“I sat with my anger long enough,
until she told me her real name was grief”
― C. S. Lewis —
In die Heilige Maand van Paasfees gaan ons gesprek oor LYDING — om betekenis te vind in beproewing.
‘Christene’ in dié land sal ʼn kabaal opskop as Paasfees nie meer ʼn langnaweek is nie, maar ek twyfel of dit sal gaan oor die invloed en betekenis van hierdie Heilige Drie Dae.
Ons ken die verhaal van Jesus se lewe, lyding, en dood. Ons onthou Judas se verraai en Petrus se verloën. Ons herken die Christus kruis van vêr af en weet van die spykers en doringkroon. Maar wat beteken dit vir jou? Maak dit enige verskil in jou lewe?
Die vraag is nie of ons onsself kan inleef met Jesus se lyding, pyn, en beproewing nie — want ons kan nie — die vraag is eerder of ons God vind in ons eie lyding, hartseer, en verdriet?
Nie die marionetmeester van my leed, smart, en ellende nie, maar die EEN in wie ek perspektief vind in my tye van nood.
Die EEN in wie ek die krag en moed vind om anders te dink en anders te reageer wanneer alles om my wegval.
Wanneer Psalm 22:2 op my lippe lê, “My God, my God, waarom het U my verlaat?” die antwoord te vind in Psalm 91:2 “My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.”
DÍT is die insig (waarheid) en uitsig (wysheid) wat Paasfees bring!
Die res van die jaar kan ons dans en sing, ons glase lig op alles wat mooi en goed en lief is — maar om ook tyd te maak vir ʼn oomblik se introspeksie en nadenke sodat ons nie ons dankbaarheid en waardering verloor nie.
As ons nie plek maak om sinvol om te gaan met ons eie weerloosheid nie hoe op dees aarde sal ons ooit medelye hê met die nood van ander? As ons nie tyd maak om ons eie kwesbaarheid te (h)erken nie, hoe sal ons ooit die Liefde vind om barmhartigheid te deel?
Hier is waaraan Paasfees my herinner —
Paasfees verskerp my spirituele sintuie om te besef hoe ek myself, elke dag, tussen die twee rowers van skuldgevoelens en vrees kruisig. Net om weer te besef wat beteken versoening en vergiffenis regtig.
Ek volg die Christen tradisie. Jesus is die vergestalting van die Christus (Messias/Gesalfde) wat kom wys het hoe lyk ʼn mens wat totaal gevul is deur God.
Sy voorbeeld is ʼn refleksie van wat dit beteken om as ‘beeld en gelykenis van God’ (Gen 1:26) geskape te wees en wie se lewe ʼn getuienis was van God se liefde.
Sy opdrag is eenvoudig: voed hul wat honger is, klee die naaktes, vergewe skuldiges, verwelkom vreemdelinge, sorg vir siekes, bewys medelye aan almal (selfs jou vyande), en doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê — hierin lê die liefde, vreugde, vrede, genade en erbarming van God.
Om myself ʼn Christen te noem gaan nie oor hoe goed ék is nie maar hoe goed God is. Dit gaan nie oor hoe groot my sonde is nie maar hoe groot die liefde van God is.
DÍS die Jesus in wie ek glo. Hierdie Jesus wat my herinner dat selfs ek, met al my foute, wonde, en gebreke ʼn geliefde seun van God is, en dat ons niks kan doen om hierdie liefde meer of minder te maak nie.
Hierdie liefde wen altyd. Hierdie liefde is genoeg. Waarheen hierdie kameel van liefde gaan, gaan ek saam.
Kom sluit Sondag by ons aan vir ʼn uur se stilte en ʼn deurleefde ervaring van wat Paasfees beteken.
Soos altyd
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Naskrif: Lees gerus ons nuutste Sirkelflitse.
“If you’re too big to do the small things, you’re too small to do the big things.”
― Graffiti on a Wall ―