3 September 2017

🌺 Soos gebruiklik op elke eerste Sondag van September bring ons blomme en ons het ook toestemming gekry om ʼn boom te plant langs die Kapel en gaan dit na die diens doen. Hoop om almal daar te sien! 😉
ʼn Nuwe maand. ʼn Nuwe seisoen. Vier maande voor die einde van die jaar ... waar is die tyd heen, en sal dit asseblief so bietjie langer Winter bly sodat ons nog baie reën kan ontvang?

Gister sit ʼn man op my bank wat ʼn afspraak gemaak het met ʼn Facebook boodskap. Hy is op besoek in die Kaap uit Gauteng. Aandagtig sit ek en luister na sy lewensverhaal, wat soos ons almal se storie, gevleg is in ʼn tapisserie van ervarings. Uiteindelik kry die gesprek ʼn spirituele draai — “As dit my begeerte is om ʼn sinvolle lewe te lei, geïnspireer deur liefde en vrede,” vra hy “waarom bly die teenoorgestelde opdaag voor my deur?” Suksesvol in sy werk, sterk bande met familie en vriende, wel berese en belese, aantreklik en geseënd met ʼn flink brein, verstaan hy wat dit is om verantwoordelik te vat vir wat hy aantrek in sy lewe. “Wat is dit wat bly opdaag voor jou deur?” vra ek. Hy vertel hoe hy ʼn besigheid begin het met 3 mense en vandag werk 30 mense vir hom maar hy het sy entoesiasme verloor; hy kom uit ʼn gesin van 5 kinders maar het ʼn broer wat geen kontak het met sy ouers nie en wat finansieel afhanklik is van hom; en van al die plekke waar hy al in sy lewe gewoon het, moet hy nog die plek vind wat hy kan noem: ‘home’ ...

Rusteloos gesels hy nog ʼn halfuur voor hy vra, “Waarom het God my gay gemaak?” Vir ʼn oomblik is ek uit die veld geslaan omdat ek dit nie verwag het nie. My eerste reaksie is dat God maak nie mense gay nie net so min as wat God besluit wie is wit of swart, blou of bruin oë, dik of dun ... maar moet dadelik toevoeg dat ek, as ʼn terminale straight man, nie eers kan begin om die kompleksiteit van homoseksualiteit te verstaan nie — ek begryp wel iets van verwerping, ek verstaan wel genoeg van ʼn lewe wat vir baie lank moes verduidelik en verdedig, en ek verstaan verseker wat dit is om te verdwaal in die doolhof van onsekerheid waar dit soms gevoel het die lewe is nie fair nie as ek myself bejammer het op die ashoop van wat ek gedink het is onregverdig.

Vir ʼn oomblik is daar stilte ... “Hoekom voel jy iemand het jou hart gebreek?” vra ek. Toe is dit hý wat stom is want eweneens het hy nie die vraag verwag nie. “Hoekom sal jy dít vra?” en hy lag verleë, “Is dit nie maar meestal die oorsaak wat mense laat soek en roep na God nie?” antwoord ek en skielik begin dit buite reën ... iemand het eenkeer vir my gesê, “Ek het nie jou hart gebreek nie, JÝ het jou hart gebreek ... en dit het my hart gebreek!” Die res van ons gesprek het gegaan oor misaligned attractions en die goed wat ons willens en wetens aantrek omdat daar obviouslysekere goed is wat ons nog moet leer, of dalk moet ontleer. Ons gesels oor spiritual alignment waar ʼn mens soms kognitief ʼn skuif in jou kop moet maak oor goed wat gebeur en veral hoe ons daarop reageer, en veral hoekom dit uit my verwysingsraamwerk, en harde duur lesse, noodsaaklik is om ons siel-denke te koester en kultiveer. Ons seksuele oriëntasie mag verskil maar op pad voordeur toe kan ons met vrymoedigheid (h)erken dat ons paaie vir hierdie oomblik gekruis het om mekaar te herinner — that we both signed up to teach others to love and accept those who aren’t in the mainstream of life! Dat die plek wat ons noem ‘HOME’ lê aan die binnekant en is nie gemaak van stene en sement nie. Wanneer ons daardie liefde en vrede ervaar aan die binnekant begin ons dit na ons toe aantrek in ons gesinne, vriendekringe, werk, persoonlike lewe, en huwelik ... want ons reageer dan vanuit ʼn spirituele domein van liefde en vrede.

Terwyl die besoeker sy voorruit toemaak, sê hy skertsend, “Miskien as jy my weer sien, staan ek op die hoek van die straat as bedelaar?” waarop ek groet met die versekering dat miskien is dit die roeping van ʼn bedelaar om by mense ʼn bewussyn te kweek om met medelye na mekaar te kyk en is dit die edelste professie wees as hy by net een mens, al is dit dan net by my, ʼn begrip van compassion los wat die liefde en vrede sal laat seëvier. Die God waarin ek glo, verskyn in ʼn veelkleurige kleed wat jou soms verras waar ons ontvanklik is om dit te sien. In elk geval dink ek dat as Jesus vandag in Kaapstad moes wees, sou hy ʼn bedelaar wees ... want hy sou verseker nie welkom voel in ons kerke, parlement, hofsale, direksievergaderings, skole of rugby-wedstryde nie. Hy sou nie hoef te bedel vir kos of geld nie maar wel vir jou aandag, vir jou tyd, vir ʼn oomblik se stilte. Hy sou vra waarom is God goed genoeg wanneer jy ʼn krisis het, maar vergete as dit goed gaan? Hy sou wou weet waarna jaag jy, wat voel jy jy kom nog tekort? Hy sou beslis vra waarom tyd met God moet wag tot jy niks anders (beter) het om te doen nie, of wou weet hoe dikwels sal jy met jou vriende of gesin ʼn ervaring met God deel, en saam jou kind, man of vrou bid, of skram jy weg agter verskonings en redes?

Vreemd dat ons mense sielsgenote (mind you) noem maar nooit ooit met hulle my ervaring en verhouding met God deel nie. Dat hul om jou tafels met kos vir die honger en wyn vir die dors kan sit maar nooit saam jou gaan na die plek waar jy kos vir die siel en wyn vir die gees ontvang nie. Sielsgenote? Ons is klaaglik arm en kaal.

Lank na die man weg is, sit ek steeds in my wiegstoel en bedink die ‘ontmoeting’ ... ek sluit my oë in ʼn gebed en vra vir vere in die vlerke van elkeen wat hom/haarself ervaar as vreemdeling. Ek sê dankie vir elke herinnering dat ons deel is van dieselfde Liggaam. Die voet hoef nie die hand daarvan te oortuig nie en daar is geen spanning tussen die oog en die oor nie. Die bloed bruis deur my are. My hart klop — 4800 keer per uur, that’s a whopping 115,000 times a day. Ek gee elkeen, met vrymoedigheid, terug aan God.

Hoekom vertel ek op hierdie Woensdag vir jou die lang storie? Want dis ons almal se verhaal. Vir die volgende maand gaan ek gesels oor julle vrae. Jy kan dit epos of anoniem doen deur dit Sondae in die ‘DANKIE-BOKS’ by die deur te gooi. Jy kan enige iets vra ... mens is en bly net dom as jy nie vra nie. Elke Sondag gaan ek ʼn lysie maak met jul versoeke. Ek gaan nie name noem of jou in die kollig plaas nie. Ek gaan bloot my bes probeer om dit op ʼn sinvolle manier te antwoord sodat ons almal daardeur tot nuwe insig en uitsig kom. Neem die vrymoedigheid en maak tyd om dit by my uit te kry. Dis jou kans om wat jy nog altyd wou weet of verstaan maar nie Sondae die moed het om te vra nie, nou te vra. JUST DO IT!

Ons begin eerskomende Sondag om 9 uur met ʼn stil-meditasie-en-oordenking. Die wat 9 am by die Kapel wil wees vir so 20 minute se stilte voor ons 10 uur begin is meer as welkom. Marieta van der Riet gaan dit lei en daarna kan jy ʼn koppie koffie drink in Kolping se koffie/tee area en daarna by ons aansluit vir ons Celebration of Life.

🌺 ACIM — Kolping: 30 Augustus @ 19h30 en Stad: 4 September @ 19h30 — Lessons 1-10

Besoek ons Facebook ​​​​​​​​​​​

Gedagte vir die Week:
“See yourself as a single cell in a body called humanity, and vow to be a cell that cooperates with all adjacent cells with a sense of belonging to the whole. View uninspired thoughts and actions as impinging on your well-being and that of all humanity.” — Wayne Dyer

Liturgie: 3_september_2017

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights