30 Oktober 2016

“Rome was not built in a day” lui die spreekwoord ... met die intrapslag by die Piazza del Popolo wat die ou poort in die Noorde van Rome was, besef jy dat hierdie stad, wat bekend staan as ‘The Eternal City’, sy naam te danke het aan ʼn millennia van geslagte. Oral staan daar Egiptiese obeliske wat geplunder is nadat Egipte deur die Romeine verower is in 30BC terwyl die stad se argitektuur wissel van Renaissance na Barok met ʼn invloed van feitlik elke ander land wat oor die eeue Italië verower en beset het. Daar is ʼn vreemde stilte in my soos ek deur die strate stap en die horde toeriste bekyk wat met ʼn ‘selfie-stok’ hul vakansie deur die lens van ʼn selfoon ervaar. Wie is hierdie mense wat in ʼn kerk of katedraal stap met geen respek, geen waardering of agting vir ʼn plek van aanbidding? bly ek myself vra. Sit ek een middag by ʼn straat-kafee in die Piazza della Minerva langs die enigste Gotiese kerk in Rome en begin gesels met twee priesters wat langs my sit en noem teenoor hulle, “As julle alle toeriste in die ±500 kerke nét in Rome vra om één minuut stil te word en te bid vir vrede as hul in die kerk stap, sal dit ʼn energie genereer wat hierdie planeet in sy wentelbaan sal stuit.” Verdedig die een in gebroke Engels, “Too many people” terwyl hy sy skouers optrek en ek daarop antwoord, “Yip, and too many wars ...”

Die dae in Rome is swoel warm vir Oktobermaand en soos ek stap, is dit asof ek myself keer op keer van agteraf inloop. Asof die Westerse beskawing gegraveer is in die argitektuur en interieur van geboue wat dateer van voor Christus en ek na die siel van die Christendom soek in die keistene van pelgrims se spore oor eeue lank. “When in Rome, do as the Romans do” lui ʼn ander spreekwoord ... so ʼn mens stap deur die Roman Forum en staan vir ʼn oomblik stil waar Caesar verraai en vermoor is; jy gooi jou twee muntstukke in Fontana de Trevi en eet Galato roomys op die Spaanse trappe by die Piazza di Spagna; jy stap oor die engele-brug na Castel Sant'Angelo en verwonder jou oor Bernini se reuse engele en gooi ʼn klippie in die Tiber rivier; jy gaan sit op jou bas in die middel van die Panteon en verwonder jou oor die enorme koepel waarvan die brons en goud gestroop was deur ʼn pous om vir Michelangelo te gee vir die konstruksie in die Vatikaan; en stap deur Via Condotti, Via Borgognona en Via Frattina wat die ‘fashion-hub’ van Rome is.

Na ʼn paar dae vat ek die trein na Florence. Teen 250km/h verander die landskap na heuwels en Toskaanse villas. Duisende toeriste in die smal straatjies van Firenze wat lyk soos tonele uit ‘Assassin's Creed’ — een van my seun se PlayStation Games. In Rome sou ek besef: my faith is Life, en in Florence sou ek onthou waarom ek sê: my religion is Beauty! As Rome gebou is op die voetspore van pelgrims wat soek na God, is Florence gebou op die voetspore van pelgrims wat soek na die skone kunste. In die Uffizi kry ek trane in my oë vir die werk van Caravaggio en verwonder my oor die Godlooflike ikoon-versameling; steek ʼn kersie op in die Basilica di Santa Croce; en eet nóg ʼn Galato in die Piazza della Signoria terwyl die aande gespandeer word by een van die kafees langs die Arno rivier waar ʼn mens die bekende Ponte Vecchio kan sien. Ek loop Tom Hanks raak waar hy omring deur sekuriteit, sy nuwe film ‘Inferno’ wat in Florence geskiet is, bekendstel. Ek verwonder my oor sy geduld om almal se boeke, papiere, en wat lyk soos foto's te teken en met almal ʼn geselsie maak en ek wonder of hy ook wonder — om watter hoek, op watter Piazza loop ʼn mens jou siel raak?

Nog ʼn paar dae later vat ek die sneltrein na Venesië ... die WiFi werk nie op die trein nie en die 3h45 rit word ondraaglik lank. Met musiek in my ore en ʼn boek op my skoot sit ek vir ure en tuur na die landskap wat verbyflits. Uiteindelik in Venesië begin dit reën en vir bykans ʼn uur in die reën probeer ek tevergeefs ʼn water-taxi kry na die hotel waar ek vir Eduard, Else-Helene en kroos sou ontmoet. Uit moedeloosheid vir groepe toeriste wat voor die tyd water-taxis bespreek het, kry ek later ʼn privaat taxi om my deur die kanale na die hotelletjie te vat. [Jy wil nie weet wat dit gekos het nie!] Ons stap deur die sprokiesmooi stad wat al sinkende die glorie van vervloë dae besing. Shakespeare se ‘Merchant of Venice’ speel die hele tyd voor jou af terwyl die kontras van rykmanspeelgoed geanker lê in die hawe en jy oor ronde bruggies loop al soekende opsoek ... Ons woon die aand die mis by in die beeldskone Basilica San Marco en na die tyd drink ons Lemoncello en Aperol Spritz. Ons eet by ʼn straatkafee langs die Rialto Brug en kronkel-kronkel terug na die hotel via Google Maps op ʼn selfoonskerm. Wonder ek toe ek die lig afsit, of daar ʼn GPS is wat jou sal lei na die plek waar jy jou siel gevra het om vir jou te wag, net ʼn rukkie, sal nie lank wees nie ... net ʼn paar goed om te doen en toe vergeet het om te onthou?

Want sien, in een heilige oomblik in die klein Katolieke Kerkie op Spui Plein in Amsterdam die dag voor ek huis toe kom, steek ek kersies op vir ons kinders wat matriek eindeksamen skryf en daar tref dit my — my siel was nooit weg nie, ék was. My siel het nie vergeet nie, ék het. Hierdie waarneming het my oorweldig, dat met die aansteek van ʼn kersie word die teenwoordigheid van Lig (in die siel) sigbaar; waar kersies brand, onthou ons die toewyding om die Lig (van die siel) te kultiveer en te voed; en maak ons opnuut weer die belofte om die Lig te laat skyn (deur die siel) want waar ons dié Lig deel, word die wêreld heel.

In Rome lees ek dié aanhaling onder ʼn bronsbeeld van Cicero (die Romeinse Filosoof en staatsman 100BC) — Gratitude is not only the greatest of virtues, but the parent of all others — en plaas toe dié inskrywing op FB toe ek tuis is — Pas terug na ʼn heerlike vakansie in Europa met die grootste geskenk in my tas naamlik: ʼn onuitspreeklike waardering vir ONS land. Vir ons lewenskwaliteit en lewenstandaard. Ons spasie en diversiteit. Ons kos en wyn. Ons vriendelike mense en ubuntu. Ons klimaat en natuurskoon. Maak geen fout nie, dit is ʼn enorme voorreg om in Europa te kan reis maar die dankbaarheid vir wat ons het in dié land, oorskadu enige herinnering waarmee ʼn mens terugkom. Ons moet ophou moun, sagter kritiseer, minder onvergenoegd wees want glo my vry ― ons leef in ʼn stukkie paradys wat ten spyte van ons uitdagings (korrupsie en geweld) die res van die wêreld op die neus laat kyk.

Kom deel in ons gesprek vir November as ons gaan gesels oor die tema: GROWING INTO YOUR SOUL. Ons begin eerskomende Sondag met ʼn gesprek oor Intuïsie (Siel), Gevoel (Gees), Gedagtes (Denke) en die pelgrimsreis tussen hierdie drie wat sin en betekenis kry in die Viering van die Sabbat. Ons gaan gesels oor elke mens se seisoene van Konsepsie (Geboorte), na Projeksie (Lewe), tot Refleksie (Sterwe) en waarom al hierdie padtekens wys na: my credo is Love — hier in Kaapstad, the place we call home!

🌺 ACIM — Maandag 31 Oktober Stad: 19h30 — Donderdag 3 November Kolping 19h30 — Chapter 1: The Meaning of Miracles bl.4

Besoek ons Facebook ​​

Gedagte vir die Week:
“I am no longer afraid of becoming lost, because the journey back always reveals something new, and that is ultimately good for the artist.” ― Billy Joel

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights