Liturgie: 5_junie_2016
Wie peuter met die lang en kort arm van tyd want hier is ons in die sesde maand van die jaar 2016? Ek het gedink met die Beer-poot in verbande sal dit ʼn week wees van tot verhaal kom en die stadiger pas gebruik om op te vang met my leeswerk, maar helaas is daar geen einde aan elke dag se ritme nie en met seun in eksamen is elke gebed ook meer geartikuleerd. Blaai ek deur ʼn dosyn boeke op my bed opsoek na ʼn tema vir Junie toe ek ʼn kort sms kry van iemand wat dankbaar ʼn waardering uitspreek vir die werkswinkels oor die Geskiedenis van die Bybel en net daar en dan besluit ek om Junie te wy aan 4 name uit die Bybel. Ons gaan dié maand gesels oor: Moses, Dawid, Johannes, en Paulus — elkeen se agtergrond en konteks, aspirasies en inspirasies, betekenis en invloed.
Vra jy vir mense wie Moses was, is die antwoord redelik standaard – mandjie in die biesies, 10 plae, 10 gebooie, met ʼn kierie wat water skei tussen die twee! Indien jy sou vra of Moses se geskiedenis vandag nog belangrik is, sal die meeste mense seker antwoord, “Nee!” Ek hoop om in die volgende vier weke vir jou aan die hand van dié vier Bybel figure nie net die geskiedenis van elkeen toe te lig nie maar jou op ʼn reis te vat hoe ons eie lewensverhale geweef lê in die inhoud en inspirasie van elke karakter.
Die verhaal van Moses begin in 1525BC toe Farao Tutmoses (I) ʼn dekreet uitvaardig dat al die Hebreër seuntjies om die lewe gebring word omrede hul getalle ʼn bedreiging ingehou het vir die Egiptenare. Die woord ‘Hebreër’ is afgelei van die Egiptiese woord HABIRU wat beteken – vreemdelinge sonder grond. Die seuntjie in die biesies word gebring na Prinses Nefure wat hom grootmaak as haar eie kind. Sy Egiptiese naam was Senmut en was geskool in die Egiptiese taal, kultuur, godsdiens en filosofie en was ook die Farao van Etiopië. As aangenome seun van Nefure sou daar van kleinsaf ʼn spanning wees tussen hom en sy ‘halfbroer’ Tutmoses (III) en is daar sterk sprake dat Moses homself Tutmoses (II) was en omrede die moeders die volgende Farao aangewys het, is dit moontlik dat Moses in lyn gestaan het om die volgende Farao van Egipte te word.
Na die voorval waar hy die Egiptiese soldaat om die lewe bring, vlug hy na Midian aan die skiereiland van Akabah waar die Midianiete gewoon het wat nasate van Abraham was, wat ʼn konkubine gehad het met die naam Keturah by wie 6 seuns gebore is onder andere Midian wat hom in die area gevestig het. Daar trou Moses met die dogter van ʼn Midianitiese priester genaamd Yetro. Haar naam was Zepporah wat ‘voëltjie’ beteken. Intussen word Tutmoses (III) die Farao van Egipte wat later bekend sou staan as die Napoleon van Egipte deurdat hy 350 stede in sy heerskappy verower het. Na hom word Amenhotep (II) die Farao en kort daarna sy seun Amenhotep (III) wat die Farao sou wees met Moses se terugkeer om die Habiru volk te verlos.
Die eerste vraag wat ons vir onsself moet vra: was Moses se geloof ʼn kruisbestuiwing tussen die Egiptiese en Midianitiese godsdiens want daar is geen twyfel wat die invloed van Yetro was op Moses se ‘nuwe’ Godsbeeld nie en daarmee saam moet die invloed van sy suster Miriam (wat die eerste profeet in Bybel genoem word) nie onderskat word nie. Wat was die Midianitiese geloof? Yetro stel Moses voor aan die Godsnaam YHWH (Yahwe) wat ʼn natuurgod is wat op die berg Sinai woon in die suide van die Sinai woestyn. Dit was nie, soos baie mense glo, ʼn monoteïsme (een God alleen) nie maar wel ʼn henoteïsme van één God wat die oppergod is bo al die ander gode. Idiomaties sou die woord YHWH vertaal kan word met — he that causes to be — en in die lettergebruik van die Hebreeuse taal staan die letters vir — hy wat is en was en sal wees. Vanweë die geografiese ligging van Midian was dit sterk beïnvloed deur die Egiptiese, Kanaänitiese, en Mesopotamiese kultuur en godsdiens. So sou die Godsname van die Kanaäniete net so oorgeneem word deur die Midianitiese en later Joodse godsdiens. Onder andere — Adonai (Here God), El-Shaddai (God Almagtig) en El-Elyon (God die Allerhoogste).
En dit is hier waar ons eerskomende Sondag gaan stilstaan en die verhaal van Moses verwoord in die gebeure by ʼn ‘brandende bos’ by Horeb (wat ‘woestyn’ beteken in Hebreeus) in Sinai (wat ‘doringbos’ beteken). Die prins van Egipte word ʼn herder waar hy sou leer om te lei, te beskerm en te versorg. Ons lees dat die “Malak (boodskapper) van die Here het aan hom verskyn” en hier maak ons kennis met ‘engele’ soos reeds genoem. Soms het hul name gehad soos Gabriël (Daniël, Sagaria, Maria) en ander kere Michael. Die Serafs (met ses vlerke) en Gerubs (vier vlerke) wat om die troon van ‘vuur’ sing “Hosanna, Hosanna!” en verdamp in die vuur en opnuut gebore word uit die vlamme. Vuur is die simbool van loutering en suiwering en daarom word die teenwoordigheid van God altyd vereenselwig met vuur. Waar vuur is, daar is God. Moses gaan sy gang, hy ken die paaie tussen oases en waar om wilde diere te verwag. Amper soos Petrus later wat net nog ʼn dag sou uitgaan om vis te vang, gebeur daar iets met Moses wat sy ganse lewe sou verander en geboorte sou gee aan die identiteit van ʼn volk en die totstandkoming van ʼn Godsdiens wat ʼn profound invloed het op ons eie Godsdiens.
Dwarsdeur sy lewe, sou die teenwoordigheid van God sigbaar, aanvoelbaar naby wees. In ons soeke na ons eie ‘St Elmo’s Fire’ staan ons stil en vra vir onsself dieselfde vrae wat Moses gevra het: WIE IS EK? WIE IS U? --
💐 Living God — Ek is wat ek is, wie ek is, wat ek sal wees ... die Lig van Lewe
🌺 Holy God — trek jou skoene uit want die grond waarop jy staan is heilig
🌸 Compassionate God — met liefde en genade oorvol, oorloop, oorgenoeg
🌻 Present God — nie ʼn God van vêr met witbroodjies nie maar teenwoordig
🌼 Relationship God — wat mense gebruik in hulle verhouding met mekaar
Die TEENWOORDIGHEID VAN GOD vra nie jou ability nie maar slegs jou availability — die roeping van Moses is ʼn oproep tot BETROKKENHEID wat sê: God is nie ʼn god van piramides nie maar van mense!
Daar is nie ACIM môreaand nie want ek is nog nie mobiel nie. Sal laat weet wanneer ek weer kan bestuur.
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“I am only one, but I am one. I cannot do everything, but I can do something. And because I cannot do everything, I will not refuse to do the something that I can do.” ― Edward Everett Hale