Hierdie week se liturgie: 29_jan_2012
Voorwaar ʼn GOEIE-dag aan elkeen —
... vandag is hierdie pa sommer in ʼn uitbundige bui want die Graad 8 seuns in die koshuis op Grey het hul fone gisteraand teruggekry en kon ons met mekaar praat. Dit is darem net só verligting om jou kind se stem te hoor en hoor dit gaan goed. Soos hy sê: TOUGH, maar goed 😉
VerLIGting? Die woordjie LIG is ʼn begrip wat ons almal ken en verstaan maar ons kan dit vir niemand verduidelik nie. Selfs wetenskaplikes stotter en hakkel as hulle die essensie van lig moet verklaar of beskryf. Die woordspel met die woord ‘lig’ is ook interessant en soms selfs grappig. Ons wil iets ‘oplig’ en ‘liggies’ trap; en dan weer na die “liggies” kyk terwyl die wind “liggies” waai ... alles met lig en gewig te doen. Dan weer wil ons iets “toelig” of “uitlig” net om met ʼn verligting agter te kom dat wat ons gedink het is donker en swaar is nou helder verlig.
Maar dit is die drogbeeld (paradoks/dualisme) wat ons geskep het tussen lig en donkerte wat ons nie laat besef dat duisternis bloot die afwesigheid van lig is nie. Kom ons verken Sondag ons potensiaal om in die Lig te leef –
EN KYK, DAAR WAS LIG ~ !!
Ons sê: God is LIG. Wat sê ons dan as ons sê – God is …
ALMAGTIG: is die sterre (sonne) en atome van die heelal die energie (krag) van ALLES?
ALWETEND: is daar ʼn KNOWING tussen alles en wat lewe met Lewe verbind?
ALOMTEENWOORDIG: is daar ʼn plek in die makro- en mikrokosmos wat nie deur die Lig verlig word nie?
“The wisdom of God is also Light. And those who study it become light, and easy! Who made this Light? God, from His own state of eternal enlightenment.” (Dadi Janki)
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
En onthou jy kan elke vorige Sondag se liturgie aflaai (download) onder TEMA ARGIEF.
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum.
Kom deel Sondag vir ʼn uur jóú lig met ons.
Gedagte vir die Week:
Ek kan verstaan hoekom kinders bang is vir die donker maar ek kan nie verstaan hoekom grootmense bang is vir die lig nie.