Ons het grootgeword met Gesang 6 — “Heilig, heilig, heilig, Heer, God almagtig, groot is U troon, U is steeds met lof omring!” — om een of ander rede was die woorde net nooit sigbaar op die gemeente se gesigte nie ... met so teem stem stram almal deur die hoë note en as ons klaar is, gaan sit almal in verligting – ons staan, ons sing, ons sit, ons klaar gesing. Maar wat sê ons as ons sing, “Heilig, Heilig, Heilig, Heer, God almagtig” want dit sê nie soveel oor God as wat dit iets sê van ons ervaring van God nie? Ons het reeds gepraat oor Heiligheid wat gebore word uit ʼn intieme verhouding met God en dit wat ons onderskei van ander in ons integriteit deur devotion, dedication, and discipline ... en laas Sondag het ons spesifiek gepraat oor Heiligheid wat ʼn nuwe definisie gee aan ons Spiritualiteit deur ons toewyding te kultiveer. Kom ons gesels eerskomende Sondag verder oor Heiligheid en definieer dit nog verder as — [1] the thoughtful love for life; [2] our capacity for brilliance; [3] becoming the watermark of God’s presence; [4] I walk with God in perfect holiness (ACIM: Lesson 156) [5] and holiness as a roadmap back to our Divinity!
In ons verstaan van God sonder vorm, definisie, en dimensie is die vraag of God bewus is dat God (of die Goddelike) Heilig is? God is wat God is en daardie ‘IS’, is in die volle omvang van alles wat is en selfs meer as die alles. Wanneer ons bewus word van die omvang van die Goddelike as ‘the Ultimate’ kom daar by ons ʼn seker ontsag — weereens, God het nie ons ontsag nodig om te ‘IS’ (wees) nie, ons as mens het die ontsag (herken, erken, ken) nodig om onsself te fokus op dit wat in en deur alles LEWE en, soos gesê, steeds meer is as die alles. Daar is géén separation tussen ons en God nie. In die metafoor wat ek altyd gebruik, is die golwe onlosmaaklik deel van die Oseaan. Die golf is nie die Oseaan nie maar kan daarvan nie geskei word nie.
As ʼn mens verdwaal en jy vra iemand vir aanwysings sal hy/sy gewoonlik vir jou sekere landmerke gee om voor uit te kyk sodat jy weet jy is op die regte pad. Dis net die stomme Hollanders wat vir jou aanwysings gee met ʼn “op een gegeven moment” asof enige iemand moet weet wanneer is daardie “op ʼn gegewe moment” wat jy moet links of regs draai. Kom ons verken Sondag ʼn paar van hierdie LANDMERKE om ons pad terug te vind na ʼn deurleefde verstaan wat HEILIGHEID beteken --
1. Die eerste baken wat soos ʼn paal bo water staan, is DANKBAARHEID — tel jou seëninge en nie jou verdriet nie
Waar ʼn mens begin om bewus te word van wat ons IS, meer as wat ons HET, begin die skoenlapper deur die spleet van die kokon beur om sy vlerke te sprei. Natuurlik het ons waardering vir alles wat ons het maar wat ons het, sing Koos du Plessis, is net geleen. Dankbaarheid ontsluit hierdie ervaring van ontsag wat ons padkaart is na die Heiligheid wat ons ken as die teenwoordigheid van God. My heiligheid is so goed soos God se heiligheid, want dit is God se heiligheid soos 1 Petrus 1:16 sê, “Wees heilig want Ek is heilig!”
2. Die tweede wegwyser is LUISTER NA JOU HART — ontgin die krag van stilte
Die meeste mense weet nie wáárvan jy praat as jy sê, “Luister na jou hart” nie asof dit een of ander metafisiese toestand is. Die ego maak van die intellek ʼn god want die ego weet dat die brein nooit iets soos ‘liefde’ kan verwoord, verstaan, of ervaar nie. Die intellek weet van gevoel niks en van emosies (reaksies) alles en verwar die twee deur ‘hoogheilig’ jou wys te maak dat as jy dit nie kan vat, sien, proe, hoor, ruik nie dan bestaan dit nie. Die brein is verknog gegom aan sy eie projeksies van wat werklik is omdat die brein niks verstaan van stilte nie. In die stilte hoor jy jou hart wat jou herinner aan jou heiligheid.
3. Die derde rigtingwyser is VERTROUE — geloof, hoop, en liefde in die NOU
Vandag, nou, is ʼn reuse kosmiese gebeure. Vandag is ʼn leeftyd in al sy seisoene. Kyk na kinders, hulle is waar jy God ook sal vind: DIE NOU! Ons almal ken ons dryfsand van onsekerheid ... ons ken die berge van vrees ... die opdrifsels van selfverwyt en skuldgevoelens ken ons goed. Maar ons weet verseker ook wat dit is om te luister na wat ore nie kan hoor nie, te sien waarna oë nie kan kyk nie en om ons vertroue te skep uit ʼn fontein van lewende water.
4. Die vierde teken is GEDULD — niks kultiveer heiligheid soos verdraagsaamheid nie
Geduld is nie ʼn slapgattigheid wat met ʼn gesindheid leef van alles kan en alles mag solank ons net nie aanstoot gee of verstoot word nie. So ingesteldheid is die broeiplek van skynheiligheid en ons weet wat laasgenoemde woord beteken. Geduld is om met liefde iets uit te tyd en met respek en integriteit nie ʼn saak of persoon reg te wil ruk en pluk nie maar met ʼn Goddelike aanvaarding die golf sy gang te laat gaan waar hy uitspoel en terugtrek uit die Oseaan op die strand. Geduld het niks te doen met ‘wag vir God’ nie maar kalmte en gerustheid dat die pad waarop ek is, is die regte pad.
5. Die vyfde en laaste landmerk is VREUGDE — blydskap ontsluit ons waarde en deugde
Vreugde is die musiek (melodie en ritme) van ʼn lewe wat erkenning gee aan ons Heiligheid. Vreugde is ʼn keuse. Dit is ʼn besluit. Al verstaan ons baie dinge nie, is daar iets wat in besonder sin gee aan ons lewe en dit is ons vreugde. Blydskap het te doen met ons dankbaarheid; dit is die taal van die hart; dit wek vertroue; dit help met geduld; en die vreugde waarin ons dans is die grootste en belangrikste herinnering van ons waarde.
So bereik ons ons bestemming en in ons Heiligheid is ons sagter met onsself, versigtig om ander mense se lewe te wil interpreteer, sensitief oor ons wil-in-beheer-wees, en verseker vry van die ego wat hom wil heilig hou deur ons gevange te hou in ʼn sel van vrees en skuldgevoelens. Kom gesels Sondag saam met ons hieroor en bring iemand nuut saam na ons Wysheidsirkel. Wie weet, dit is dalk die grootste geskenk wat jy jouself en iemand anders kan gee.
ACIM: Kolping: 27 Augustus 19h00. Stad: 31 Augustus 19h30 — Chapter 17: Forgiveness and the Holy Relationship, Section VII ‘The Call for Faith’ — P367 Hardeband Boek
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“If we are growing holier, we are growing kinder.” ― Andrew Bonar