Hierdie week se liturgie: 26_mei_2013
Waarna smag die mens deur alle eeue heen die meeste: ons wil voel ons behoort; ons wil voel ons lewe het sin; ons wil vrykom van beperkinge; ons wil God se teenwoordigheid voel en ervaar as ons bron van energie en bestaan. Hieroor kan ons Sondag gesels! Die drie goed wat ʼn mens se geduld seker die meeste beproef, is (i) bou of aanbou van ʼn huis (ii) ʼn rekenaar wat hakkel, en (iii) lang toue in winkelsentrums. Wanneer ons geduld tot ʼn dun velletjie getrek word, knoop ons tonge. Soms hardop maar meestal in ons gedagtes maar knoop, knoop ons. Die brief van Jakobus sê — met dieselfde mond vloek, en met dieselfde mond seën ons -- en dit lei (of is dit ly?) tot double mindedness wat ons wispelturig maak.
Dié brief begin met ʼn verklaring dat waarheid is die lig en geloof is die refleksie daarvan. Hierdie waarheid beteken: getrou aan jouself (authenticity) Dit is ʼn deug wat al te maklik vandag verleer, vergeet en verloor is.
Die tweede hoofstuk gaan oor geloof, en geloof sê Jakobus is nie om te glo sonder bewyse nie maar om lief te hê sonder voorwaardes. Ons verniel mekaar in ons woorde en gedagtes omdat ons voel ons kry nie wat ons wil hê nie. “Needs and expectations will kill every relationship” sê Chuck Spezzano. Liefde is nie ʼn 50/50 deal nie, dis ʼn 100% gee en ontvang gelyktydig.
Die derde hoofstuk gaan oor wysheid en daarvan word gesê: “Maar die wysheid wat van bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, sonder skynheiligheid. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.” (Jakobus 3:17-18)
Dis maklik as ons so sin lees om te reageer met “ja, maar ...” of “dis nie so maklik nie ...” Solank ons dink dit is moeilik of onmoontlik, gaan dit moeilik en onmoontlik wees! Solank ons dink dit hang af van ander se skynheiligheid en bybedoelings, gaan ons nie ʼn duit verskil maak aan ons eie vreugde en vrede nie. Ons kan kies of ons deur die lewe wil gaan en ons tong wil spits soos ʼn vinger na alles wat almal om ons verkeerd en sleg doen, of ons kan begin om te fokus op ons selfwaarde, ons deugde (waardes én integriteit) sodat ons ʼn verskil kan maak aan die wêreld om ons. Soos ACIM sê — I cannot change the world, but I can change the way I think about the world, and when I change the way I think about the world then suddenly the world around me changes! Jare terug het ek eenmaal by my ma in die kombuis gestaan terwyl sy besig was om kos voor te berei. Ek het my lot bekla oor skool en vriende
en alles wat die lewe onregverdig maak. Dit was almal om my se skuld dat dinge nie vir my uitwerk soos ek wil hê dit moet uitwerk nie. Toe sy
genoeg gehad het van my gesanik en gesulk, sê sy dat ek ʼn mondvol bakpoeier in my mond moet sit en dit afsluk met ʼn lekker sluk kookolie! Ek
het haar aangekyk of sy die klits kwyt is toe sy sê: “Dinge op hul eie lyk soms sleg maar as jy die bestanddele bymekaarsit, gee dit vir jou iets
om te eet en aan die lewe te bly!” In ons gefragmenteerde lewe is dit ʼn les wat bybly — om nie gefikseer te raak op die bakpoeier en kookolie
van die lewe nie maar om die tong kans te gee om met geduld te wag tot die koek uit die oond kom.
Dit is waaroor die laaste twee hoofstukke van Jakobus gaan — oor geduld. Ons het nie geduld om vir die koek in die oond te wag nie, die mikrogolf moet dit kits doen of ons koop dit klaargemaak by die winkels. Geduld is nie ʼn passiewe aanvaarding van alles wat met jou gebeur nie, nog minder is geduld ʼn gesindheid van ‘laat Gods water maar oor Gods akker vloei’ nie. Al wat geduld vra, is om getrou te wees in wat jy vra, is ook wat jy gee! Ons vra veelmeer as wat ons bereid is om te gee. Vir Jakobus begin dit by ʼn getrouheid dat jou “Ja” is ja en jou “Nee” is nee. As ons sensitief is oor alles wat ons vra, sal ons ook sensitief wees oor ons gebed. Gebed is ʼn bekendmaking van intensie; gebed is gefokusde gedagtes om te kan onderskei tussen sin en onsin; gebed is ʼn herinnering van die potensiaal wat in ons is; gebed is nie ʼn ydele verwagting dat iets vanuit die hemel gaan gebeur nie maar juis dat iets hemels DEUR ons gaan gebeur!
Toe ek op ʼn dag weer iets in die huis gebreek het en dit leepoog aan my pa erken, het hy vaderlik gevra wanneer gaan ek ophou om dit te bely
en vergiffenis te vra en net ophou om iets te breek?
Jakobus se brief sluit af met inspirasie en motivering om aanhoudend jou wil te toets aan jou intensies; dit vra na jou doel en aspirasies; asook ʼn hoër roeping om jouself aan jou Self te gee sodat ander die vrugte van jou boord kan geniet.
Dít sê Jakobus, is wat geloof in praktyk beteken.
Net ʼn uur Sondag, net een uur om weer te onthou wat gee sin aan my lewe en wat is regtig relevant sonder om te vergelyk of te veroordeel.
ACIM leeswerk -- Text Book: Chapter 14: TEACHING FOR TRUTH, Section VI: The Light of Communication en Section VII: Sharing Perception with the Holy Spirit, p287 Hardebandboek.
Besoek ons webblad www.neo-spektrum.com waar jy ook elke vorige week se gesprek en liturgie kan aflaai onder TEMA ARGIEF. Daar is ook ʼn kaart hoe om by ons uit te kom: Kolping Sentrum, Biccard Straat, Durbanville.
Gedagte vir die Week:
What is life? It is the flash of a firefly in the night, it is the breath of a buffalo in the winter time; it is the little shadow that runs across the grass and loses itself in the sunset — Isapwo Muksika Crowfoot: a Blackfoot Indian Chief (1890)