Hierdie week se liturgie: 20_april_2014
Die lewe is gevul met paradokse. Soms verloor ons onsself in al die teenstrydighede. Om te praat oor ‘dood’ is om oor ʼn groot misterie na te dink. Baie spekuleer en projekteer ons eie gedagtes daaroor. Een ding het ons ingemeen ... niemand weet nie. Wat ons wel weet, is dat droefheid en rou, die hart breek – soms selfs letterlik – en daarom noem ons dit hartseer. Soos die dop van ʼn saad oopbreek om geboorte te gee aan nuwe lewe, so ontdek ons dat die verlies en smart plek maak vir nuwe lewe. Dit is waarna Jesus verwys as hy sê, “Dít verseker Ek julle: As ’n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy ’n groot oes in.” (Johannes 12:24) Die verandering in seisoene is ʼn konstante herinnering dat wat lyk of dit die einde en dood is, is inderdaad die vrugbare grond van geboorte en opstanding. Die simfonie van seisoene eggo in ons eie lewe.
Lewe verander gedurig om plek te maak vir nuwe lewe. Wanneer die moeilike dae in ons gemoed kom lê, het ons keuse – gaan die probleme, teleurstellings, hartseer ons vernietig, óf transformeer? Soms lyk dit of dit ons gaan oorweldig maar in die kern lê daar Lewe en Liefde wat keer op keer demonstreer dat dit magtiger is as hartseer en duisternis.
Gisteraand was volmaan, nie net ʼn gewone volmaan nie want dit was ʼn eklips volmaan waar die aarde se skaduwee die maan bloedrooi ingekleur het. Die maan het nie verander nie, ook nie die aarde of die son nie – al wat gebeur het, is dat die aarde haar skadu oor die maan gegooi het. Ons ken die gevoel van eklips baie goed. Soms is dit ʼn sonsverduistering en soms ʼn maansverduistering en al wat dit is, is skaduwee. Miskien is dood ook net ʼn skaduwee ... en ek bedoel dit metafories. Kom ons gebruik die metafoor van God as die son, dan is Jesus die lig wat weerkaats vanaf die son, en die Heilige Gees sou ons kon beskryf as die hitte wat ons voel op ons vel en die fotosintese wat plaasvind vir lewe om voort te bestaan. In die lig leer ons om ons vrese te oorkom en gee dit vir ons die kapasiteit (insig) om te leer hoe om onsself in lyn te bring met die son. So leer ons om ons pyn en smart (skaduwees) te sien as ʼn potensiaal (ʼn belofte) van ʼn wedergeboorte. In dood is daar altyd ʼn opstanding. Dit is ons tema vir die maand — VAN KRUISIGING NA OPSTANDING — wat in die verhaal van 2000 jaar terug vir ons ʼn herinnering word hoe die lewe se (natuurlike) vloei van lewendgewende energie, ons altyd dra en ondersteun omdat dit aan ons lewe sin en betekenis gee. Trouens, dit WORD ons geestelike Lewe waarin ons aardse lewe kom lê.
Paul Young beskryf dit in sy boek ‘Cross Roads’ as volg, “The old must be torn down for the new to be raised; to have a resurrection you must have a crucifixion, but God wastes nothing, not even the wrong we have imagined into existence. In every building torn down there is much that remains that was once true and right and good, and that gets woven into the new; in fact, the new could not be what it is without the old. It is the refurbishing of the soul.”
Vir die dissipels, vriende, en familie van Jesus was sy fisiese dood die einde van ‘lewe’ soos hulle dit verstaan het. Die liggaam (vorm) van Jesus het gesterf en daarmee saam hulle hoop. Vir Jesus is dood nie dood nie. Om te sterf is ʼn asemteug tussen geboorte en wedergeboorte, tussen sterf en opstanding. In die metafoor van God as die son, weet ons uit die fisika dat die energie wat vrygestel word wanneer ʼn sonnestelsel sterf, gee geboorte aan ʼn nuwe son — Lewe hou lewe in stand. In Johannes 14:9 sê Filippus vir Jesus, “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Ons sou dit kon parafraseer met “If God is all you have, you have all you need.”
— Miskien klink dit alles te veel na filosofie, kom ons maak dit prakties met die oog op Paasnaweek — dit vra moed van ons oortuiging en dapperheid van hart om LEWE te kies. Elke dag, elke uur, elke minuut om lewe te kultiveer sodat dit ons skadu's transformeer (geboorte en opstanding) in lig. Dit verander die vloei en ritme van ons lewe en ontsluit die potensiaal om in ons eie lewe die seisoene van dood te oorkom. “We often settle for a limited life. The human spirit is larger than you yet comprehend, able to transform the unspeakable into a gift to life. Believe that a time of trouble is not an end but a beginning, if you are willing to choose life in the midst of your tribulations” skryf Candy Paull in haar boek, The Heart of Abundance.
In Lukas 9:23-25 praat Jesus oor die betekenis van lewe maar die Griekse woord wat hier gebruik word is ‘psige’ (Eng: soul – breath of life ... feelings, desires, affections, aversions)
“Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg, want elkeen wat
sy lewe (psige) wil behou, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe (psige) om My ontwil verloor, sal dit behou. Wat help dit ’n mens as hy die
hele wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan?”
Dít is waaroor ons Vrydag en Sondag gaan gesels — maak nie saak hoe diep die gat is wat ons vir onsself grou om daarin te kruip en ons toe te maak met die kombers van grond nie – lewe gee geboorte aan lewe. Ons kan onsself vasspyker teen ʼn kruis van ontkenning; onsself oortuig dat die pyn is ons straf; ons kan ander blameer en kwaad word; op die ou einde van die dag bly dieselfde vrae teen die hart klop: hoe vind ek betekenis in my hartseer; watter saad van geloof sal ek vandag saai wat ʼn bydrae maak tot Lewe?
Dink aan die goed waarvoor jy lief is — reflekteer die lewe wat jy leef die prioriteit van God se liefde wat jy voel en ervaar? Waag dit om die lied van opstanding te sing in jou eie lied van Lewe.
Kom word saam met ons stil Vrydag vir ʼn uur se nadenke, gebed, en meditasie oor die betekenis van Jesus se dood en Sondag vier ons met brood en wyn die opstanding dat Lewe is Almagtig en Alomteenwoordig.
>>>> ACIM BEGIN WEER NA DIE PAASNAWEEK — 24 April 2014 om 19h00 by Kolping en dit gaan ʼn OOPGESPREK wees om die formaat en inhoud van ons volgende blok te bespreek.
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
“Your time is limited, so don't waste it living someone else's life. Don't be trapped by dogma - which is living with the results of other people's thinking. Don't let the noise of other's opinions drown out your own inner voice. And most important, have the courage to follow your heart and intuition. They somehow already know what you truly want to become. Everything else is secondary.” – Steve Jobs