Hierdie week se liturgie: 22_julie_2012
Eerstens, BAIE dankie vir al die goeie wense laas Sondag met my verjaarsdag. Elke epos, sms en boodskap is gebêre om my te herinner: ʼn mens is nooit alleen nie en dat ons hier is om lewe te ervaar en te beleef in die volheid daarvan.
Soos alreeds gesê, gesels ons hierdie maand oor LUKAS 17:20-21 (1933 VERTALING): “En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is BINNE-IN julle.”
Die vraag is natuurlik: HOE ervaar ʼn mens dit? As ons sê die lewe is ʼn ontdekkingstog; ʼn avontuur; ʼn reis van geboorte tot sterwe wat elke oomblik vir jou ʼn geleentheid bied om uit te roep: “I AM ALIVE” – waar lê die relevansie van ‘Koninkryk is binne-in julle” en hoe reflekteer, demonstreer, manifesteer ons dit in die wêreld om ons?
Op hierdie reis is daar nie borde langs die pad wat vir jou sê hoe ver jy al gereis het nie en nog minder enige tekens van waar jou bestemming lê nie.
Die denkfout wat ons as mens maak, is om te dink ons lewe is ʼn treinspoor wat deur iemand anders vir ons uitgelê is. Ons reis maar so van stasie tot stasie en probeer die beste van die situasie maak. Maar dis nie waar nie! Jou lewensroete is nie vooraf bepaal nie en jy hét keuses waar jy wil in- of afdraai. Die een op ʼn treinspoor is ʼn gevangene — die een wat sy/haar eie spore trap, is ʼn ontdekkingsreisiger.
Daar is ʼn begrip wat onlosmaaklik deel is van ons ervaringe (experiences) en dit is die woord verandering. As ons die woord ‘verandering’ hoor dan trek ons kele toe en slaan in sweet uit. “Enige iets maar net nie ‘verandering’ nie! Was daar, het dit probeer, het die video, die T-shirt en die littekens” sug ons saggies. Nou vra ek jou — as jy al ooit vir jouself gevra het: waarom kan ek nie net gelukkig wees nie; wat kan ek doen dat iemand spesiaal my liefde sal sien en ervaar; kan ek nie maar net iemand anders gewees het nie; as dit ʼn ontdekkingsreis is waarom dan die versoekings, verwyte en verwerping; hoe kan ek die koninkryk van God wees as ek nie eers myself kan wees nie ...? is dit miskien tyd vir ʼn radikale gear change in jou kop te maak sodat jy weer vir ʼn slag jou hart sal hoor klop.
Die antwoord lê nie in Kyk hier! Of Kyk daar! nie — die antwoord lê in wat lê aan die binnekant.
Die Teesakkie Ervaring
• Jou lewe kom soms onder die warmwater van verskillende ervaringe ...
• dit wys jou ware karakter (geur) – geen warmwater geen geur.
• As jy nie van die tee hou nie, vervang jy nie die ketel of koppie nie,
• jy maak ʼn keuse vir ander tee en besluit om die tee te verander.
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum — Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Kom drink Sondag saam met ons ‘tee’ 😉 Jy sal dalk nie die dag en datum onthou nie maar ek belowe jou dat tee nooit weer dieselfde sal wees nie.
Ons het Saterdag 21 Julie 2012 by die Kolping Sentrum ʼn lesing oor ‘Die Geskiedenis van die Bybel’ — en begin op 26 Julie weer met ACIM. Kontak my asseblief as jy belangstel.
Gedagte vir die Week:
“You don't need a weather man to know which way the wind blows.” – Bob Dylan