Liturgie: 29_januarie_2017
Ons sluit die maand se tema oor die gedigte as wysheidsliteratuur in die Bybel af met ʼn gesprek oor die digbundel wat in Hebreeus bekendstaan as ‘Kohelet’ wat letterlik vertaal kan word met — ‘die een wat sinne bymekaarmaak’ of te wel: prediker of openbare spreker. Die Amerikaanse skrywer, Thomas Wolfe wat in die begin van die vorige eeu geleef het, skryf op ʼn plek, “[Of] all I have ever seen or learned, that book seems to me the noblest, the wisest, and the most powerful expression of man's life upon this earth—and also the highest flower of poetry, eloquence, and truth. I am not given to dogmatic judgments in the matter of literary creation, but if I had to make one I could say that Ecclesiastes is the greatest single piece of writing I have ever known, and the wisdom expressed in it the most lasting and profound.” — ʼn beter beskrywing van hierdie merkwaardige boek kan ʼn mens nie kry nie!
Die outobiografiese boek ‘Prediker’ (Grieks: Ecclesiastes) verduidelik die lewe as ‘mere breath’ en dat die aksies en reaksies van die mens is hoofsaaklik ʼn “gejaag na wind” ... ʼn lewe kry net sin en betekenis in die wysheid van ʼn well-lived-life op aarde. ʼn Deurleefde lewe is ʼn lewe wat plesier en geluk vind in die eenvoudige plesier van elke dag — eet, drink, vreugde in ʼn mens se werk — “want dit is alles ʼn geskenk uit die hand van God.” Die konklusie tot die boek, geskryf deur ʼn ander outeur, som dié boek op in die epiloog: “Leef in eerbied teenoor God en hou sy gebooie want dit is van toepassing op elke mens.” (12:13)
Die skrywer verwys na die Prediker in die derde persoon en prys sy wysheid. Hy vertel van die Prediker se reis (journey) — wat hy beplan, hoe hy dit ervaar. Sy reis na kennis en insig is op die ou einde onvolledig. Hy nooi die leser uit om saam op reis te gaan om tot ‘verstaan’ te kom waaroor ons leeftog gaan en hoe ons wat met ons gebeur moet interpreteer en hoe om op die frustrasies en onsekerhede van die lewe te reageer. Die slotsom waartoe hy kom is — the journey itself is important ... the journey is the destination!
Die digbundel begin met ʼn openingsgedig wat vra of daar enige iets nuut is in die wêreld. Dit word gevolg deur die Kohelet se ondersoek oor die sin van lewe en die slotsom: omdat die mens nie weet wat goed is vir hom nie hou hy aan met soek, en omdat hy nie weet wat ná hom sal kom nie weet hy nie hoe om vandag te leef nie. Dit word afgesluit met ʼn roerende gedig oor ‘tyd’ as ʼn seisoen, ʼn dag, ʼn gebeure, ʼn ervaring ... ʼn oogwink van sin en onsin. Die Prediker slinger sy lewensvrae na God en vind sy antwoord in die wolk van nie-weet-nie. Alles is vir hom betekenloos vanweë sy skeptiese agterdog wat keer op keer in sinisme verval. Elke antwoord het nóg ʼn vraag omdat hy sy ‘tydelike’ meet aan die ‘ewigheid’ van God. Die ou man wat met verlange soek na wysheid om die sinloosheid van sy lewe te herdefinieer — minwetende hoeveel wysheid hy in hom dra, en dat sy lewe nóg sinloos, nóg onbenullig is. Sou hy ooit kon raai dat bykans 2500 jaar later is sy digbundel ingesluit by die ‘heilige’ boeke van die drie grootste godsdienste van die 21ste eeu?
Die Prediker se vrae is vandag nog relevant: hoe is dit moontlik dat die mens voor God en by God kan leef en steeds sonder God? Gegewe die enorme lyding van minderbevoorregte groepe asook die onderdrukking van lae sosiale klasse en die ekologiese gemors van ons planeet en die gevaar dat wêreldvrede bedreig word, maak die Kohelet ʼn oproep tot spirituele wysheid wat ons moet lei tot ʼn verstaan (bewussyn) wat inhoud (diens) sal gee aan ons verhouding met onsself, ons ewemens, die natuur, en bowenal aan God. Die hoeveelheid Persiese begrippe, idiome, en verwysings dui daarop dat daar ʼn kruisbestuiwing was met ander wysheidsliteratuur, met ʼn sterk Hellenistiese invloed. Die datering van die boek is enige iets tussen 450BC en 150BC wat beteken dis óf Van Riebeeck óf Zuma!
Soos reeds genoem, kry mens die indruk dat dit geskryf is deur iemand wat terugdink oor sy lewe en probeer verstaan wat was die sin van alles en wat is die lesse geleer. Daar is kontradiksies soos byvoorbeeld “die dooies is beteraf as die lewendes” (4:2) versus “ʼn lewende hond is beteraf as ʼn dooie leeu” (9:4) met teenstrydighede as dit kom by res van die Ou Testament. Die frase, “Onder die son” kom 30 keer voor in Prediker en was, saam met die res van die boek, ʼn direkte invloed vir Shakespeare se Sonnet 59, Leo Tolstoy se boek ‘Confessions’ en die titel van Hemingway se eerste boek, “The Sun Always Rises” --
Die meeste skrywers, digters, skilders, sangers, en akteurs skep vanuit hul pyn — soos Dawid sy mooiste Psalms geskryf het terwyl hy op vlug was en Paulus sy mooiste briewe geskryf het uit tronke, kom die skrywer van Prediker en verwoord iets oor die mens van alle tye, in alle kulture vanuit sy vrae oor Psigografiese woestyne van vrees, bitterheid, spanning, en ontnugtering; oor Emosionele woestyne van eensaamheid, verwaarlosing, minderwaardigheid en liefdeloosheid; en vrae oor die Geestelike woestyne van hopeloosheid, ongeloof, verwydering, en twyfel. Daarmee saam gee die Prediker ʼn verstommende insig (wysheid) en uitsig (waarheid) oor die seisoene van ʼn Bekommerde Hart, ʼn Soekende Hart, ʼn Vredevolle Hart, en ʼn Vervulde Hart. Ons kan Sondag ons gesprek oor — CHOOSE LIFE — afsluit en hierdie woestyne en seisoene van nader verken om saam by die koeltebome en oases uit te kom wat ons honger en dors sal voed en les in ʼn beter verstaan waarom daar soms seer en pyn is sonder om te verval in ʼn pessimistiese sinisme, en om sin te maak van al die onsin waarmee ons onsself besig hou. Miskien omrede die mens vasgevang is in dit waarna Victor Frankl beskryf as, “People have enough to live by but nothing to live for; they have the means but no meaning.”
In my eie lewe het ek al baie gevra vir wysheid maar dan weer die woorde van Prediker onthou, “In much wisdom there is much grief, and increasing knowledge results in increasing pain.” (1:18) want hoe meer jy weet, hoe harder is die wêreld. Soms verlang ek na die naïwiteit van ʼn kind wat net soek sonder die obsessie om te móét-weet; na die simplisiteit van eenvoudiges wat tevrede is met die wolk-van-nie-weet-nie. Maar nou dat ons weet, is omdraai onmoontlik ... nou dat ons geleer het hoe om vuur te maak, kan ons nie kla oor die kooltjie, so nou en dan, onder die voet nie.
🌺 ACIM — Stad 30 Januarie 19h30; Kolping 2 Februarie 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“Half of what I say is meaningless; but I say it so that the other half may reach you.” ― Kahlil Gibran