Ons het laas Sondag afgeskop met ʼn tour-de-force oor die laaste 24 uur in Jesus se lewe. Ons het gesels oor Judas Iskariot (assassin) en hoe dit ʼn baie later toevoeging tot die Jesus-verhaal was dat dit een van sy dissipels was wat hom sou verraai. Paulus, in al sy briewe, maak geen melding daarvan nie. Trouens, Paulus verwys na die “twaalf” (al 12) aan wie Jesus sou verskyn na sy ‘opstanding’ ... waarna ons gesels het oor die maaltyd waar Jesus met brood en wyn die sakrament van die nagmaal ingestel het en toe stilgestaan by Jesus se gebede in die tuin van Getsemane en hoe hy drie keer sy dissipels aan die slaap kry. Die eerste aflewering in ons Heilige Maand se tema was gelees uit die Evangelie van Matteus.
Min mense weet dat nie een van die Evangelies geskryf is deur die name aan wie die Evangelie toegedig is nie. Nie een van die Evangelieskrywers het geleef in die tyd van Jesus nie. Die oudste boeke van die Nuwe Testament is geskryf deur Paulus (wat wel in die tyd van Jesus geleef het) waarvan die briewe aan die gemeente in Korintiërs die oudste is en dateer tussen 50-55CE. Die oudste van die Evangelies is Markus wat dateer 40 jaar ná Jesus se dood ± 72-75CE. Die Evangelie van laas Sondag (Matteus) is die tweede oudste en dateer tussen 80-85CE. Dan volg Lukas Evangelie wat dateer rondom 90-92CE en die boek Handelinge deur dieselfde skrywer in dieselfde tyd. Johannes Evangelie is laaste geskryf en dateer tussen 100-110CE — ʼn goeie 70+ jaar ná Jesus se dood. Dit is vier generasies ná Jesus.
Wat dié datering belangrik maak, is dat AL vier Evangelies geskryf is ná die val van Jerusalem in 70CE, en Lukas en Johannes is geskryf ná die eerste Christene uit die sinagoges verban is in 88CE. Om Judas (wat die Griekse woord is Juda) se plek in die Evangelies te verstaan, móét ons weet dat die Evangelies geskryf is in ʼn tyd van bitter twis tussen die volgelinge van Jesus (wat Jode was) en die Ortodokse Jode wat nie Jesus aanvaar het as die Messias nie. Die skrywers van die Evangelies maak Judas die swartskaap as simbool van die Jode wat Jesus verraai, verloën, en vermoor het. Deur die eeue sou veral die Evangelie van Johannes dikwels gebruik word deur diegene wat hul anti-Semitiese argumente wou regverdig. Ná alles, as Johannes die Jode haat dan kan ons ook seker, of so word daar geredeneer. Vir die Evangelieskrywers was die val van Jerusalem ʼn direkte ‘straf van God’ vir wat die Jode gedoen het met Jesus.
Eerskomende Sondag gaan ons dan stilstaan by die Evangelie van Markus. Na Jesus gevange geneem is, verskyn hy voor die Joodse Raad wat bestaan uit die priesterhoofde, familiehoofde en skrifgeleerdes. Daar word die een aanklag na die ander oor hom ingebring. Dis in die middel van die nag en die broers kan oor niks ooreenstem nie. Die getuies weerspreek mekaar en die een aanklag na die ander val deur die mat. As die hoëpriester sien dat die saak gaan nie water hou nie dan staan hy op en vra vir Jesus, “Waarom sê jy niks nie? Waarom verweer jy nie jouself nie? Wat gaan jy bereik deur net stil te bly?” Weer sê Jesus niks. Die ou man raak ontstoke en vra, “Is jy die Messias (gesalfde), die seun van die Geseënde (God)?” Ek kan my voorstel dat daar enkele oomblikke se stilte was voor Jesus hom antwoord en wat Jesus sê, is ʼn aanhaling uit Psalm 110:1 “Ek is, en julle sal die seun van die mens sien sit aan die regterhand van die Krag ...”gevolg deur Daniël 7:13 “... en hy sal kom met die wolke van die hemel.”
Toe breek Kajafas (hoëpriester) se water en raak so woedend dat hy sy klere skeur en skree, “Het julle dit gehoor!! Dis godslasterlik!! Hy móét sterf!!” Daarna het hulle Jesus gespoeg, sy oë toegebind en hom met die vuis geslaan en koggelend geskree, “Profeteer so bietjie vir ons!” Terwyl dit alles gebeur, staan Petrus in die binnehof by die vuur vir so bietjie hitte toe dag begin breek. Drie keer herken iemand hom as een van Jesus se dissipels, drie keer ontken hy dit, en toe die haan die weer kraai, besef hy wat Jesus vir hom gesê het, “Voor die haan die derde keer kraai, sal jy my verloën.”
Daarna het hul Jesus na die Romeinse Goewerneur gebring want net hy kon die vonnis teken en net die Romeine kon die vonnis uitvoer. Drie keer, lees ons, het Pilatus met Jesus ʼn gesprek. Ook daar bly Jesus stil en vra Pilatus hom om homself te verweer. Drie keer stap Pilatus na buite en sê vir die skreeuende mob dat hy niks verkeerd vind in dié man nie. Elke keer skree hul net harder, “KRUISIG HOM!” — en dan gee Pilatus hulle hul sin en lewer Jesus oor om gekruisig te word. Die soldate het hom weggelei, vir hom ʼn pers kleed aangetrek asof hy ʼn ‘koning’ is, ʼn stok in sy hand gedruk asof dit ʼn staf is, en ʼn doringkroon op sy kop gedruk en hom gespoeg, gevloek, en gegesel.
Alhoewel die vier Evangelies dramaties van mekaar verskil oor wat en wanneer als gebeur en gesê is, staan die woorde van Jesus aan die Joodse Raad gegraveer, “... julle sal die seun van die mens sien sit aan die regterhand van die KRAG” en sy woorde aan Pilatus volgens Johannes Evangelie, ““Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.” Waarop Pilatus hom vra: “WAT IS DIE WAARHEID?”
Daardie antwoord gaan ons verken eerskomende Sondag.
Seënwense vir die res van jou week
Soli Deo Gloria
Terblanche is sedert September 2011 die geestelike leier van Neo-Spektrum.
Laai hierdie week se liturgie hier af: 14 April 2019
.
.
STAD: 29 April 2019 @ 19:30
KOLPING: 17 April 2019 @ 19:30
Ons lees hierdie jaar Rob Bell se boek:
"What We Talk About When We Talk About God"
[bring steeds jou ACIM boek saam]