Liturgie: 2_april_2017
Met die oog op Paasfees gaan ons die vyf Sondae in April stilstaan by die inhoud en betekenis van die Paasgebeure onder die tema -- MEANINGFULNESS — en aan die hand van John Shelby Spong se boek The Fourth Gospel: Tales of a Jewish Mystic, oor die volgende onderwerpe te gesels:
Wat is die diepere betekenis van die kruisverhaal? Gaan die groter waarheid verlore omrede ons als letterlik wil interpreteer? Is dit omdat ons ganse verwysingsraamwerk verknog is aan vorm, definisie, en dimensie? Het hierdie oeroue verhaal enige invloed op ons lewe in die 21ste eeu? Gaan alles in dié lewe nie maar in die eerste en laaste plek oor wat betekenisvol is nie — ons wil tog voel dat wat ons doen en wat ons is, het betekenis. Ons wil nie net verdamp soos druppels op ʼn sinkdak nie. Ons wil van geweet wees.
As ons eerskomende Sondag begin met die GEBED VAN GETSEMANE dan is dit enersyds om die brug te bou tussen Seun van die Mens (Human Consciousness) na Seun van God (Christ Consciousness) maar andersyds om ons eie lewe (intellektueel, emosioneel, spiritueel) op ʼn reis te vat langs die Christus-weg na die misterie van God. Tot en met dié gebed het Jesus gepraat in woorde, brood, en water maar nou skuif die klem na die voorbeeld van sy lewe! Om daardeur ʼn verdiepende perspektief te vind op ons eie gebede as die lewe ons verloën en kruisig maar ook in die betekenis van ons triomfantlike opstanding.
Volgens my is hierdie gebed nie net die allermooiste gebed wat ek nog ooit gelees het nie maar dit is ook die sleutel wat die hele Evangelie ontsluit. Johannes se weergawe van die gebed verskil van die ander evangelies. In Markus sê Jesus, “Neem hierdie beker van my weg. Nie my wil nie maar soos U wil.” Matteus hou by dié vertelling terwyl Lukas ʼn engel laat verskyn om Jesus krag te gee en gaan dan verder deur te sê, “Sy sweet het soos groot druppels bloed op die grond geval.”
Die ‘Hoëpriestergebed’ soos Johannes 17 bekendstaan, het drie dele — dis eerstens ʼn gebed wat Jesus vir homself bid; tweedens ʼn gebed vir sy dissipels; en derdens ʼn gebed vir almal wat tot geloof sal kom deur die getuienis van sy dissipels. Dit gaan ten diepste oor ʼn eenheid met God wat sigbaar word in ons eenheid met mekaar. Dit sluit aan by die vooraf gedeeltes waar Jesus sy dissipels oproep tot ʼn nuwe verantwoordelikheid, ʼn nuwe volwassenheid.
Wat ek Jesus hoor sê, is die volgende — “Oor en oor herinner ek julle dat God in en deur almal leef en werk. Ek is die weg, en die waarheid en die lewe wat julle na ʼn nuwe ervaring bring en as jul deur die deur stap, sal die Gees jul dra en verdra, luister en fluister, restoureer en inspireer om nog groter deure te open. Vertrou die Liefde wat in en deur julle vloei. Vertrou wat jul geleer is. Alles wat die Vader my gegee het, is ook aan julle gegee. Alles wat God is, is ek ook en daarom sê ek vir julle, julle is dit ook! Alles wat die Vader my gegee het, gee ek aan julle. Moet dit nooit vergeet nie! Word die weg, waarheid, en lewe vir elkeen wat oor jou pad kom en laat die koninkryk in en deur julle kom. Wees die brood van die lewe, wees die lig van die wêreld, wees die water wat alle dors les. Asem die Lewe in en die Liefde uit en hou op vaskyk in wat jy dink is beperkinge.”
Weer en weer en weer herhaal die refrein — “Ek het van my Vader gekom na die wêreld en gaan nou terug na my Vader!” (Divine Consciousness) Dan gaan hy verder deur te sê, “Dit is wat julle moet onthou: God word geken waar julle jul oë open en die moed het vir ʼn nuwe ervaring van menslike potensiaal en moontlikhede. Ek gee vir julle ʼn nuwe sin van vryheid en bemoedig julle met dié woorde dat niks en niemand julle ooit van my kan skei nie.”
Dit gaan oor — “Unity and oneness, that will be found in understanding God, not as an external being, but as the essence of life” (Spong) gevolg deur Jesus se aangrypende pleidooi, “Bewaar hulle in U naam, die naam wat U aan my gegee het ...” en daarmee maak hy elke “Ek is ...” uitspraak op sy dissipels van toepassing sodat ons vandag nog van dié wyn sal skink en drink, dié brood sal breek en versadig word sodat ons blydskap en vreugde in vervulling sal gaan as ʼn refleksie van God se teenwoordigheid IN ons.
Dan bereik die Gebed van Getsemane die klimaks as Jesus sy fokus draai op elke man en vrou wat deur alle eeue die koninklike kleed dra as erfgename van hierdie liefde-in-aksie (genade). Hy bid roerend mooi vir die interconnectedness(Cosmic Consciousness) tussen elkeen wat hom- of haarself ʼn ‘seun/dogter van God’ noem asook vir hulle wat nog ‘van die wêreld’ is. Daar waar Lig en Liefde meng en Lewe die naelstring word tussen God en mens. God is nie ʼn ekstern entiteit êrens los/weg/apart van ons nie! God is die lewe waarin ons leef, die liefde wat ons deel, die grond waarin ons gewortel is. Die oproep van Jesus is nie vir religie nie maar ʼn nuwe mistieke eenheid met die Goddelike wat in alles en almal asem — God is the Ground of Being in every being!
Die ouverture van dié gebed lê in die nuwe belofte, “Ek het gekom om vir julle lewe te gee en dit in oorvloed!”(Johannes 10:10) Die betekenis van die kruis en Jesus se dood gaan nie oor my en jou sonde nie – Jesus sê dit nêrens nie – die kruis staan as ʼn simbool van LEWE wat nie beperk is tot die vorm, definisie, dimensie van Jesus se lyf nie. Dit gaan oor die Lewe wat altyd daar was, altyd daar sal wees ... waarin ons gebore is en waaruit ons weergebore word.
As daar iets soos ‘oersonde’ is, sal dit die illusie van ʼn verwydering (separation) wees tussen ons en God. Die hele Paasgebeure staan in die lig van versoening (atonement) waarvan hierdie gebed die grootste AMEN is wat Johannes op die lippe van Jesus plaas.
Kom sluit Sondag by ons aan vir uur se toewyding om Paasfees 2017 op ʼn besonderse manier te vier.
ACIM — Stad 3 April 19h30; Kolping 20 April 19h30 — Chapter 12: The Holy Spirit’s Curriculum (p215)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“I work every day to live my life in such a way that when I take my last breath, I will be satisfied I made a difference and I was an inspiration.” ― Carlos Wallace