Liturgie: 19_junie_2016
Sedert my studentedae was daar by my ʼn fassinasie met die Evangelie van Johannes wat begin het toe ons ʼn hele aantal hoofstukke van dié boek moes leer as deel van Grieks en later die hele boek behandel het as deel van ons Nuwe Testament studies. Onder andere moes ons deur Rudolf Bultmann se lywige kommentaar werk wat handel oor dié evangelie. Tussen die frustrasie om ʼn antieke taal soos Grieks te bemeester en ʼn Duitse kommentaar van Bultmann wat nie een Griekse teks vertaal het nie, het daar tog iets gebeur in my jong voortvarende gemoed ... dit was asof die teks ʼn lewe van sy eie het en daar was toe reeds by my ʼn aanvoeling dat ons wat met ʼn Westerse bril lees iets essensieel mis in die inhoud en betekenis. In elke woord lê daar lae van interpretasie en selfs die spasies tussen die woorde het ʼn betekenis!
Die hele boek is in poëtiese formaat geskryf. Daar is ʼn ritmiese taal, nie noodwendig in rym nie. Kort frases van ongeveer ewe lank met herhaalde woorde en frases met geringe variasies. Daar is trappe van progressie in denke, beelde, simbole en metafore met meer dialoog en monoloë as in enige van die ander evangelies. Soos die jare aangestap het en meer insigte en wysheid die grys in my hare begin wys het, het daar selfs nog ʼn groter waardering en verstaan van dié boek gekom. Meer en meer het dit duidelik geword dat die teoloë van die vorige eeu ʼn baie een-dimensionele-insig gehad het en dat die Evangelie van Johannes veel meer as ʼn Gnostiese Evangelie, beïnvloed deur die Hellenisme, was en dat dit waarskynlik die enigste Evangelie is wat deur ʼn Jood geskryf is. Meer en meer Bybelkenners vandag huldig hierdie siening. Waar die ander Evangelies geskryf is in ʼn liturgiese genre wat gesentreer het rondom die Joodse jaar en feesdae, betree die Evangelie van Johannes ʼn dialoog tussen gedagtes en hart, geklee in die taal van die siel. Die laaste 18 jaar, danksy ‘A Course in Miracles’, het daar deure en vensters by my oopgegaan in die verstaan van die begrip ‘consciousness’ — en later die vloei van self-consciousness na human-consciousness, en van Christ-consciousness na Divine-consciousness, tot waar ons vandag selfs die wêreld van Universal and Cosmic Consciousness verken. Al hierdie moderne kwantum fisika begrippe lê geënt in die Evangelie van Johannes, trouens elke beginsel van ACIM vind sy wortels in dié Evangelie.
John Shelby Spong som die Evangelie in een sin op: “John’s gospel is about life — expanded life, abundant life, and ultimately eternal life” — maar nie in die tipiese manier waarin dit godsdienstig verstaan word nie. Soos reeds genoem, is die teks in lae gevleg, geweef met simbole, beelde, en metafore. Geskryf deur verskillende outeurs oor ʼn 30 jaar tydperk van ± 70AC tot 100AC. Na die ontdekking van die Nag Hammadi geskrifte in 1945 is dit duidelik dat die eerste derde van die Evangelie geïnspireer is deur ʼn boek wat vandag bekendstaan as “The Book of Signs” wat vroeër as Johannes Evangelie dateer. Die sewe ‘tekens’ (Johannes praat nie van ‘wonders’ nie) wat begin met water-in-wyn en eindig by Lasarus-se-opstanding vorm deel van ʼn narratief wat nooit bedoel was om letterlik geïnterpreteer te word nie. Trouens, die Evangelie van Johannes is nie ʼn boek oor godsdiens, sonde, verlossing nie maar oor LEWE — expanded life and expanded consciousness! Om oor dié Evangelie te praat, is om oor LEWE in sy geheel te praat ... dit is ʼn reis in die hart van LEWE self, verby die grense van lewe (geboorte / sterwe) tot ʼn hele nuwe verstaan waaroor die Christendom gaan.
In die Evangelie van Johannes is daar geen verwysing na ʼn maagdelike geboorte nie; Jesus word nie gedoop nie; daar is geen versoeking in die woestyn, geen gelykenisse en geen bergpredikasie nie; daar is geen brood en wyn by die Laaste Avondmaal nie maar wel die was van die dissipels se voete; daar is geen Getsemane voor die kruisiging nie en die kruisgebeure gaan nie oor die lyding van Jesus nie maar die verheerliking van Jesus. Daar is geen twyfel dat die hoof-skrywer van dié Evangelie was ʼn Palestynse Jood gewees want net ʼn Jood sou na Jesus verwys as “Messias” en net iemand met insig in die Joodse Mistiek sou die verhaal begin met die stelling “om ʼn getuie te wees van die Lig” (Joh 1:8)
In ons Teologiese studies is ons geleer dat Johannes — die dissipel vir wie Jesus die liefste was — is die outeur van hierdie Evangelie. Moderne Bybelkenners verwerp die voorstel eerstens vanweë die datering van die Evangelie maar ook duidelike bewyse dat dié boek is deur verskillende outeurs oor ʼn tydperk geredigeer. Ons gesprek Sondag gaan nie oor die outeursvraagstukke nie, ook nie oor die kontradiksies wat bestaan in die teks nie, en allermins oor die dogmatiese interpretasie van die Evangelie wat die hoofbron was vir die ontstaan van die Apostoliese en Nicea Geloofsbelydenis. Wat ons Sondag gaan doen, is om 7 baie bekende teksverse uit dié Evangelie te vat en daaroor te gesels in die verstaan daarvan vir die tyd waarin ons leef ... om as te ware die betekenis van elkeen te herontdek soos dit oorspronklik bedoel is en waarom dit vir die Christendom ʼn bron van inspirasie en hoop is.
Wat hierdie Evangelie my geleer het, is dit — ʼn mens kan nie jou eie vooroordele parfumeer met die Bybel nie, dit is wat fundamentaliste doen. Die Waarheid kan nie vasgevang word met verganklike mensewoorde nie. Die Goddelike is iets wat ʼn mens ervaar en vanuit daardie ervaring vloei ʼn verhouding. ʼn Verhouding meer eg en eerlik, meer outentiek en getrou aan jouself as wat enige wet of dogma ooit in staat is om te verwesenlik. Jesus van die Johannes Evangelie is ʼn barrier-breaker wat leer dat God nie ʼn eksterne entiteit is nie maar ʼn inwonende krag wat die wese van ons menswees transformeer. Ek hoop om Sondag die gordyn te lig sodat die Lig van hierdie formidabele boek deur jou gordyne sal breek.
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“The Gospel of John is not about God becoming human, about God putting on flesh and masquerading as a human being; it is about the divine appearing in the human and calling the human to a new understanding of what divinity means.” ― John Shelby Spong