Hierdie week se liturgie: 6_april_2014
ʼn Nuwe maand, ʼn nuwe seisoen en hoe lekker is die herfsreëns nie ... opnuut word mens bewus van die woorde uit Prediker dat alles het ʼn vasgestelde tyd. In Afrikaans het ons net een woord vir ‘TYD’ maar die antieke Grieks het twee woorde — Chronos (waar chronologie vandaan kom) kan gemeet en definieer word; dit word verdeel in kompartemente van maande, weke, ure, minute, sekondes. Maar daar is nog ʼn woord vir tyd — Kairos, wat verwys na ʼn seisoen, ʼn geleentheid, ʼn bewuswording van ʼn oomblik wat nie vasgevang kan word in die koördinate van ʼn horlosie nie. Chronos verwys na ʼn letterlike tyd, vandag is 2 April 2014. Kairos, is die gevoel van winter wat aan die kom is, die koel Noordwesterwind wat van die see af waai, die herinnering dat ons uit die grotte van ʼn somer-lewe in toe kantore met lugversorging kan kom om die winterson op ons gesigte te voel. Chronos vra — “hoe laat is dit?”, Kairos sê — “We move from measurement into meaning”
Chronos sê, “Nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie handevou en bly lê.” (Spreuke 6:10). Kairos antwoord, “Doen dit, omdat julle die tyd (kairos) ken, dat dit alreeds die uur is vir julle om wakker te word uit die slaap; want nou is redding nader aan ons as toe ons tot geloof gekom het.” (Romeine 13:11)
Kom ons vergelyk Chronos en Kairos met ʼn orkes — wanneer ʼn orkes bymekaarkom dan stel hulle hul instrumente in op A sodat al die instrumente geharmoniseer is want anders is dit ʼn kattekonsert van dissonansie en geraas. Chronos kyk na die wit en swart note op ʼn musiekblad en almal speel in tyd. Kairos voel en beweeg in die harmonie om elke noot met ‘kleur’ te speel (dit staan in musiek bekend as tembre). Die melodie is nie in stryd met die note nie, dit probeer dit nie beheer nie. Musici sal vir jou sê dat hul hele liggaam is betrokke by die harmonie — elke asemteug, die manier hoe die hand bo die klaviernote of op die snare gehou word, jou hartklop en gehoor is gespits terwyl jou siel die tempo resoneer. Every moment of the music, not only the Intro and/or Crescendo is in tune with the key of life.
Die Andante is nie meer belangrik as die Allegro nie, dit vorm ʼn geheel. Elke viool vorm deur van mekaar, soos die viole deel vorm van die fluite, ensovoorts. Elkeen het sy plek in die beweging van die komposisie.
En so is dit in die lewe — as ons alewig daarteen stry, dit wil buig en beheer om in te pas by ons ‘idee’ van tyd, tempo, ritme ... dan is daar disharmonie, raak ons van balans af, en so verloor ons ons insig (wysheid) en uitsig (waarheid) van die Groot Simfonie (i.e. Lewe). Miskien is dit waarna Psalm 90:12 verwys as dit sê, “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.”
Wanneer daar verwys word na NOU is dit die enigste oomblik waar ons kan kies tussen Chronos en Kairos. As ons vashaak by Chronos mis ons die geleentheid om te kan kies vir ʼn groter potensiaal wat in ons opgesluit lê. Dan raak ons so gefikseer met ‘tyd’ dat alles ʼn dolle gejaag word en so sterf ons terwyl ons nog lewe. Kairos bring keer op keer ʼn nuwe geleentheid om ons ‘gedagtes te verander’ en te fokus op die dinge wat regtig van belang is.
In die Kerklike Jaar is ons in die tyd van purper ... die tyd wat bekendstaan as ‘Lydingstyd’ waarin die Christendom in nadenke en bepeinsing die tyd onthou wat opgeloop het tot Jesus se kruisiging. Eersdaags is dit Paasnaweek waar ons in die Kruisiging van Jesus aan ons eie kruisiging dink maar ook ons eie Opstanding vier. Ja, elke dag kruisig ons onsself tussen twee moordenaars — skuldgevoelens (gister) en vrees (môre). Dan onthou ons weer die woorde van 2 Petrus 3:8-9 wat sê, “Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle bekeer (gedagtes verander).”
Dít is ons tema vir April 2014 — VAN KRUISIGING NA OPSTANDING! Hierin gaan ons temas verken van al die maniere waarop ons onsself en ander om ons vasspyker teen ʼn dwarsbalk, maar waar ons ook gaan gesels oor elke moontlike manier van bevryding in ʼn vertikale balk van opstanding. Die spanning van ʼn horisontale balk wat ons wil beperk in die eng beskouing van definisies, die beperkings van vorme, en vals note van dimensies om sodoende te kom by ʼn plek waar die ewige stroom van energie en lewe deur ons vloei soos ʼn vertikale balk. Ons is lankal verby die doringkrone en spykers van vorm, definisies, en dimensies en dit is tyd om nuut te dink wat ‘Opstanding’ beteken. Die twee woorde wat uitstaan in dié komposisie is ‘compassion’ en ‘mindfulness’ wat ons Kairos word vanaf die ashoop van drome wat verloor is en abstrakte persepsies van alles wat kon/kan wees, na die sin van potensiaal wat opgesluit lê in elke oomblik.
Kom ons maak tyd (Chronos) om eerskomende Sondag tyd (Kairos) te vind om een uur anders te maak as al die ander ure en in daardie herinnering ʼn nuwe maand sinvol te begin. ʼn Maand wat anders is as die maande wat verby is ... ʼn maand waarin ons ons Self vind.
>>>> ACIM BEGIN WEER NA DIE PAASNAWEEK — ONS HOU JULLE OP HOOGTE VAN DIE DATUM
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
“Time is not money, time is life, time is love.” ― Thich Nhat Hanh
Ons eers Algemene Vergadering van Neo-Spektrum as NPO vind plaas op 13 April 2014 direk na ons oggenddiens. Meer inligting daaroor word eersdaags gestuur. Almal is uiteraard welkom by die vergadering alhoewel volgens wet slegs lede stemreg het op die vergadering. Indien jy ʼn lid wil word van ons amptelike struktuur kan jy ʼn epos stuur aan Riaan Neethling wat die nodige vorms vir jou sal aanstuur — riaan.neethling@gmail.com