Terwyl ek sit en skryf, sing Neil Diamond in die agtergrond, “The Story of my Life” en die lirieke lui ʼn tere herinnering in my hart. Elke week gee geboorte aan sowat 1000-1500 woorde vir ons weeklikse epos. Soms (nét soms) vloei dit effortless maar die meeste van die tyd is dit diep delf vir inspirasie wat vra om hart te wys en onbeskaamd die littekens van my menswees te deel. Nou en dan wonder ek oor die betekenis van woorde, of dit nie net ʼn eggo is van ʼn man wat uitroep in sy eie verwildering, verskansing en vervlegging om gehoor en gevind te word nie. Partykeer deins ek terug as ek dit na die tyd lees — hoe intiem persoonlik dit is, hoe ontbloot my eie verwonding lê. Henri Nouwen gee in sy boek, “THE WOUNDED HEALER” die gerusstelling dat die integriteit van ʼn leraar juis toeneem as hy sy worsteling met ander deel en hulle sy wonde sien en ervaar. Ek het tog geen boodskap, bekwaamheid, of belangrikheid van my eie as om die Evangelie (Goeie Nuus) van liefde in en deur my eie liefhê te laat vloei nie.
Daar is dae waarin ʼn mens wonder oor die sin van alles, en hoe die fragmente deel uitmaak van ʼn groter geheel. ʼn Mens kyk na die littekens en weet dit lê in gister, God word gevind in die NOU. Vreemd hoe ons geboei is aan tyd ... hoe ons geketting is aan gisters en dit oor en oor in ons kop uitspeel asof vandag niks daaraan kan verander nie óf ons gisters opsoek omdat dit in die ‘ou dae’ beter was. Die meeste van ons dae, dwaal ons in die doolhof van gisters en môres ... glo ons dinge sal eendag anders wees, hoop ons gister sal môre anders uitspeel. Maak geen fout nie, ons is kinders van tyd want wil jy weet wat is die waarde van ʼn jaar – gaan vra ʼn student wat ʼn jaar moet herhaal. Wil jy weet wat is die waarde van ʼn maand – gaan vra ʼn mamma wie se babatjie ʼn maand te vroeg gebore is. Wil jy weet wat is die waarde van ʼn minuut – vra die sakeman wat sy vliegtuig verpas het. Wil jy weet wat is die waarde van ʼn millisekonde – vra vir Sebastian Vetel.
Dit beteken egter nie dat ons slawe van tyd is en tyd ons meester is nie. Ons herken tyd vir wat dit is — harmonie in die getye van die oseaan, balans in die seisoene van ons jaar, ritme tussen dag en nag. Vir Christene in die Suidelike Halfrond is Herfs die Heilige Seisoen van verootmoediging (devotion), afsondering (solitude), nadenke (reflection), toewyding (dedication), oorgawe (surrender) ... dit bou op na die Heiligste Naweek vir Christene waarin ons die fisiese dood en spirituele opstanding van Jesus herdenk om daarin ook ons eie sterwe en opstanding te vier. Paasnaweek is soos geen ander naweek in ons jaar nie, en hoe anders as ons ernstig is oor ons verhouding met God? Daarom is ons tema vir die maand dan ook Intellektuele, Emosionele, Spirituele VERANDERING. Ons het reeds verskeie aspekte van ‘verandering’ verken en sluit eerskomende Sondag af en gaan gesels oor — Die gevaarlikste woord is, UITSTEL. Ons wil graag goed verander en daar is baie dinge wat ons anders wil hê maar stel uit vir later as ons reg is daarvoor, wanneer die tyd geleë is, as dit maklik(er) is, of op ʼn punt kom waar ‘verandering’ ons aan die kraag ruk deur siekte, egskeiding, werkloos, of ʼn oop graf.
Life gives us choices. You could either grab it with both hands or sit on the sidelines … living in dreams of a better tomorrow or even worse, revisiting the illusions of a past, settling for nothing more than second best (past tense). Dikwels besoek my gedagtes (geheue?) die dae, omstandighede, plekke, mense van my verlede en wonder ek, “wat as ...” of “sê nou maar net ...” maar dan besef ek, hierdie vrae is silly want waar ek vandag is, is waar ek vandag is en wat ek vandag het, is ʼn geskenk om die beste van dié dag te maak. Niks was ‘beter’ in die ‘ou dae’ nie en net sprokies begin met “Lank, lank gelede ...” – today is the eternal NOW!
Vandag pak ek my kosblik met alles wat ek gister geleer het. Vandag vul ek my waterbottel met wysheid en insig wat ek ontvang het deur die jare en maak ek ʼn keuse om anders te dink, anders te reageer — because as long as we are willing to change our mind, God will change your life! God vat nie ons ‘issues’ weg nie maar Hy help beslis om ‘anders’ daarna te kyk, to change our minds how we perceive choices, chances, choices, daarom vat ek die beloftes van God baie ernstig op. Dikwels in my lewe was ek al op ʼn plek waar ek nie geweet het wat of hoe vorentoe nie. Daar was al dae wat ek op Misty Cliffs se klip gesit het en vir God geskree het, “ENOUGH!” ... en dan loop ʼn pad my weer raak, vat ʼn hand my uit die doolhof van opgee na die lewende water van oorgee. Keer op keer al gesien hoe die beloftes van God in vervulling gaan om weer die woorde van Numeri 23:19 te bely — “God is not a man, that he should lie, nor a son of man, that he should change his mind. Does he speak and then not act? Does he promise and not fulfill?” — om te besef dat “ek die opdrag ontvang het om te seën en dan seën God en dít kan ek nie verander nie.” (Numeri 23:20) Die enigste persoon wat uitstel dat hierdie beloftes in vervulling gaan, is ekself en dit doen ons deur onsself besig te hou met soveel redes en verskonings, oordele en vrese dat ons koppe so rattle dat ons nooit die stem van God in die hart hoor nie.
Die Bybel is vol verhale van mense wat uitgestel het — dink aan die ryk dwaas van Lukas 12 wie se graanskure vol koring was maar die silo’s van sy hart was leeg omrede die materiële belangriker vir hom was as die spirituele. Dink aan Jona se verskonings en hoe hy fisies wegvlug na ʼn ander stad in ʼn ander land want daar hoef hy geen verantwoordelikheid te vat nie. Dink aan die uitstel van die Atheners in Handelinge 17 wat Paulus uitlag en sê, “ons sal graag later meer wil hoor ... die waarheid wat ons harte roer, lê nie gemaklik in ons koppe nie.” Maar dit is die uitstel van Felix in HANDELINGE 24 waarby ons Sondag gaan stilstaan ... hy laat Paulus (wat ʼn gevangene van hom was) kom om met hom te gesels en terwyl Paulus met boeie om sy hande staan en gesels oor die liefde van God, wat vergiffenis werklik beteken, hoe die geleentheid vir verandering aan elkeen se hart klop, stuur hy Paulus terug na sy sel met die hol-klinkende belofte, “Jou woorde maak my hart warm, maar later weer ...” So word ons wegvlugmetode ʼn lewensgewoonte!
Dieselfde redes waarom Felix uitstel, is ook ons verskonings vandag. [1] Hy stel uit want hy voel nie gereed om enige iets prys te gee nie ... veral nie die Joodse vrou van ʼn ander man wat hy aanhou as sy concubine nie. Ons weet wat is die goed wat maak dat ons ons doel mis maar hardkoppig gaan ons voort daarmee en blameer als en almal om ons vir ons omstandighede. [2] Hy stel uit want hy is ‘besig’ ... alles is meer belangrik. Voorwaar, as dit met ons besigheid moet gaan soos met ons spirituele lewe sou ons vir ʼn korsie brood moes bedel. [3] Hy stel uit want hy was geldgierig ... daar staan in vers 26, “hy het die hele tyd gehoop Paulus sou hom omkoopgeld aanbied om los te kom.” Ons het so valse gerustheid gebou dat geld wat stom is, maak reg wat krom is. [4] Hy stel uit want sy eie eer was belangriker ... dit was vir hom meer belangrik om populêr te wees en te doen wat ander gelukkig maak as om na sy hart te luister en te doen wat reg is. [5] Felix ag later beter as nou ... hy trek nie sy neus op vir dit wat hy hoor van Paulus nie, hy vra net uitstel. ʼn Later wat nooit sou kom nie! Miskien sal ons van Felix dieselfde kan sê as van die Proteas gister: O, so naby maar tog so vêr!
"Never let your persistence and passion turn into stubbornness and ignorance" het Anthony J. D'Angelo gesê. Vir vandag stel ek my hart oop vir die fluistering van ʼn duisend engele wat in elke oomblik van die dag my sal wys HOE ... how to surrender to my Brighter Self. Daar is baie dinge wat ons graag WIL doen, en nog meer goed wat ons KAN doen ... miskien het dit tyd geword om te doen wat ons MÓÉT doen as ons die verandering wil wees wat ons graag om ons wil sien.
Ja, verandering is nie altyd maklik nie ... ja, dit vra opoffering ... ja, dit vra guts & courage and a Braveheart to see it through ... ja, dit vereis dat ons ons trots in ons sak sal druk en staan vir iets groter as ons kleinlike behoeftes en begeertes ... MAAR, dit is só die moeite werd!! ... want as die siel nie asem in die Asem van God nie, as die hart nie klop met die Liefde van God nie, as my hande en voete nie hul pad vind om ʼn verskil te maak in die wêreld om my nie — then who am I, what am I doing here??
Sien jou Sondag in ons Wysheidsirkel vir leiding hoe om te verandering van vrees na liefhê, van onsekerheid na vrede, van verwydering na versoening — by the Beauty and Grace of God.
>> MOVIE AAND BY KOLPING: Woensdagaand 1 April 19h00 wys ons die film, ‘THE LAST TEMPTATION OF CHRIST’ by Kolping Sentrum. Glo my na dié film sal Paasfees nooit weer dieselfde wees nie!
<< ACIM hervat na die skoolvakansie!
Besoek ons Facebook by http://www.neo-spektrum.com/
Gedagte vir die Week:
“For me, I am driven by two main philosophies: know more today about the world than I knew yesterday and lessen the suffering of others. You'd be surprised how far that gets you.” ― Neil deGrasse Tyson