Kies 'n Groter Godsbeeld

“It's funny isn't it? That you can preach a judgmental and vengeful and angry God, and nobody will mind. But you start preaching a God that is too accepting, too loving, too forgiving, too merciful, too kind, you are in trouble.”― Bishop Gene Robinson —

Dit is September, en amptelik die begin van ʼn nuwe seisoen. Oor vier maande is dié jaar verby.

Ons gaan dié maand stilstaan by ʼn gesprek oor ons Godsbeeld — gestel jy sit op ʼn eiland vir 10 jaar sonder Bybel of Kerk, wat sal jy sê oor God, en hoe sal jy jou ervaring beskryf?

Laat my net eers begin om te sê: ek is nie die eienaar van die waarheid nie; en my manier van glo is nie die regte of beter manier nie… dis net ʼn ander manier wat oor dekades inhoud en betekenis gekry het vir my.

Dit is nie staties nie en ek hoop dat oor ʼn jaar of tien het ek ook weer gegroei in die manier waarop ek glo. Jy mag daarom totaal van my verskil en dis okay. Jy mag geheel en al ʼn ander ervaring hê van wat jy beskryf en ervaar as God, en ook dít is okay. Daarvoor het ek respek.

Vir my het GOD geen vorm, definisie, of dimensie nie. Die Goddelike is allesinsluitend. God word gevind in die subatomiese deeltjies, en in die boublokke van die ganse skepping (waterstof, stikstof, koolstof, suurstof). GOD is in die gravitasie tussen sonnestelsels en in die buig van tyd en ruimte.

[... en voor jy 'n ‘NEW AGE’ of ‘panenteïsme’ bordjie om die gesprek wil hang, stel ek voor jy lees weer die Wysheidsliteratuur in die Ou Testament, Thomas Merton en Keating, of St Francis se ‘Brother Sun and Sister Moon’, of luister na 'n lesing van Prof Brian Cox.]

Om vir GOD vorm, definisie, en dimensie te wil gee, is om van GOD ʼn karikatuur te maak en beeld van ons eie voorveronderstellings wat geskoei is deur ons religieuse agtergrond, kultuur, en tradisies.

Ons kan net oor God praat in metafore. Selfs Jesus gebruik gelykenisse om hierdie inklusiewe GOD vir mense verstaanbaar te maak. Vandag het ons die wêreld-wye-web van informasie tot ons beskikking om sóveel meer te verstaan en ons insig (waarheid) en uitsig (wysheid) te verdiep en te vergroot.

Nou hoor ek jou sê, “Maar die Bybel sê…” Daaroor kan ons ʼn lang gesprek hê want wat wil dié samestelling van ses-en-sestig boeke, wat oor ʼn 2000 jaar tydperk tot stand gekom het, vir ons sê — en deur watter bril word die ‘vertalings’ gelees?

Op sy beste kan na die skrywers en lesers van die Bybelboeke verwys word as uiters primitief. Daar is geen verstaan van die aarde se plek in die heelal of enige begrip van die makro- of mikrokosmos nie. Geen kennis van tektoniese plate wat skuif, siektes of geestesgesondheid, en dat ʼn vrou nie ʼn broeikas is nie maar ʼn mede-skepper in die geboorteproses.

Die verhale, in al die verskillende genres, lê geweef in baie sterk stam-tradisies (tribal religion) waar dit hoofsaaklik gaan oor oorlewing. Die verstaan van GOD in die Ou Testament is dan ook die van ʼn stam-hoof wat aan die kant van die Israeliete is. Hierdie Godsbeeld sou dramaties skuif in die leer en lewe van Jesus, en Paulus sou dit nog meer verfyn.

Benewens dit is ek daarvan oortuig dat as jy vir Jesaja of Paulus sou sê dat 2000 jaar later sal mense hul woorde in ʼn boek sit en daarna verwys as die ‘onfeilbare Woord van God’ sou elkeen van hulle die hand op die voorkop slaan en verstom vra, “WAT BEDOEL JY?”

Ek vat die Bybel BAIE ernstig op maar ek vat nie alles letterlik op nie. Ek lees dit as literatuur waarin ek soms, as ek mooi luister, die ‘woord (stem) van God’ hoor.

Verseker kan die Heilige Geskrifte van al ons mensgemaakte tradisies tog nie die eerste en laaste woord van God aan die mens wees nie? Dit verklein God tot ʼn baie eng Godsbeeld waarin ons meer van onsself projekteer as om die Goddelike te laat wees wat dit IS.

Hier is drie voorbeelde om dit te illustreer:

  • Ons leer ons kinders dat “die LIEFDE is nie afgunstig (jaloers) nie en hou nie boek van die kwaad nie” (1 Korintiërs 13:4-6) en tog word daar geglo dat God is jaloers en hou boek van al ons oortredinge.
  • Ons leer dat “waar vrees is, is geen LIEFDE nie” (1 Johannes 4:18) en tog glo ons dat God ‘gevrees’ moet word sonder om te weet dat in Hebreeus is daar DRIE woorde wat almal met ‘vrees’ vertaal word. Daar is אֵימָה (ayma) wat beteken: skok, angs, vrees. Dan is daar פַחַד (pachad) wat beteken: angswekkend, verskrik, vrees. Die woord wat die Jode gebruik is יִרְאָה (yirah) wat beteken: ontsag, respek, eerbied — wat NIKS met vrees te doen het nie.
  • Van kleins af is ons gedompel in die onheilige drie-eenheid van sleg, sondig, en straf — daar word geleer dat ons IS sondig en daar is niks wat ek daaromtrent kan doen nie. Beide die Hebreeuse woord חָטָא (chata) en die Griekse woord ἁμαρτία (hamartia) vir ‘sonde’ het te make met wat ons DOEN. In die spirituele psigoterapie verstaan ons sonde as ‘destructive and dysfunctional behaviour’ — m.a.w. ek IS nie sondig nie, ek DOEN sonde.

Hoor wat sê Job oor sonde en God:

“As jy sondig, wat doen dit aan God,as jy baie keer oortree,hoe raak dit Hom,as jy sonder sonde is,wat baat dit Hom,wat kry Hy van jou?Jou sonde raak jou medemensen jou onskuld raak jou medemens.”— Job 35:6-8

ʼn Moderne, gesofistikeerde Godsbeeld plaas God nie langer in die ‘reward and punishment’ raamwerk nie. Hierdie Godsbeeld is nie ʼn metafisiese God wat êrens in die heelal in ʼn geografiese ruimte leef en van buite na binne kyk nie.

Dit is die ELOHIM (the Divine) wat sê, “Kom ONS maak die mens na ONS beeld, na ONS gelykenis.” (Genesis 1:26) en wat dan “sy ASEM (siel) in die mens asem” (Genesis 2:7) — dit is ʼn inwonende Godsbeeld wat nie net lewe gee nie maar LEWE is.

Dit is soveel groter as ons dogmatiese vorms, definisies, en dimensies. Dit is soveel meer as wat ons Teologie ooit kan verwoord.

Wil jy nie vandag, voor jy vanaand jou lig afsit, vir ʼn oomblik stil word nie en vir jouself vra: WIE is hierdie God vir jou, en HOE manifesteer dit in jóú lewe? WAT glo jy en WAAROM glo jy dit sonder om iemand anders na te praat of ʼn Bybelvers op te sê?

Voel jy die intimiteit, teerheid, en liefde wat in en deur jou vloei en nie VAN jou is nie, en hoe reflekteer jy dit na die wêreld waarin jy leef?

So maak dit, wat ons ervaar en beskryf as God, verbasend sin.

Kom ons gesels Sondag oor ons Godsbeeld en waarom dit bepalend is vir ons Wêreld- en Mensbeskouing.

Alles wat goed en mooi is vir die week wat voorlê.

 

GEDAGTE VIR DIE WEEK

“God has no religion.”
―  Mahatma Gandhi 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights