Liturgie: 5_maart_2017
Ons het laas maand gesels oor LUISTER en ek het gewonder, sal ons Maart gebruik om ʼn gesprek te hê oor WAAROM NOEM ONS ONSSELF CHRISTENE? Ons het grootgeword met die vermaning dat om net te sê jy is ʼn Christen, beteken niks nie. Jy moet ʼn persoonlike getuienis hê dat jy Jesus “aangeneem het as jou persoonlike verlosser en saligmaker” dán is jy ʼn Christen en sal jy hemel toe gaan as jy sterf. Met “verlosser” word bedoel dat ons gered en verlos is van ons sonde. Tog is ons gereeld daaraan herinner dat ons (steeds) sondig is, en daarom elke dag die “verlossing” en “redding” nodig het. Dit hou aan tot en met ons dood waarna ons lewe geweeg en geoordeel sal word voor ons sal weet waar ons die ewigheid gaan spandeer. Vra mens vir tradisionele Christene wie hierdie Jesus is waarin hulle glo, kom die antwoord, “Hy is die Seun van God, wat vir ons sonde gesterf het, opgestaan het uit die dood, opgevaar het na die hemel vanwaar hy weer sal kom om te oordeel oor almal wat leef en al ooit geleef het.” Met ander woorde: om oor Jesus te praat is om oor sonde te praat en om oor sonde te praat, is om oor Jesus te praat.
Laat my dit duidelik stel — daar is niks verkeerd aan die letterlike interpretasie van so geloofsoortuiging nie. As dít jou waarheid is, is dit goed en reg so. Die vraag is, hoe gemaak as ons dieselfde glo maar vanuit ʼn 180° ander hoek? Is daar ʼn spanning as ons glo dat Jesus die ‘eersgebore’ seun van God is om daarmee te sê dat elkeen van ons is seuns en dogters van God ... of verstaan die briewe van Johannes en Petrus dit verkeerd wat na ons verwys as ‘saad [sperma] van God’ ...? Is daar ʼn tweestryd as daar geglo word dat nóg die geboorte, nóg die opstanding, nóg die hemelvaart, nóg die wederkoms van Jesus allegories / simbolies geïnterpreteer moet word? En waarom die ongemak by Christene as ʼn mens hul daarop wys dat Jesus nêrens gesê het hy is God nie; ook nêrens gesê het dat hy vir ons sonde sal sterf nie; en dat die wederkoms (oordeelsdag) nie ʼn gebeure op ʼn almanak is nie, maar ʼn oomblik van innerlike ontwaking wat nie gebeur as ons sterf (ontslaap) nie, maar waar ons wakker word uit die nagmerrie dat daar ʼn skeiding (separation) tussen ons en God is/was/kan wees. Wat daarvan as die historiese Jesus die alomteenwoordige Christus word vir elkeen wat hul pad terugvind na die God wat in alles en almal asem en dat hierdie Christus inklusief is in elke kultuur en godsdiens tradisie? Wat daarvan as Jesus gaan oor lewe en om oor lewe te praat, is om oor Jesus te praat?
Waarom sal ons as Christene namens God wil praat en oordeel oor wie is in en wie is uit en waarom is die Bybel verhef tot God? Wat vat dit van ons weg om te (h)erken dat al die woorde in die Bybel is soos druppels in ʼn oseaan. Die Bybel is nie die oseaan nie, GOD is die oseaan! Kom ons begin eerskomende Sondag met ʼn eerlike, openhartige gesprek oor die vraag — HOE MOET ONS VANDAG DIE BYBEL LEES?
Om dit te antwoord, moet ons begin by Jesus (wel, dis seker vanselfsprekend of is dit?) omrede die Jesus wat verkondig word in die 21ste eeu en die Jesus van die 1ste eeu in baie opsigte (dogmaties en teologies) nie eers bloedverwant is van die historiese Jesus wat geleef in die 33 jaar tussen die koningsjare van Herodes en die goewerneurskap van Pilatus. Jesus was ʼn Jood in murg en been en om Jesus te skei van sy Joodse milieu (tyd, plek, en omstandighede) is om hom te vervreem van sy inhoud en betekenis. Sy dissipels was Jode en die vroeë Christene in Palestina was almal Jode wat steeds elke jota en tittel van die Torah nagekom en in die tempel aanbid het. Die Christendom het aanvanklik hoofsaaklik versprei onder Jode in gebiede ver buite Palestina waarvan die spore gevind kan word in die Koptiese kerk in Egipte en Ortodokse kerk in Sirië en Griekeland — om nie eers te praat van die Yazidis in Irak nie.
Gemeentes in die eerste drie eeue na Jesus het van tyd tot tyd ʼn manuskrip ontvang. Dit kon ʼn gedeelte van ʼn brief van Paulus wees aan ʼn gemeente, of as hulle gelukkig was kon dit ʼn versameling van verskeie briewe wees. Niemand het ʼn Nuwe Testament Bybel gehad nie. Daar was letterlik honderde relieke en fragmente van briewe, gebede, liturgieë, boodskappe, oorvertellings, en evangelies waarvan net ʼn fraksie behoue gebly het. Niemand het dit gesien as die “onfeilbare woord van God nie” en niemand het dit gepreek as die eerste en laaste woord van God aan die mens nie. Dit was Konstantyn wat in 325AC besluit het wat word Bybel en wat word verbrand. Met die ontdekking van die Nag Hammadi Geskrifte (1945) en die Dooie See Rolle (1946/7) het daar ʼn biblioteek van boeke na vore gekom wat die sluier gelig het in ʼn baie beter verstaan van dit wat ons vandag ken as die Bybel.
Die vraag is: het die Bybel ʼn plek in ʼn moderne verstaan van ons Christelike geloof? ABSOLUUT! Is die Bybel steeds relevant in die betekenis en inhoud van ons Christelike tradisie? Sonder enige twyfel, ja! Maar, en dit is ʼn versigtige ‘maar’, die bril van ʼn premoderne Godsbeskouing moet afgehaal word. ʼn Middeleeuse wêreld- en mensbeskouing moet plek maak vir ʼn gesofistikeerde en relevante interpretasie van hierdie ou geskrifte. Dit het tyd geword om met moed en oortuiging die fundamentalisme te sien vir wat dit is — naamlik, ʼn ideologiese interpretasie van die Bybel wat meer verdeeldheid, veroordeling, verwerping, en verleentheid tot gevolg het as die ‘verlossing van onsself’ wat Jesus geleef en geleer het.
As daar een ding is wat ek van Thomas Keating en Richard Rohr (twee Katolieke priesters) geleer het, is dit die volgende: die Bybel is méér luister as lees! Dat die Lectio Divina (Divine Reading) ʼn transformerende tradisie is wat herontdek en herontgin moet word want die kerk het ʼn geroesemoes geword van kitare en dromme wat só hard speel dat ons skaars onsself kan hoor wat nog te sê die Stem van God. Wat ek geleer het van Henri Nouwen (nóg ʼn Katolieke teoloog) is dat die leser hom/haarself moet weef in die teks — with great reverence and dependence — vir die interpretasie van die geskrewe maar óók die ongeskrewe woord. Keating se Centering Prayer beweging lê geënt in die Lectio Divina waar die Letterlike lees (interpretasie) van die Bybel uitgebrei moet word (nie noodwendig vervang nie) met die Allegoriese, Moreel-Etiese, en Mistieke uitleg van die teks. In die Contemplative Tradition van veral die Katolieke Kerk, is dit noodsaaklik om op ʼn plek te kom wat Keating noem — prayerful reading; reflection on the text; response to the good things you’ve been reading; and then ‘resting’ in the presence of God through what was read and what we understand.
ʼn Nuwe maand en die amptelike begin van Herfs — kom ons gesels Sondag oor Adam en Eva; Jona en die vis; loop op water; en die simbole van die boek, Openbaring — en wat dit beteken om vrymoedig na onsself te verwys as Christene!
🌹 WERKSWINKEL — Saterdag 4 Maart: Inleiding tot ACIM en die VYF groot godsdienste se verskille en ooreenkomste. BESPREEK by my asseblief!
🌺 ACIM — Stad 13 Maart 19h30; Kolping 2 Maart 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“God's first language is Silence. Everything else is a translation.” — Thomas Keating