Liturgie: 3_julie_2016
Soos ek laas Sondag staan en Paulus se bekende woorde lees aan die gemeente in Korinte, voel dit of elke lettergreep skielik betekenis kry. Vir ure daarna maal die woorde steeds deur my kop — “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” Vir hoeveel troues se bevestiging, hoeveel versoeningsgesprekke tussen paartjies wat mekaar verinneweer, was dié woorde al ʼn bron van hoop en heling? Ons ken dit. Ons knik ons kop instemmend as ons dit hoor. Ons haal dit aan as die geleentheid daarvoor vra ... en steeds wonder ons, wat is liefde?
As ʼn mens die woord ‘LOVE’ in Google tik, slaan jy 1.7 biljoen (ja jy lees reg) hits in 0.4 sekondes. Daar is met ander woorde 1.7 biljoen verwysings na ‘liefde’ op die internet — briewe, gedigte, lirieke, verhandelings, voorlesings, liedere, blogs, aanbiedings, preke, en wat weet ek veel ... en nog v
ra die mens, wat beteken liefde? Kom ons gesels dié maand oor die tema — LIEFDE IS ‘N WERKWOORD!
“Want wat beteken liefde as jy dit nie gaan gebruik nie of 'n blom se geur as niemand daaraan ruik nie” sing Lukas Maree in sy lied ‘Weduwee se Kruik’ wat ʼn mooi metafoor is want die blom is nie die liefde nie, die reuk/ruik is wel. Blomme sê niks van liefde nie, die gee en ontvang doen wel. Ons het hierdie verwronge idee dat romantiese liefde is die belangrikste, daarna volg liefde vir jou kinders en ouers, dan staan vriende en familie in die lyn en as daar iets oor is, kan die res dit deel. Verder verkeer ons in die waan dat die liefde tussen twee bemindes is anders as die liefde vir jou kind en/of ouer en hulle liefde is weer anders as liefde vir vriende en dit is gans anders as die liefde wat jou peul vir ʼn vreemdeling op straat. Miskien is dit ʼn oorblyfsel van die antieke Griekse wêreld wat ses verskillende woorde vir liefde gehad het — eros: erotiese liefde; philia: vriendskap liefde; philautia: liefde vir die self; ludus: speelse liefde; pragma: langdurige liefde; en agape: liefde vir almal. Vir Jesus was al hierdie benamings van liefde net manifestasies van één en een Liefde alleen en dit is agape waarna die brief van Johannes verwys as hy sê, “Elkeen wat liefhet, is ʼn kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is agape” (1 Joh 4:7-8)
Dit is so dat liefde enkel en alleen sigbaar word vanuit ons verhoudings en daarmee word gesê, AL ons verhoudings — my verhouding met God, my verhouding met my beminde, my naaste, my verhouding met die natuur, met my kultuur, en die struktuur (werk, wette, wêreld) en bowenal, my verhouding met myself. Daar kan nie sprake wees van liefde in een departement maar die res ly honger en dors nie. Liefde is liefde is liefde ... altyd, almal en alles. Hierdie liefde is getrou in ons sukses én ons mislukkings. Dit is ʼn liefde wat ons dra (en verdra) in ons geluk en ons weer-probeer. Dié liefde word verwesenlik in al ons omstandighede, teleurstellings, seisoene, plekke wat ons het en plekke wat ons besoek.
Maar, en dit is ʼn versigtige maar, liefde moet gekultiveer en gekoester word en nooit vanselfsprekend aanvaar word nie. Almal van ons moes al mense groet aan die lewe en aan die dood om met genoeg skuldgevoelens en vrees te loop oor liefde wat verloor en vergeet is daarom is ons bewus van die behoefte om lief te hê en liefgehê te word. Liefde is nie ʼn kompetisie nie. Dit werk nie met tit-for-tat nie. Liefde maak ʼn kompromie, dit deel verantwoordelikheid, dit is groter en sterker as die ego se tantrums. Liefde word NIE verdien nie — en solank dít jou filosofie is, sal dit al wees wat jy vir liefde kan wys — ʼn filosofie.
Christus se definisie is eenvoudig — doen aan ander wat jy aan jouself gedoen wil hê, en voeg dan by — liefde is nieteenstaande, desondanks, ten spyte van ... omrede die liefde wat ek in my dra presies een-en-dieselfde liefde is wat God vir ons het. Selfde vorm, definisie, dimensie, inhoud, en betekenis. Hierdie liefde kom met aanvaarding, respek, lojaliteit, menswaardigheid en seëninge. Love is doing good beautifully.
Liefde is ʼn konneksie — gebaseer op die mate van self-aanvaarding en hoe oop, eerlik en blootgestel (vulnerable) ʼn individu bereid is om te wees. Dit kan net verwesenlik deur ʼn gesonde selfbeeld wat optree met integriteit in die moontlikhede én beperkinge van ons mens-wees waarin ons handel-en-wandel met die mooiste en beste intensie wat enersyds ons eie liefde laat floreer en sodoende die beste in ander na vore bring. Die oomblik wat ons ontrou is aan onsself, stort ons selfbeeld, selfwaarde, en selfrespek in duie. Needs & Expectations neem oor. Manipulasies & Assumptions word die fokus. Gou daarna word ons beheer deur projeksies & persepsies en al wat oorbly, is — ruled by anger, and driven by fear!
“Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.” (1 Kor 13:4-7)
Kom ons begin ons maand se gesprek oor ‘LIEFDE AS ‘N WERKWOORD’ met die volgende paar gedagtes en dan weeg ons dit teen bogenoemde --
Daar is geen manier dat ek myself wil voorhou as ʼn meester of baas van hierdie onderwerp nie. Wat ek wel oor die jare geleer/ervaar het, is om nie liefde te verwar met behoeftes en verwagtinge nie. Dat, net omdat ek nie liefhet op die manier wat jy wil hê ek moet liefhê nie beteken dit nie dat my liefde minder of gering is nie. My onwrikbare liefde vir God en my deurleefde ervaring van God se liefde vir my, staan soos ʼn paal bo water. Miskien is my verlede ʼn wond om hierdie liefde te manifesteer in persoonlike verhoudings maar ek sal nie opgee nie ... ek sal aanhou glo in die potensiaal van liefde deur dié Liefde wat in en deur my vloei. Mag die maand se reis die gordyne lig vir die Lig wat Lewe gee sodat Liefde ons skaduwees sal vind.
ACIM — ons begin weer na die skoolvakansie!
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“Love has nothing to do with what you are expecting to get — only with what you are expecting to give — which is everything.” — Katharine Hepburn