“Live your life, sing your song. Not full of expectations. Not for the ovations. But for the JOY of it.”
― Rasheed Ogunlaru —
Paasfees is verby, maar die invloed daarvan nog lank nie.
Wat ons gedink het is onherroeplik dood, maak plek vir vernuwing. Waar daar ʼn kruis gestaan het, is daar herlewing. Wat eens in ʼn graf was, het opgestaan en geboorte gegee aan die bloeisels van verandering en die kentering van ʼn nuwe lewe.
Hoor die wekroep — nou is die geleentheid om op te staan uit die dood en terug te keer na LEWE. Wat was, is verby. Dit is die seisoen van restourasie en rehabilitasie. Wat ons gedink het is absurd, maak plek vir nuwe realiteit. Wat ons gedink het is onmoontlik, word ʼn reënboog van potensiaal en eindelose moontlikhede.
Ons is nie meer slawe van ons illusies en obsessies nie. Ons is nie langer gyselaars van spyt en selfverwyt nie. Die wonde van die sweepslae het genees en die littekens word ʼn herinnering dat ons sterker en dapperder is as wat ons ooit vermoed het.
DÍT is wat 'opstaan' beteken.
Ons almal was al in die graf waar ons gedink het dis die einde; waar ons oorweldig was deur ʼn situasie of omstandighede; en net eenvoudig nie die lig kon sien nie.
Maar dan breek die son oor die horison ná ʼn lang nag van duisternis. Daar is ʼn verligting (relief and illumination) wat nuut na die dagbreek kyk. Die klippe van alles wat moes en kon gebeur het, word uit die leivoor gehaal sodat die water vrylik kan vloei na ons akker wat vrugte sal dra en ons sal voed met motivering en inspirasie.
HOE DOEN ‘N MENS DIT?
Niks gaan verander as jy nie in hart en siel, murg en bloed WIL verander nie. Jy moet WIL opstaan uit die graf en die Lig, Lewe, en Liefde van God toelaat om in en deur jou te vloei.
My pa het altyd gesê, “As jy aanhou omkyk, ploeg jy skeef.” Ons kan nie verander wat gebeur het nie, maar ons kan die manier van dink daaroor VERANDER. Wanneer ek my gedagtes verander, verander my ervaring en emosies.
Voel die grond onder jou voete. Kyk om jou en sien dat waar jy nou is, is presies waar jy moet wees. Leef in die TEENSWOORDIGE TYD — vandag, nou, hier, waar jy is.
Maak elke dag MERKWAARDIG. Sien die buitengewone in die gewonigheid van elke dag. Wees meer dankbaar en leef met waardering want hoe anders sal ooit Christus in alles en almal sien?
Deel jou gevoelens met 'n vertroueling. Leer om die geskenke van hulp en raad te OMARM. Laat los wat nie werk nie en werk aan die goed wat werk. Kom in die gewoonte om 'stiltetyd' te hê want hoe anders fokus ons ons gedagtes en intensies?
Te veel mense leef in ʼn groef — êrens tussen ʼn geut en loopgraaf — miskien omrede hulle voel dis die veiligste of die enigste manier. Ander doen dit om simpatie te ontvang. Ons almal was al daar en ken die slaggate van ‘victimhood’ sonder dat ons eers daarvan bewus is.
After all, it’s easier to play victim than to rise and be victorious.
Die klip voor die graf is dikwels vrees, of ʼn onvermoë om te laat los en te vergewe. Ons het nie krag om daai klip weg te rol as die verlammende effek van skuldgevoelens ons oorrompel nie.
Hoe verdrietig waar jou geloof steeds aan ʼn kruis hang; jou hoop agter ʼn klip in ʼn graf is, en jou liefde in doeke toegedraai is.
Om in die betekenis van Paasfees te leef, is veel meer as ʼn eenmaal per jaar herinnering. Dit is ʼn daaglikse proses wat begin met die eerste gedagte as jy soggens jou oë oopmaak… om te kan sê: “I come from asleep to awake!” en dit bewustelik in albei hande vas te hou deur die verloop van die dag sodat ons die spykers en splinters kan vermy.
Op so manier het Paasfees ʼn invloed op elke aspek van ons bestaan: in die besluite hoe om om te gaan met die kompleksiteit van die lewe; die vermoë om die navigeer deur die nuanses en polariteit van omstandighede; en aanpasbaar te wees in die omvang van wat dit beteken om mens te wees.
Dit is die enigste manier hoe ons sinvol tot ʼn antwoord kan kom oor wie ek is en waarom ons hier is.
Die vraag is nie, “Hoekom gebeur dit of dat nie…” maar “Hoe gaan ek hierop reageer; wat gaan ek maak met hierdie ervaring?”
Paasfees bring ʼn nuwe perspektief.
Om te sê, “Christus het opgestaan, hy het waarlik opgestaan!” kan net geglo word deur die een wat getuig, “In Christus het ek opgestaan, het ek waarlik opgestaan!”
Dit is ons triomf. Hierin lê ons oorwinning oor die ‘dood’ om nie langer gevangenes te wees van ons basiese instink om net te oorleef nie.
Dan maak die belofte van Jesus verbasend sin —
“Ek het gekom om vir julle LEWE te gee, en lewe in oorvloed.” — Johannes 10:10
Kom sluit Sondag by ons aan vir ons laaste gesprek oor die tema: Om sin te maak van LYDING — en dan deel ons ʼn handvol blomme uit die tuin van seëninge sodat ons sal weet wat dit beteken om OP TE STAAN uit die dood.
Met liefde, altyd.
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
“I try to be grateful for the abundance of the blessings that I have, for the journey that I’m on and to relish each day as a gift.”
― James McGreevey ―