Hierdie week se liturgie: 24_februarie_2013
Daar is seker nie ʼn enkele persoon wat nie die laaste week geruk is deur die hele Oscar Pistorius gebeure nie. Om een of ander rede het dit ʼn diep wond tot op die been oopgekloof van ʼn nasie in die algemeen maar van Afrikaners in besonder. Dit gaan oor veel meer as ʼn gevalle held en om dit in dieselfde asem te wil noem as Lance Armstrong en Hansie Cronje, raak nie eers aan die vel van die wond nie. Die aanvanklike skok is gou vervang met skuldgevoel (guilt) en nog gouer daarna vervang met straf (guilty) waarvan die reaksies in die sosiale en gedrukte media skokkend is om die minste te sê. Die kru grappe en slu blame-shifting is ʼn spieël van hoe afgestomp ons reaksie op geweld geword het. Van skok na skuld; van ontnugtering na ontkenning het ons net weer gewys hoe ongevoelig ons medelye en hoe oppervlakkig ons oordeel is. Skielik was die gevoel van eenheid wat ons ervaar het toe Oscar Pistorius ons landsvlag gedra het met die opening van die Olimpiese Spele vervang met ʼn disconnectedness wat ek nie eers weet hoe om dit te vertaal nie wat nog te sê probeer verwoord.
Oral roep mense: “die geweld móét stop!” — en die refrein wat in my kop bly vassteek, is: dit gaan by MY moet begin! Ja, elkeen van ons gaan hand in eie boesem moet slaan en vra: waar was ek vandag wreed in my gedagtes; waar het my reaksie iemand gewond; waar het ek vandag my doel gemis? Weet ons nog hoe om liefde, aanvaarding, respek, menswaardigheid en seëninge aan ander te reflekteer wat die naaste aan my is? In alle eerlikheid het die dood van Reeva Steenkamp my mank geslaan van skaamte. Die verleentheid om as man geassosieer te word met die geweld in hierdie land teenoor vroue! Dit voel of ek van myself geamputeer is.
Soos die twee mans van Emmaus uit die Nuwe Testament is ek op pad terug huis toe en praat oor die gebeure van die laaste week. Ons praat oor die wonderlikste ding waaroor ʼn mens kan praat naamlik HOOP maar sê die verskriklikste ding daarvan: dit is dood! In hierdie purper lydenstyd van die Christelike kerkjaar staan ons naak voor die Een wat gesê het “my liefde is vir jou genoeg” en voel gestroop en kaal voor die Een wat ons herinner het “net soos ek één is met my Vader is julle één met my” — Die emosie wat letterlik en figuurlik ‘opgebring’ word, is die gevoel van ons gaan dit nie maak nie (vernedering). Ons het so ver gekom om die juk van ‘nie goed genoeg nie’ (verwerping) af te gooi net om met vier skote weer ons feilbaarheid en broosheid te (h)erken waar ons agter ʼn geslote deur skuil teen die aanslag van verwydering, vernedering en verwerping.
Nou is die vraag: wat kan ons doen om ʼn verskil te maak, of eerder: hoe gaan ek en jy dit anders doen? Hoor my goed, nie een van hierdie vrae plaas jou óf God in die beskuldigingsbank nie! Dis ʼn vraag na die Waarde Van Lewe in die algemeen en die waarde van jou en my lewe in besonder want waar mense hulself gebonde (connected) met mekaar voel, is daar ʼn sterk gevoel van selfwaarde (worthiness) en liefde. Dis waarna Brené Brown verwys as sy vra: what do people have in common who are whole-hearted? En dan antwoord sy vanuit jarelange navorsing: courage (van die Latyn: cor – heart); compassion; and connection. Jy en ek IS goed genoeg. Jy en ek gaan dit maak want ʼn ONS is sterk.
Wat ons beskou as ʼn land se ineenstorting, is dalk ons grootste spirituele ontwaking. Waar ons kwesbaarheid gewond en magteloos lê, staan ons op en sê “JA!!” vir ʼn eerlike opregte weerloosheid (vulnerability) wat só sterk en magtig is dat dit ons land deur ʼn transformasie en ʼn opstanding kan vat ... en dit begin by jóú en mý waar ons sinne met wat en waar begin maar nie met ʼn vraagteken eindig nie!
DRIE tree van ‘NEE’ na ‘JA’ --
MOED (courage) — to tell the story of who you are with your whole heart.
MEDELYE (compassion) — to be kind to yourself in order to be it to others.
MEKAAR (connection) — to fully embrace our vulnerability towards others.
Al wat dit van ons vra in hierdie lydenstyd is die volgende:
(1) wees bereid om eerste te sê: ek is lief vir jou, sonder voorwaardes
(2) ʼn bereidwilligheid om vir iemand anders iets te doen sonder verwagtinge en
(3) die wil om te belê in jou verhoudinge hetsy tussen man/vrou, kind/ouer, werknemer/gewer en in besonder tussen jou en God.
Ons kan in geen enkele opsig dit meer bekostig om onsself te verdoof vir die oproep om ʼn verskil te maak nie en Sondag maak ons ʼn belofte aan mekaar om met medelye en moed die verskil te WEES waarna ons verlang!
Sien jou Sondag 10h00 by die Kolping Sentrum se kapel.
Onthou ACIM in Boston vanaand en môre by Kolping Sentrum!!
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
Ons gebede en gedagtes gaan aan Reeva Steenkamp se familie asook aan Oscar Pistorius en sy familie dat hul elke dag, elke oomblik bewus sal wees dat niks en niemand ons ooit van die liefde van God kan skei nie.