Hierdie week se liturgie: 5_augustus_2012
ʼn Nuwe maand, ʼn nuwe begin –
Ons is in die middel van Olimpiese Spele en ek moet sê, ek is nie regtig ʼn TV persoon nie maar ek sit vasgenael voor die TV om te kyk hoe atlete van oor die hele wêreld met elegansie, krag en jare se oefening met geduld en dissipline hul sport beoefen. Mens kan nie anders as om ʼn knop in jou keel te kry as die landsvlae gehys word en die volkslied van ʼn goue medalje word gespeel nie ... wat nog te sê toe Cameron van den Burgh daar staan met ʼn nuwe wêreldrekord of toe Chad le Clos gisteraand die magtige, 15 goue medalje wenner, Michael Phelps wen in vlinderslag vir nog ʼn goue medalje! Whao, welgedaan!
Tydens die onderhoude is dit opvallend hoeveel atlete (veral uit Amerika) se eerste reaksie is om ‘eer en hulde’ te bring aan God. Dit is natuurlik met ʼn opregte intensie van dankbaarheid. Dit is wanneer daar uitgebrei word op hierdie getuienis dat “God het my gehelp om die wedren te wen” en dan wonder ek – wat van die atlete wat met dieselfde toewyding en dissipline; dieselfde geloofsoortuiging en opregte versoek gevra het dat dieselfde God hulle moet help om die wedren te wen? Was hul gebed nie goed genoeg nie; nie opreg genoeg nie; was daar êrens ʼn ‘sonde’ wat nog nie bely is nie; wat het gemaak dat God atleet A se gebed gehoor en verhoor het en atleet B se gebed gehoor en verloor het?
ʼn Mens wil nie eers begin met die gedagtes in jou kop oor ʼn land soos China wat die een medalje na die ander inryg en dit van ʼn kommunistiese land waar niemand aan dieselfde God glo as ‘ons’ indien enigsins in ʼn God glo nie. Hoe is dit moontlik dat hulle die goue medaljes wen as hulle nie eers gevra of gebid of geglo het nie? Het die duiwel dan ook witbroodjies?
“Nou is jy verspot,” word daar uitgeroep “wat het die duiwel daarmee te doen?” En dis ʼn baie goeie vraag: wat het die duiwel daarmee te doen? Ek lees weer die woorde van Helen Keller “It is wonderful how much time good people spend fighting the devil. If they would only expend the same amount of energy loving their fellow men, the devil would die in his own tracks of boredom.” Dit is verstommend in 2012 hoeveel Christene ‘duiwelbesete’ is en hiermee bedoel ek, hoeveel krag en mag aan iets gegee word wat ons dink die teenpool van God is. Die paradoks waarin God hom/haarself geskep het, is ʼn duiwel wat alewig soos ʼn “brullende leeu” (Openbaring) rondloop om goeie Godvresende mense te verslind. Toenemend is ek verstom hoe moderne gesofistikeerde mense steeds in hierdie Middeleeuse drogbeeld glo en suspisieus agterdogtig besig is met verdagmakery as dit kom by goed wat ons nie verstaan nie en vermanend uitroep “pasop vir dit en dat; sus of so want so kry die duiwel ʼn houvas op jou.”
Waar kom die hele idee van ʼn duiwel vandaan as dit in net één boek in die Ou Testament voorkom en dit is ʼn boek uit die Babiloniese Wysheidsliteratuur naamlik die boek Job? So, wie de duiwel is die duiwel en waarom gee ons ‘dit’ soveel energie of skuld vir alles wat verkeerd gaan of sleg is of waar ons nie ons sin kry nie?
Die duiwel tussen ons ore:
• Die ‘aanklaer’ — ons skuldgevoelens
• Die ‘vyand’ — ons vrees
• Die ‘teenstaander’ — ons ego
Dit het tyd geword dat ons, ons teologiese fiksasies — dogmatiese drogbeelde — en psigologiese blameshifting laat staan en verantwoordelikheid aanvaar vir wat tussen ons ore aangaan.
Ons volgende ACIM (A Course in Miracles) byeenkoms is môreaand 7pm by die Kolping Sentrum. Kontak my as jy belangstel om saam te kom reis deur hierdie amazing boek.
Gedagte vir die Week:
“All power comes from God and if it doesn’t come from God then it has no power at all” — ACIM