“Sometimes the questions
are complicated
and the answers are simple.”
— Dr. Seuss —
Nog ʼn week is verby. Ons onthou nie meer dae nie, net oomblikke. Alles om ons het ʼn vreemde stilte stil. Ons probeer ons koppe om die idee kry dat wat ons die laaste 50 dae ervaar, is ons (nuwe) normaal en wat ook al hierna volg, sal ʼn (ander) normaal wees. Miskien praat ek net vir myself, maar ek moet mooi dink om te onthou hoe voel dit om weer in ons vol Kapel te sit. Ek sien ʼn video van die Ramblas in Barcelona met net skouers en gesigte van bykans 7000 mense per uur wat in daardie 2 km straat afstap en ek wonder, “Sal dit ooit weer? Sal ék ooit weer?”
Ons het ʼn duisend vrae oor hoe lank nog in Fase 4, en sal Fase 3 soveel anders wees? Moet ons regtig verder in só streng lock-down of sal die dodetal die pad van die UK en US stap? Wat van die ekonomie? Gaan daar meer mense sterf van honger en depressie as aan die virus? Eintlik het ons vrees vir ʼn virus lankal verdamp in die onsekerheid van die onbekende van wat voorlê hierna en hoe sal ons met die nuwe realiteit omgaan?
Dit is my vrae op hierdie koel Herfsdag.
Die dae beweeg so stadig dat ek kon sweer ek hoor my skelet skuif en die wind fluit deur my brein. Ek is bykans seker ek het Tafelberg sien groei. Elke oomblik is gelaai met intensiteit en dan verdamp dit in die volgende minuut. Ek probeer onthou hoe alles was, wetende dat ons gewoonlik die feite oor die verlede verander sodat dit makliker is om die geheue ʼn strikkie te maak. Ons doen dit outomaties. Ons skep herinneringe. Daarom vertel ons ook ons stories, want die verhale maak dat ons onthou.
Die Hebreeuse woord vir ‘onthou’ is zāḳar — remember, bring to mind, mindful. Ons sou seker ook kon sê: herinner, oproep, besef — of: recall, recollect, remind. Die woord zāḳar kom 236 keer in die Ou Testament voor. Soms praat dit oor verlange, soms ʼn oproep, soms ʼn gebed, ander kere ʼn herinnering hoe God sy liefde, sy verbond, sy trou ‘onthou’.
In hierdie dae van vergeet om te onthou, is dit miskien goed om onsself weer te herinner aan die waarheid dat God onthou — nie omdat God ʼn super geheue (IQ) het nie, maar omdat God die Groot Onthou is. God is die Onthou dat dankbaarheid is oorvol, dat vreugde oorloop, dat liefde oorgenoeg is. God is die Groot Onthou dat ons ten spyte van ons onsekerheid, desondanks ons bekommernis, nieteenstaande ons verwarring, steeds ons berusting vind in God. God is die Groot Onthou dat ons in elke oomblik van die dag, en selfs as ons slaap, in die Teenwoordigheid van God is. Dit is ʼn teenwoordigheid wat ʼn rustigheid bring, en ʼn simplisiteit in die verstaan van ons warboel vrae.
Wat is nou belangrik? Miskien om net weer, of meer, te kan glimlag en die volume van ons twyfel en beswaar af te draai. Net vir vandag iemand op te bel met opregte belangstelling oor hoe dit gaan. Om vandag net vir ʼn oomblik te laat los (let go) aan ons angstigheid om antwoorde, waarborge, sekerheid te móét hê oor hoe die toekoms lyk. Net vir vandag ...
Remember to Remind yourself to React differently.
Kom ons vra, nog ʼn keer, dat God ons sal wys HOE — hoe om die heilige drie-eenheid van ons vreugde (joy!) te onthou naamlik: gratitude, thankfulness, and appreciation. Kom ons vra die Groot Onthou om ons te herinner in ʼn duisend stemme, op ʼn duisende maniere, op ʼn duisend plekke hoe om vol te hou in ons toewyding, te volhard in ons gebed, en hoe om geduld te hê met hierdie tussentyd waarin ons is.
Dit is genoeg vir vandag. Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Met liefde
Alle Neo-Spektrum byeenkomste
is opgeskort tot tyd en wyl
dit veilig is vir almal se gesondheid