Hierdie week se liturgie: 7_oktober_2012
Vanoggend wonder ek, terwyl dit reën in die stad, of ek die verwarmers moet bêre en die warmkomberse moet afhaal want ek het so vermoede dit hou die winter hier! 😉
Dit is nou maar eenmaal die mens – solank as wat ons in die winter is, is dit winter – wanneer die somer hier is, vergeet ons gou van die lang koue nat winter van 2012. Selde, indien ooit, vind ons die betekenis van ritme. Ons tuimel van dag na nag en lê wakker en dink oor werk terwyl ons by die werk droom van ʼn goeie nagrus. Ons strompel van Maandag tot Sondag en onthou nie eers dat Sondag die eerste dag van die week is nie. Ons steier van een maand na die ander; deur een seisoen na die volgende ... nog ʼn jaar verby!
Maar, wat maak een jaar anders as ʼn ander jaar; een seisoen anders as die vorige; vandag anders as gister? Wanneer is anders, anders?
Dit kan tog nie nét gaan oor wat met ons gebeur nie (experiences) of doen dit? Wanneer laas kon ons vir iemand vertel dat ons ʼn fundamentele spirituele skuif gemaak het ... ʼn metamorfose van intensies en gedagtes gehad het en ʼn transformasie van die siel ervaar het!? As die een dag net soos die ander omblaai, die een week in dieselfde kleur geskryf staan as die vorige een, bly ons in die nag van verbeeldingloosheid dat ons net leef in die makaber van doodsgeraamtes aan die gang hou en te doen gekry het met die uitsigloosheid van ʼn onbereidwilligheid om te verander, te vernuwe, en te verbeter.
In PG du Plessis se drama “Siener in die Suburbs” sê Tiemie: “ʼn Mens wil nie soos ’n hond vrek nie. Jy wil van geweet wees. O, ek wil so graag van geweet wees.” Maar, dan kan ons nie ophou sandkastele bou omdat ons bang is vir die hoogwater nie! Ons kan nie ophou kaskarre bou net omdat ons nie kans sien vir die afdraande of te moeg is om weer tot bo te stap nie! Hou op settle vir middelmatigheid (mediocrity) want niemand het die reg, óf krag, om jou te stroop van jou drome óf potensiaal nie.
Omring jou met mense wat weet van sandkastele én weet van getye, maar wees moedig genoeg om jou eie spore te stap op die strand. Om ‘van geweet te wees,’ is nie ʼn vraag vir mooiweersvriende nie maar ʼn vraag na eksistensie (wese) en bestaan. Die vraag ‘WIE IS EK?’ vra dit nie net aan myself oor myself nie maar ook aan ʼn ander vir wie ek ʼn naaste is.
Miskien sal ek die verwarmers en warmkomberse hou vir nog ʼn dag of twee – just in case – of voel ons reeds dat vandag se reën anders is as die reën van September?
OM VAN GEWEET TE WEES
i. Verhouding met myself: waar ek, ek kan wees met myself?
ii. Verhouding met my ewemens: om myself te wees by ʼn ander?
iii. Verhouding met God: vandag is anders, anders as gister?
Hoe bring ek hierdie Drie-Eenheid in balans en harmonie?
Dit is Sondag die EERSTE dag van ʼn nuwe week, die eerste Sondag van ʼn NUWE maand. Kom ons doen dit anders, anders en wees daar 10h00 mét of sonder reën!
Ons begin die laaste blok van ACIM op Donderdag 11 Oktober. Jy is steeds meer as welkom om in te skakel want ons lees en bespreek spesifieke gedeeltes uit die boek.
Daar is ʼn lys van 60 ‘gesprekke’ oor ʼn verskeidenheid van temas beskikbaar op CDs wat opgeneem is toe ek by Kruiskerk was, asook ʼn volledige stel oor die “Geskiedenis van die Bybel”. Kontak my gerus indien jy belangstel.
Jy ook elke vorige week se gesprek en liturgie kan aflaai onder TEMA ARGIEF.
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
“Life is full of beauty. Notice it. Notice the bumble bee, the small child, and the smiling faces. Smell the rain, and feel the wind. Live your life to the fullest potential, and fight for your dreams.” (Ashley Smith)