Hierdie week se liturgie: 23_september_2012
C S Lewis sê: “You don't have a soul. You are a Soul. You have a body.” — Vir die laaste maand verken ons die betekenis van die begrip SIEL en hoe ons dit vandag verstaan. In Genesis 2:7 staan daar (direk vertaal): “En Hy het geblaas in die neus, die asem van die lewe en die mens het geword — die siel van die lewe.” Dit is duidelik dat ‘siel’ en ‘lewe’ sinoniem is en met ‘lewe’ word nie bedoel hierdie lewe in hierdie vorm (liggaam) en dimensie nie maar ewige lewe! Lewe wat geen begin of einde of van een vorm na ʼn ander verander nie. Die skrywer van Genesis gaan verder deur te skryf dat God sê “kom ons maak die mens na ons (meervoud) beeld” wat daarop dui dat die mens ʼn refleksie van God (i.e LEWE) is. Asem van Lewe en glinstering van Lig – wetende Lewe is meer as asem net soos die glinstering (glans) nie die Lig is nie maar wel onlosmaaklik deel daarvan.
Wat bedoel Paulus as die skrywer van Handelinge hom aanhaal: Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Ateners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. Terwyl ek deur julle stad geloop en kyk het na die plekke waar julle aanbid, het ek ook ’n altaar gekry waarop geskrywe staan: ‘AAN ’N ONBEKENDE GOD.’ “Nou ja, wat julle aanbid sonder om daarvan kennis te hê, verkondig ek aan julle. God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, hý is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.” (Handelinge 17:22-25)
Wie is hier “onbekende God” waarvan gepraat word? Die EEN wat nie in tempels woon nie, wat nie nodig het om deur mense versorg te word nie en aan alles lewe en asem gee?
Elke skrywer dip sy pen in die ink van sy siel en beskryf sy karakter in woorde; elke skilder verf sy siel teen ʼn seildoek. Nou is die vraag: waarin dip jy jou pen; hoe lyk die kleure teen die skilderdoek van jou lewe?
Ons het hierdie vrae verleer want ons skryf nie meer nie — ons tik! Ons skilder nie meer nie — ons print! Ons beitel nie meer nie — ons breek! Omrede ons nie meer “rituele van herinnering” het nie is ons gisters ʼn puinhoop van drome en ons môres ʼn loopgraaf van vrees. So, wat kan ons vandag doen om ons potensiaal te ontsluit? Waarlik, as ons soveel tyd met die siel spandeer as in ons besigheid, was ons spiritueel skatryk maar as ons met ons besigheid soveel tyd moet spandeer as met die siel, sou ons vir ʼn korsie brood moes bedel.
RITUELE OM TE ONTHOU WIE ONS IS.
i. Rituele vir waardering en dankbaarheid
ii. Rituele vir vergiffenis en versoening
iii. Rituele vir heling en heiliging
iv. Rituele vir liefde en lewe
Maak ʼn strikkie vir Sondag om 10h00 en kom deel ʼn uur wat anders is as al die ander ure van jou week
Ons sluit Blok 3 van ACIM (A Course in Miracles) af op 20 September by die Kolping Sentrum om 7pm. Ons begin na die skoolvakansie met die laaste BLOK vir die jaar. Jy is meer as welkom om steeds in te skakel.
Daar is ʼn lys van 60 ‘gesprekke’ oor ʼn verskeidenheid van temas beskikbaar op CDs wat opgeneem is toe ek by Kruiskerk was, asook ʼn volledige stel oor die “Geskiedenis van die Bybel”. Kontak my gerus indien jy belangstel.
Gedagte vir die Week:
“This is the ultimate end of man, to find the One which is in him; which is his truth, which is his soul; the key with which he opens the gate of the spiritual life, the heavenly kingdom.” – Rabindranath Tagore