4 Augustus 2013

Hierdie week se liturgie: 4_aug_2013

ʼn Gesprek in die kerk oor BEING GAY was en is nog altyd kontroversieel. Daarom pleit ek sedert my eerste bediensingsjare dat die gesprek in die kerk moet gaan oor ‘inklusiwiteit’ want as ons vir onsself uitgemaak het wat die bord “ALMAL WELKOM” beteken, hoef ons nie eers ʼn gesprek te hê oor homoseksualiteit nie. Toe die pous die afgelope week sê dat wie is hy om homoseksualiteit te (ver)oordeel, was daar oor die wêreld ʼn sug van verligting vir baie gelowiges (straight én gay) dat hy die moed van sy oortuiging het om so iets te sê.
Intussen is die Christelike geloof juis inklusief — word ons Bybel nie gelees deur Christen, Jood, én Moslem nie? Die Ou Testament is tog die Joodse Bybel en word grotendeels net so ingesluit in die Qu’ran terwyl Islam Jesus erken as profeet. Die verhale, beelde, metafore, gelykenisse – selfs die name vir God in die Bybel is geleen uit ʼn ryk Midde-Oosterse kultuurgeskiedenis wat nie eie (of eksklusief) Joods is nie. Selfs Paulus sê vir die Ateners in Handelinge 17:23 “Sonder dat julle dit weet, aanbid julle God”
Vir Konserwatiewe Christene is die GAY-onderwerp taboe en het gays nie die reg om erken te word nie wat nog te sê aanvaar te word. Google jy dié onderwerp in verband met Christenskap is dit skokkend om die vooroordele en selfgeregtigheid te lees van mense wat hulself as Christene beskou ... en lees/luister ʼn mens bietjie nader, kom ʼn mens agter hoe hierdie mensbeskouing deur haat en vrees gedryf word. Soveel prejudice, soveel haatspraak.
ʼn Paar maande terug het ons oor die brief van Jakobus gesels waarin staan: “Maar die wysheid wat van bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, sonder skynheiligheid. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” (Jakobus 3:17-18) en daarom wil ek graag dat ons Sondag ʼn gesprek sal hê oor dit wat alle mense (straight én gay) ingemeen het naam respek wat die basis vorm van enige verhouding. Dat verdraagsaamheid die hoeksteen is van elke verhouding. Dat die vrug van die Gees (liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing) die doel is waarna almal streef!
Ek moet nog ʼn gay persoon ontmoet wat vir my sê dit is ʼn keuse om aangetrokke te voel tot dieselfde geslag alhoewel dit absoluut ʼn keuse is hoe jy daarop reageer net soos dit vir my as ʼn heteroseksuele man ʼn keuse is of ek teenoor gay persone gaan reageer met homofobie en/of ek gaan reageer met liefde, aanvaarding, respek, menswaardigheid, en blessing. Een ding weet ek verseker, waarna die digter I D du Plessis verwys as die “vreemde liefde” en Alfred Douglas noem “the love that dare not speak its name” is steeds liefde en liefde laat hom nie vasvang in vorm, definisie of dimensie nie.
Vreemd hoe baie Christene die gesprek oor homoseksualiteit sal begin met “Maar die Bybel sê ...” tot jy vra “Maar waar in die Bybel staan dit ...” dan kan niemand vir jou sê nie want hulle ken nie eers die Bybel nie. So kom ek help jou – Levitikus 18:22 verbied homoseksualiteit. Nou is my versoek dat ons konsekwent sal wees met die Bybel en dan vir onsself uitmaak hoe ons die volgende gaan toepas —
Exodus 21:7 gee riglyne indien jy jou dogter wil verkoop as slavin. Ek sal graag wil weet wat is ʼn goeie prys vir ons dogters? Levitikus
15:19-24 sê dat jy nie aan ʼn vrou mag raak wat menstrueer nie, kan vroue asseblief vir my sê hoe ʼn man mag vra of hul menstrueer
sonder om aanstoot te gee?  Levitikus 25:44 sê dat ʼn mens slawe (mans én vroue) mag aanhou mits hul van naburige lande kom, sluit
dit wit én swart mense van Namibië en Zimbabwe in? Exodus 35:2 sê dat iemand wat Sondae werk moet doodgemaak word. Sal die
regering omgee as die kerk die doodstraf toepas? Deuteronomium 21:17 stel dit duidelik dat ʼn ongehoorsame kind moet deur die
stadsvaders gestenig word want ʼn ongehoorsame kind is ʼn gruwel in die oë van God. Nou wil ek graag weet of dit die stadsraad, die DA
of ANC se plig is om ongehoorsame kinders met klippe dood te gooi? Levitikus 21:20 verbied enige iemand met swak oë om in die
tempel te gaan, is daar enige oogkundiges wat Sondae wil seker maak dat slegs mense met 20/20 visie die kerk mag inkom? Levitikus
11:10 verbied die eet van kreef en prawns maar baie mense reken dit is ʼn ‘kleiner’ sonde as homoseksualiteit, kan die sinode vir ons
uitsluitsel gee hieroor?
Miskien dink jy by jouself, maar Terblanche jy is mos nou absurd! Is ek? ... of is die gesprek oor homoseksualiteit (soos reeds genoem)
eintlik ʼn gesprek oor inklusiwiteit?
In die woorde van John Shelby Spong berus ek: “I have made a decision. I will no longer debate the issue of homosexuality in the church with anyone. I will no longer engage the biblical ignorance that emanates from so many right-wing Christians about how the Bible condemns homosexuality, as if that point of view still has any credibility. I will no longer discuss with them or listen to them tell me how homosexuality is ‘an abomination to God,’ about how homosexuality is a ‘chosen lifestyle,’ or about how through prayer and 'spiritual counselling' homosexual persons can be ‘cured.’ Those arguments are no longer worthy of my time or energy......”
Miskien sal jy ook dink – hou maar lekker kerk Sondag want ek steur my nie oor só onderwerp nie, maar ek wil juis ieder en elk uitnooi om Sondag te kom praat oor ons ‘prejudice’ en hoe ons religie gebruik om dit te regverdig sodat ons vanuit die huis van vrees na die huis van liefde kan gaan sodat liefde, en liefde alleen, sal seëvier!
Kom ons raak vir ʼn uur stil eerskomende Sondag en onthou weer die pad van die liefde neem ʼn duisend vorme aan. Dit sluit in elke verhouding waarin ons staan, elke verhouding wat gekom en gegaan het. Dit sluit byname ons verhouding met God in — en dan begin ons ʼn nuwe maand met ʼn opregte intensie om in ons liefhê ander te aanvaar vir wie hulle is en nie vir wat hul gee of wat ons dink hul kan wegneem nie. Ons maak Augustus ʼn maand waarin ons elke verhouding sal eer en respekteer en dat dit sal begin deur onsself te omvou met liefde vir onsself – nie ten koste van onsself nie maar ter wille van ons Self.

ACIM leeswerk -- Marianne Williamson se boek “The Gift of Change” – Chapter One: Crossing the Bridge – from fear to love.

Besoek ons  FACEBOOKhttp://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.

Gedagte vir die Week:
An authentic life is a matter of becoming who we already are, and all that we truly are! The seed is already within you—of all that God wants you to be! — Fr Richard Rohr 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights