Hierdie week se liturgie: 29_september_2013
Ek en my seun sit gisteraand in ʼn diep gesprek oor Spiritualiteit versus Godsdienstigheid ... ons praat oor die wonderlikste ding denkbaar, naamlik ‘liefhê’ en wonder hoe en waar het ons dit verruil vir ʼn wêreld van vrees? Ons praat oor God as Lig, wat ons ervaar as Lewe, en reflekteer in ons Liefde. Hy vra: “Waar is die hemel pappa?” en net soos my antwoord oor God sê ek: “... oral waar jy ingaan my kind!”
Ek kom af op ʼn kantaantekening in ʼn boek wat in 2002 deurgelees is wat sê: “Waar is die hemel? Is dit ʼn plek; wat doen hulle daar ...? Weet hulle ek is op pad?” Dit was nog altyd vreemd hoe die mensdom dink oor die begrip ‘HEMEL’ – as ʼn plek met vorm en dimensies; ʼn plek waar ons met ons gestorwe geliefdes verenig word; ʼn plek waar ek aankom met ʼn nuwe ‘lyf’ en ek al my sintuie tot my beskikking het behalwe net dat alles daar perfek werk. Dis hoe ons van kleinsaf geleer is en ons vra nie vrae daaroor nie. Ons het ʼn hele mite geskep oor die ‘hemel’ as plek en weet nie eers wat word bedoel met ‘hemel’ as ʼn state of mind nie. Vir my as kind was dit wel vreemd dat ons sendelinge gestuur het na die uithoeke van ons land om vir mense te gaan vertel wat hulle moet doen om in die hemel te kom ... solank hulle net nie saam my wil kerk of skool toe kom nie. Toe reeds het ek gewonder of ons hoop om die hemel te beërwe, nie ons lewe op aarde hel maak nie?
Vir die meeste godsdienste is ‘hemel’ die plek waar God (of die gode) woon en waarheen die mens gaan na sy/haar dood. Vanuit die antieke godsdienste is ‘hemel’ ook gesien as die skadukant van ons aardse bestaan waar alles in die hemel aan die bonatuurlike, volmaakte, ewigdurende perfeksie raak. ʼn Soort dualisme en paradoks van alles wat ons dink ons hier op aarde kan en mag ken en ervaar.
In Lukas 17:21 word vir Jesus gevra waar die ‘Koninkryk van God’ (hemel) is en in die Evangelie van Thomas word dieselfde vraag roerend mooi beantwoord: “Wanneer jy die twee één maak, die innerlike soos die uiterlike en die uiterlike soos die innerlike en dit wat bo is, dieselfde as onder, dan sal julle ingaan [in die Koninkryk van God] ... Ek is die Lig wat bo alles is, Ek is die alles, die alles kom van My en alles behoort aan My. Split jy 'n stuk hout — Ek is daar; lig jy 'n klip, sal jy my daar kry.”
Tradisioneel is die ‘hemel’ nog altyd gepreek asof dit êrens anders is. Ons dink dit is ʼn ander tyd; ʼn ander plek; eendag na my dood — nooit hier en nou nie! Hoekom het dit gebeur? Hoekom is die ‘hemel’ nie nou en hier nie? Miskien omrede die mens se brein verlore raak in die teenswoordige tyd (nou). Ons is vasgevang tussen vroeër en later en so mis ons nou. Soms het ek gewonder of dominees te bang is om te praat oor ‘hemel is VANDAG’ want niemand is reg daarvoor nie. Ek bedoel, dit pas ons beter as dit later is ... want ons is nou maar eenmaal die enigste spesie op die planeet wat vra: gee my nog so bietjie tyd; tyd om aan te pas by die idee; tyd om my sake in orde te kry; wil net eers nog dít of dát afhandel; tyd om eers iets te word ... dan kan ons praat oor ‘hemel’ as hier en nou!
Soos gesê, word ‘hemel’ vanuit alle gelowe gesien as ʼn voortsetting van ons aardse lewe — vir die oud Duits-Skandinawiese beskawings was dit Valhalla en vir die Amerikaanse Indiane was dit Happy Hunting Ground. Soos al dikwels tydens ons Sondaggesprekke genoem is, is die Hebreeuse woord vir ‘hemel’, ha-shamayim waarvan sha’ma, ‘water’ beteken. Die ‘hemel’ is met ander woorde die plek waar God die waters hou wat in ʼn droë woestynland heeltemal sin maak. In die etimologie van die woord sluit dit die ganse heelal en alles wat daarin is in. Vir Jesus het ‘hemel’ en ‘koninkryk van God’ dieselfde betekenis naamlik: ÉÉN met God. Vir Jesus (veral uit die Evangelie van Johannes) is die ‘hemel’ die spirituele bewussyn waar ons besef dat ons onlosmaaklik deel is van God en dat die krag van God, wat in ons is, is nie van ons nie. Dis is ʼn spirituele domein en nie ʼn fisiese toestand/plek nie. Met ander woorde — hemel moet IN my wees voor ek in die hemel kan wees!
Vandag weet ons dat see- en varswater is steeds water. Ons verstaan dat die water daarbo en water hieronder is steeds water en dat beide van dieselfde plek kom naamlik die Oseaan. God is spreekwoordelik die Groot Oseaan maar selfs méér as dit as ons na God verwys as Lewende Water. God is nie in die ‘hemel’ nie, die ‘hemel’ is waar God is en dit is oral en altyd. Dink aan lig — kan dit vasgevang word; kan dit net op een plek wees; skyn dit net op die wat ‘goed’ en ‘reg’ lewe? God is nie los van die skepping nie, God ís die skepping! God staan nie buite ons verhouding met mekaar nie, God ís elke verhouding, en dit is waar ons ‘hemel’ vind. God is soos die danser wat één is met die dans. Jy kan nie die danser van die dans skei nie ... en as jy die dans verstaan, verstaan jy die danser ... as jy die dans vang, vang jy die danser.
Nou is die vraag wat baie vra: maar wat gebeur as ek doodgaan? My kind vra dit ook gisteraand en ek vra hom wat hy dink – “Ek weet nie” antwoord hy. “Dis die regte antwoord” gee ek toe. Ek weet daar is ʼn groot gedeelte van ons bevolking (en seker andere op ons planeet ook) wat dink as hulle doodgaan gaan hulle Amerika toe. Wat ek wel weet (en aanvoel) is dat die ‘hemel’ nie ʼn plek is waar ek gaan aankom nie; ek gaan nie engele hoor met ore en goue deure sien waar my home movie teen ʼn groot skerm afgespeel word en ek eers geweeg word om te sien of ek dit maak nie. Dood is ʼn deur wat oopgaan en nie ʼn deur wat sluit nie. ‘Hemel’ is om te onthou dat ek één is met God — daarin berus ek; daarin vind ek vrede; daarin lê die volmaakte liefhê; daarmee gaan ek op reis. Niemand hoef ons te bribe met ʼn hemel of ons bang te maak met hel net sodat ons sal leer wat dit is om lief te hê met vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, nederigheid, en selfbeheersing nie.
Om lief te hê is ‘hemel’ en daar is net één pad na die hemel en op aarde noem ons dit LIEFDE. Kom ons sluit ons maand se tema oor THE POWER OF INTENTION af met ʼn eerlike openhartige gesprek oor wat en waar HEMEL is. Daar is afterall net twee datums wat belangrik is in ʼn mens se lewe — die dag toe jy gebore is ... en die dag as jy onthou UIT WIE jy gebore is. Kom haal Sondag ʼn stukkie ‘hemel’! Kom ons nooi vriende en familie om saam met ons een te word vir ʼn uur van herinnering, dat niks en niemand ons ooit van God kan skei nie.
== 5 Oktober -- ‘Geskiedenis van die Bybel’ werkswinkel by Kolping van 9am tot 1pm. Die ganse geskiedenis van Abraham (±1500BC) tot by Konstantyn (325AC) op ʼn tydlyn om vir eens en vir altyd dit in konteks te verstaan.
== 12 Oktober -- ‘We are the Champions’ lekker konsert by die Barnyard vir ʼn aand vol van Freddie Mercury, Pink, Elton John, Michael Jackson en vele ander se musiek. Bespreek asseblief by megan.korsman@gmail.com
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
“You grow to heaven. You don't go to heaven” — EDGAR CAYCE