Hierdie week se liturgie: 4_des_2011
Ons stap van die 11de na die 12de maand. Oor ʼn paar weke van 2011 ... na 2012. Desember is ʼn maand van GEE! Ons neem verlof om vir onsself rus en aan ons Self berusting te gee. Ons gaan met vakansie saam met familie en vriende en gee tyd vir mekaar. Ons koop klein (hopelik ‘bruikbare’) geskenkies vir Kersfees om te sê dat ons omgee. Nie gee om te ontvang nie maar om te ontvang deur te gee. Dit is ʼn beginsel wat min mense snap. Gee en ontvang werk nie met ‘tit-for-tat’ nie! Dit gebeur dikwels dat mens met jou motor ry en ʼn stadiger voertuig voor jou gee vir jou toe deur links te beweeg en dan gaan ons verby en sit ons ons flikkerligte aan om dankie te sê terwyl ons in die truspieël kyk om te sien of hulle hul ligte flikker deur erkenning te gee aan ons ‘dank u’ want ons is so gewoond daaraan om eers te gee as iemand iets anders eerste gee en dan moet daardie persoon ook weer iets teruggee. Ons doen dieselfde met ‘Liefde’ – daarom wil ek ʼn Valentynskaartjie ontwerp wat in plaas van “I LOVE YOU” sê: “I TRADE YOU SO VERY MUCH!”
Baie van ons sal sê: “ek het niks om te gee nie, ek is emosioneel en finansieel bankrot na dié jaar” en sug dan “al wat ek doen is gee en gee en gee en ontvang weinig terug ... waarom nóg gee?” Is dit (regtig) waar? Gee jy regtig meer as wat jy ontvang?
Soos reeds gesê – ons gee tog nie net sodat ons sal ontvang nie? Ons gee tog om te onthou dat ons het en in ons spirituele oorvloed het ons oorgenoeg meer as genoeg om te gee.
Die vraag is: Wat is jy bereid om te gee aan ʼn persoon wat absoluut NIKS vir jou kan teruggee nie?
Handelinge 20:35 – Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: ‘Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang.’ (Die Engelse vertaling sê: “it is more blessed to give than to receive”)
Sondag TEMA: Wat jy voel jy nie ontvang nie is wat jy nie bereid is om te gee nie.
• “There is no happiness in having or in getting, but only in giving” (Henry Drummond)
• Dit is tyd om te gee waarvoor jy omgee ~ !!
Ons sê ook Sondag DANKIE vir die maand wat verby is en DANKIE vir die maand wat voorlê deur brood te breek om te onthou dat ons één is met mekaar en die wyn te drink as ʼn herinnering dat ons één is met God.
Besoek ons FACEBOOK bladsy: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum: Aanwysings: http://kolpingguesthouse.co.za/index.php/directions-from-bellville.html
Mag die res van jul week oorloop van liefde ontvang.
Gedagte vir die Week:
“You give but little when you give of your possessions. It is when you give of yourself that you truly give.”— Kahlil Gibran