected laat voel met ons emosies, wat nog te sê om dit te verwoord.
Hoekom is dit so moeilik om te praat oor emosies en wat ons voel?
Om die wêreld agter ons oë met ander te deel, laat ons weerloos voel. Dit is intiem persoonlik, en om met iemand te praat wat nie ontvanklik is om te hoor of te verstaan nie, maak ons nog meer kwetsbaar.
Sommiges is so afgestomp om met hul eie emosies te deel dat hulle net eenvoudig nie weet hoe om na ander se gevoelens, goed of sleg, te luister nie. Hulle praat dit óf reg óf weg, en verander vinnig die onderwerp net sodat hul nie hul eie emosies oor die saak hoef te voel, en God forbid, oor te praat nie.
“We cannot selectively numb emotions; when we numb the painful emotions, we also numb the positive emotions.”
— Brené Brown
Hoekom is dit so moeilik om te praat oor ons geestelike lewe en wat ons glo?
In ons Afrikaner geledere is dit alombekend dat mens praat nie oor seks, geld, of God nie. Eersgenoemde maak ons skaam, geld maak ons afgunstig, en om oor God te praat, is om te dweep.
Ons het ʼn warboel emosies wat ons kan opnoem as dit kom by sport. Ons kan presies sê hoe ons voel oor die regering, sonder enige filter. Oor ander mense se doen en late het ons ʼn mondvol te sê, maar het geen clue hoe om te praat oor God se liefde vir jou en hoe daardie liefde oorloop na jou man/vrou en kinders nie.
Mense verval in clichés en sentimentele retoriek as hul praat oor geloof. Dikwels sal ek vra: wat sê jy as jy sê jy glo in God? — en in die antwoord kan ek hoor met hoeveel dissipline tyd gemaak word vir Stiltetyd en hoeveel toewyding met gebed… want gebed leer ons die genuanseerde taal om te praat oor God.
Om ons emosies woorde te gee en om te praat oor ons geloof vat moed want dit nooi mense in na ʼn plek aan die binnekant van wie ons werklik is. Dit vra dat ons self tyd sal spandeer met ons Self om weer te ‘Stem van die Siel’ te hoor.
By twee geleenthede die laaste ruk het iemand gevra wat ek bedoel as ek praat van die ‘Stem van die Siel’ en hoe weet ʼn mens dis nie die stem van die ego nie?
Dit is waarmee ons Sondag gaan begin as ʼn inleiding tot ʼn maand se gesprekke oor HOE om ʼn woordeskat te kweek om oor gevoelens te praat, metafore te gebruik in ʼn gesprek oor God, en soos David Whyte sê, “building courage to explore and express your inner world authentically.”
So skep ons ʼn veilige ruimte waar ander die vrymoedigheid het om die landskap van hul gedagtes en gevoelens met ons te deel.
Soos altyd
Met liefde
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.