Hierdie week se liturgie: 22_april_2012
Soos wat ek sit en voorberei vir A Course in Miracles (ACIM) en deur ʼn magdom artikels lees en deur boeke blaai, besef ek hoe verlydelik is woorde. Ons lees dit, dink dit, praat dit en skryf dit om informasie bymekaar te maak en oor te dra en soos wat ons die informasie skep en hark, bring dit kennis. Kennis van tienduisend goed, insig in ʼn duisend, wysheid in bitter min. Kennis kan beteken “having your facts straight” maar waar los dit op in wysheid? Wysheid is nie nog meer feite en informasie nie maar die plek waar ons op ʼn totaal ander manier dinge sien en wéét. ʼn Gemaklike rusplek waar woorde nie die waarde van waarheid kan verwoord nie.
Miskien is die definisie van ʼn wonderwerk vir vandag: die vryheid om teenwoordig te wees, aanwesig in hierdie oomblik (nou). En wysheid, hoe sou ons wysheid vandag beskryf? Om alles (weet, ken, verstaan) in konteks en perspektief te sien.
Kennis is wonderlik as dit wysheid vind net soos wat ondervinding (experience) wonderlik is as dit die wonder vind. Dink aan die verhaal van Jesus wat op besoek is aan Marta en Maria (Luk10:42) en dan kla Maria dat sy alles alleen moet voorberei en regkry vir ete en Marta wat nie help nie en net by Jesus wil sit en luister. Dan sê Jesus vir Maria: jy is so besig met tienduisend goed en ʼn duisend dinge dat jy nie meer weet wat belangrik is nie.
Hier praat ek alweer te veel 😉 Woorde is binneband wat van die pad niks weet nie. Woorde is misverstand. Woorde is dryfsand.
Woorde is ʼn toutjie wat die wind rondwaai; kennis is om te weet hoe ʼn vlieër in die wind ronddraai; wysheid is die avontuur om die twee vas te hou in jou hand.
Ons het baie redes en verskoning wat begin word met “Ja, maar ...” — en sê nou maar die antwoord is “JA!” wat sal jy vra?
“JA, MAAR…” – is nie ʼn antwoord nie.
Ja, intensies wil so baie doen, maar dit gebeur nie
Ja, die verstand besit kennis, maar nie ervaring nie
Ja, die brein leer baie dinge, maar nie wysheid nie
Ja, logika kan verklaar, maar verstaan nie altyd nie
Ja, sintuie kyk en luister, maar sien en hoor nie
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum — Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Onthou ʼn wonderwerk is nie daar nie, dit is hier. Nie in woorde nie maar in wéét. Nie in engele nie maar in jou!
Ons volgende ACIM (A Course in Miracles) byeenkoms is môreaand 19 April om 19h00 by die Kolping Sentrum. Jy is steeds welkom om in te skakel.
NB! Ons het eerskomende week ʼn Leierspanvergadering om te help met die leiding, beplanning, organisering en kontrole van ons pad vorentoe by Neo-Spektrum.
Wil jy nie jou kundigheid en insette kom gee vir die tuin waarmee ons besig is nie? Mooi asseblief? Laat weet my as jy wil kom saamdink en praat.
Gedagte vir die Week:
Wisdom is confusing to the proud and obvious to the humble — St. Bonaventure