Liturgie: 27_november_2016
Soos ʼn plaat wat vashaak, is daar ʼn paar onderwerpe wat hulself oor en oor vir my herhaal ... die belangrikheid van stiltetyd, die dissipline van gebed, die waarde van dankbaarheid, die meriete van vergiffenis, die sin van geloof, die betekenis van hoop, die kwaliteit van liefde. Miskien hakkel ek met dié temas omrede dit essensieel gaan oor die kern van ʼn harmonieuse verhouding met myself, my ewemens, en met God. Dit gaan nie oor die misbruik van religieuse mag of die wangebruik van reëls en wette, nog minder oor ʼn verwronge moraliteit wat gebaseer is op vrees, of te teer op skuldgevoelens nie. Dit gaan in die eerste en laaste instansie oor die oproep tot verantwoordelikheid sodat ons medemenslikheid sal triomfeer in die naam van Liefde. Waar ons die Lewe asem, geskape in die beeld van God, geroep om die Lig te reflekteer, kan geen mens enige iets tussen ons en God skuif wat daardie verhouding smoor nie.
Dit vra dat elkeen verantwoordelikheid sal vat vir die Lig, Lewe, en Liefde wat in en deur ons vloei. Die religieuse geute en loopgrawe van weleer gaan aanspreeklikheid moet vat vir ʼn wêreld wat meer as ooit geskei en verdeeld is en georganiseerde godsdiens gaan die onus moet dra waarom ons God gekompartementaliseer het tot vorm, definisie, en dimensie terwyl ons voor ons ‘heilige siel’ (pun intented) weet dat die moderne mens uitgeëet is aan ʼn menu van dogmatiese reëls en teologiese interpretasies. Net soos daar ʼn wêreldwye verset is teen die heerskappy van geld-markte is daar ʼn massa-opstand teen die misbruik van mag wat homself voorhou as beskermheer van veiligheid terwyl almal weet dat ons ons vryheid geabdikeer het aan die 1% wat 99% besit en beheer. Die walging waarmee daar gekyk word na die gulsigheid van die korporatiewe elite is besig om toenemend in opstand te kom teen die gierigheid en hebsug van kapitalisme. Dis net ʼn kwessie van tyd voor die oproer aan die deure van kerke gaan klop en daarop gaan aandring dat die ‘voorhangsel’ wat geskep deur dominees, priesters, rabbi’s, pastore, en imams wat namens God wil praat, verkoop en die geld aan armes gegee word as ʼn harde herinnering dat Jesus sy lewe gegee het sodat daar nooit ooit weer ʼn voorhangsel sal wees nie!
Máár, en dit is ʼn versigtige maar, die vryheid van weerstand teen die politieke, ekonomiese, en religieuse establishment kom met ʼn enorme verantwoordelikheid. Dit is een ding om keelvol te wees vir die uitbuiting van ʼn European Union en dan vir Brexit te stem, net soos dit een ding is om ʼn afkeer te hê in Hillary Clinton en haar korrupsie maar dan vir Trump stem. Elke ‘REAKSIE’ kom ook met ʼn verantwoordelikheid ... die vryheid om te kan reageer moet gepaardgaan met nugterheid, versigtigheid, wysheid, sorgsaamheid, en ʼn bereidheid om die konsekwensies en implikasies van ons keuses en besluite ten volle te dra. Ons kan nie die banke verkwalik dat hul ons uitbuit maar ons eksploiteer ons eie werkers nie; ons kan nie die politici beskuldig van morele bankrotskap maar ons eie moraliteit bedel vir liefde, aanvaarding, respek, menswaardigheid, en seëninge nie; ons kan nie ʼn rewolusie lei teen die gierigheid van kapitalisme maar is self nie bereid om te deel nie.
Kom ons sluit ons maand se gesprek af oor — GROWING INTO YOUR SOUL -- en gesels eerskomende Sondag oor ons intellektuele, emosionele, materiële, en bowenal spirituele VERANTWOORDELIKHEID. Wanneer gaan ons onthou — we are not here to do but to become ... it is not only my being as it is about our belonging. Êrens moet die pennie drop. Marianne Williamson skryf iewers, “Every experience we go through is a mirror. So if we aren't happy with our lives, every situation provides an opportunity to change our thoughts, create new energies, and respond differently. Once you know that everything in your life arises from consciousness, you start to look pretty closely at what goes on between your ears. Change that, and you can change your world.”
Ons kan net onsself blameer vir die feite dat al die ‘strukture’ waarin ons vir jare lank ons vertroue belê het, besig is om te verkrummel. Ons het ons verantwoordelikheid afgeskuif op die staat, skool, bank, maatskappy, en kerk. “Iemand anders” moet sorg, “iemand anders” moet verantwoordelikheid neem en so het die dag aangebreek dat ons met leedwese een van ons mees getroue en waardevolle lede moet groet — Iemand Anders is hierdie week oorlede en hierdie afsterwe skep ʼn gaping wat moeilik gevul gaan word. Iemand Anders is al vir jare met ons en deur die jare het Iemand Anders meer vir ons gedoen as enige ander persoon. As daar oor leierskap gepraat word, was Iemand Anders vir ons almal ʼn voorbeeld! As daar werk was om te doen, het almal uitgeroep: “laat Iemand Anders dit doen want Iemand Anders doen dit soveel beter!” Ons het vanselfsprekend aanvaar dat Iemand Anders altyd daar sal wees en nou dat Iemand Anders weg is, wonder ons wie gaan doen wat Iemand Anders altyd gedoen het...?
Ons sê, sien jou DV Saterdag en vergeet dat ons net kan sê Deo Volente (God willing) as ons weet dit beteken, God se wil geskied deur jou en my betrokkenheid — want God kan net vir jou doen wat God deur jou kan doen. Die antieke bouers in die Romeinse Ryk het die gebruik gehad dat wanneer die hoeksteen gelig word vir ʼn nuwe gebou het die hoof-ingenieur / argitek op die steen gaan staan as dit gehys word om in plek gesit te word en ook dan wees as die laaste steen gelig word om daarmee te sê, ek neem verantwoordelikheid vir hierdie konstruksie! Want sien — verantwoordelikheid is nie kollektief nie, dis intiem persoonlik!
Vir meer as drie dekades wat ek die voorreg het om in die ‘kerk’ te dien, was ek keer op keer verras hoe lidmate hul moue oprol om die werk te doen wat gedoen moet nie — as ons geld ingesamel het vir ʼn projek, het mense gegee; as ons ʼn kerk gebou het, het manne en vroue saam bakstene gelê; as dit gekom het by ʼn uitreik-aksie vir minderbevoorregtes, was almal daar ... maar as dit gekom het by kinders doop van paartjies wat saamwoon, was die meeste (byname predikante) se stemme stil; as dit kom by die roudiens lei van iemand wat selfmoord gepleeg het, of ʼn dame-van-die-nag uit Hillbrow wat dood is aan VIGS, is mense verwys na my of Johann Symington omdat hul gemeentes “nie hul weg oopsien nie”; as dit gekom het om te praat oor die liefdeloosheid van die kerk teenoor mense wat van die kerk verskil of seergekry het omdat hul stemme gesnoer en hul ‘wonde’ gesien is as ʼn verleentheid, dan was die kerkleiers met verlof.
Meer as ooit gaan elkeen van ons as Beeld van God die bereidwilligheid moet hê om rekenskap te gee van ons Goddelike verantwoordelikheid as verteenwoordigers van God — nie omdat God dit verwag nie maar omdat ons dit aan mekaar verskuldig is. Dit geld vir alle verhoudinge waarin ons staan en in alle vlakke van ons menswees. Neo-Spektrum neem verantwoordelikheid vir jou, sal jy verantwoordelikheid neem vir Neo-Spektrum? ʼn Glimlag teenoor ʼn vreemdeling; ʼn gebaar van vriendskap teenoor ʼn kwaadgesinde; ʼn oor vir iemand wat ʼn behoefte het om gehoor te word; ʼn versigtige tong teenoor iemand wat jou seergemaak het; ʼn vrygewige hand omdat ons in oorvloed leef — en om te sê dat ons nie ʼn keuse het nie, is ʼn verskoning om nie verantwoordelikheid te vat nie want meer as dikwels is die ‘moeilike ding om te doen’ ook die ‘regte ding om te doen’.
Kom ons gesels Sondag oor die Sewe Pilare van Verantwoordelikheid wat die kerk in die algemeen en elkeen van ons individueel moet neem om die wêreld om ons en familie by ons te dien met Wysheid en Waarheid. Dit is só die moeite werd!