31 DESEMBER
Iemand het êrens gesê, “There’s no such thing as ‘The End’. There’s either ‘Change’ or ‘New Beginnings’.” Die jaar is verby en ek weet dat tyd nie een sekonde vinniger of stadiger tik as ʼn 100, 1000, miljoen jaar gelede nie en tog voel dit of hierdie hele jaar om is tussen 2 en half 3 op ʼn Saterdagmiddag. As mens terugdink, het daar só baie hierdie jaar gebeur — daar is lewe geskenk en lewe verloor; daar is gegroet en daar was ontmoet; daar was dans en daar was trane; daar was skemers en daar was dagbreek (365 van hulle); daar was ʼn spens vol nuwe ervaringe en tafels gedek met herinneringe; daar was momente van verdwaal en oomblikke van gevind; maar bowenal was dit ʼn jaar van intellektuele waarheid en spirituele wysheid: ‘hoe vêr en hoe hoog, hoe diep en hoe wyd die liefde van God strek.’ Maak nie saak wat als die jaar gebeur het nie, een feit bly staan: elke ervaring is ʼn geleentheid om ʼn beter weergawe van jouself te word/wees.
“Sometimes you will never know the value of something, until it becomes a memory.” het Dr Seuss gesê. Geheue is goed om die lesse wat geleer is te onthou. Herinneringe is goed om geleenthede aan te gryp wat oor ons pad kom. Daarom pak ons die mooiste en beste van 2017 in ʼn knapsak vir die jaar wat voorlê. Hier is ʼn handvol gedagtes wat ek dié jaar opnuut besef en ʼn bydrae gemaak het tot die avontuur van wat lewe is en beteken:
Vanuit my stapelhuis in Tamboerskloof is daar ʼn uitsig oor die stad wat my geleer het dat uitsig bring insig ... meer nog, dat uitsig is waarheid en insig is wysheid en ons het beide vlerke nodig om ons oor berge en oseane te dra. Die vere van hierdie vlerke kom deur my daaglikse roetine — lees, gesprek, joernaal, besoek, berading, ontdek, ontgin, formuleer, gebed, en stilte. My spirituele nuuskierigheid en nomadiese kreatiwiteit maak van my ʼn reisiger wat altyd opsoek is na nuwe inspirasie wat soms manifesteer in ʼn verrassende ondervinding en soms in die doolhof van ʼn pelgrimstog. Altyd vorentoe. Elke dag ʼn tree nader aan my Self. My reisgenote is skrywers, digters, skilders ... outsiders, eccentrics, and mystics. Met ʼn outentieke eerlikheid en integriteit poog ek om daagliks die Zeitgeist (tydgees) te interpreteer wat vir ander hoop sal gee in ʼn wêreld wat soms wreed en seer is.
When your heart beats for others, for something higher, something finer and something more meaningful, then there is no boredom in life — staan in my dagboek hierdie tyd laas jaar. Ek glimlag vir die ritme wat homself herhaal — na die somer kom die herfs, die winters gee geboorte aan die wintermens wat sy passie wreek op die hitte van somermaande waarin ek net snags en ondergronds kan verkeer. Maar dan kom die lente weer met die reuk van Jasmyn deur my oop vensters. Ek olie met dankbaarheid en waardering die skarniere van voor- en skuifdeure vir die engele in my lewe wat nooit terugdeins om van hul eie vere met my te deel nie. Sonder daardie vere sou my vlerke net-net die boomtoppe maak maar nooit die horisonne verken van wat dit beteken om deurleefde mens te wees wat drome en realiteit met mekaar versoen nie.
Die Prediker roep — “Geslagte kom en geslagte gaan, maar die wêreld bly altyd dieselfde. Die son kom op, die son gaan onder, en dan haas hy hom weer na waar hy opkom. Die wind waai suid, draai noord, waai hierheen en daarheen en dan draai hy maar weer. Al die riviere loop in die see in, maar die see word nooit vol nie. Die riviere hou aan om te loop na die plek toe waarheen hulle altyd geloop het. Woorde vervaag mettertyd, en ’n mens kry nie klaar met praat nie. Die oog kyk, maar kry nie klaar met kyk nie; die oor hoor, maar kry nie klaar met hoor nie. Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuut in die wêreld nie.” Ah liewe Meneer Prediker, die ‘nuut’ lê nie in die son of wind, ook nie in woorde of sintuie nie maar in die ervaring van ʼn melodie en harmonie wat met siel en hart resoneer!
Daarom was dié jaar gelaai met verskeie ‘nuutes’ en vele ‘eerstes’ ... of dit ʼn bottel wyn is wat die eerste keer geproe is; ʼn lied wat die eerste keer gehoor is; om te sien hoe Formule 1 motors teen 330 km/h teen die pylvak afkom in die Barcelona Grand Prix; die sout seewater in die gym se verhitte swembad in die middel van die winter; elke paartjie wat ek die voorreg gehad het om hul huwelikseremonie te lei; om saam my seun in Maitland se begraafplaas te stap terwyl hy ʼn video skiet; die laaste gesprek met ʼn vriend voor ek hom groet en hy ʼn dag of twee later sterf; of die kelnerin wat my vertel hoe sy en haar pa vanaf Masjonaland in Zimbabwe die 500km te voet afgelê het tot by die grens voor ʼn familielid hul opgetel het en nou 3000 km van die huis probeer om ʼn lewe vir hulself te maak en ek die eerste keer voor ʼn kelnerin bewoë raak.
Tussen die kontradiksies en flirtasies met die lewe in al haar skakerings, was dit ʼn goeie jaar. ʼn Geseënde jaar. ʼn Jaar van transformasie, hoe apokrief ook al, wat ʼn bydrae gemaak het in elke faset van my menswees as ʼn refleksie van dié God wat in die dwarrelwind van my onwrikbare geloof manifesteer. Daarop sê ek ‘Amen’ as ek my glas lig op ʼn nuwe jaar en weereens die ou-bekende refrein prewel, “Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.” (Openbaring 21:5)🎉 Kom sluit eerskomende Sondag saam met ons die jaar af — ons sê “Dankie!” vir die jaar wat verby is en vra “Asseblief” vir die mooiste en beste in die nuwe jaar wat voorlê.
Gedagte vir die Week:
“The meaning of life is to find your gift. The purpose of life is to give it away.” ― Pablo Picasso