The reason God loves sinners more than saints, is because sinners are never boring! — sê die graffiti teen ʼn muur terwyl ek met ʼn roltrap afsak, jare gelede, in Londen se ondergrond.
Sedert ek die boek van Ernest Kurtz, ‘The Spirituality of Imperfection’ begin lees het, wonder ek oor die twee pole van perfeksie en imperfeksie want beide is eintlik net ʼn persepsie. Wat beteken dié twee ‘labels’ as beide so vlietend is as die perfekte glas wyn wat jy drink en môre iets beter proe; die imperfeksie van ʼn staatspresident wie se naam nie eers gefluister sal word in ʼn geslag of twee van nou af nie; die perfeksie van ʼn sonsondergang net om te besef elke sonsondergang is perfek; die imperfeksie van twee mense wat mekaar met perfekte liefde dien. Wat is perfeksie en imperfeksie anders as ʼn subjektiewe gewaarwording/reaksie op wat ons as goed óf sleg, reg óf verkeerd ervaar?
Dis wanneer ons hierdie idees oor wat perfek is, of moet wees, op mekaar begin projekteer dat daar spanning kom; óf wanneer ons op ʼn narsistiese manier blind is vir jou eie tekortkominge (imperfeksie) dat ons interpersoonlike verhoudings ontaard in konflik. Een ding is wel duidelik — dat ons spiritualiteit die fondasie is vir die verstaan van wie ons is, wat ons doel en betekenis is, hoe ons ʼn bydrae maak maar ook ʼn rigtingwyser (kompas) om veilig te navigeer deur die doolhof van ons obsessie met perfeksie of neurose oor imperfeksie.
Daarom skryf Kurtz, “Spirituality is experienced in our Listening, in our Forgiveness, in our Dark places, in our Confusions, in our stories—not so much in what we “do,” but in what and how we be . . . by how we experience the realities that we meet. Spirituality is, in briefest description, a way of life—a way of being.” Tussen perfeksie en imperfeksie lê daar ʼn veld en dit is daar waar ek wil hê ons moet ʼn tuin maak. Al sou spiritualiteit haar nie laat vasvang in ʼn bedding nie kan ons blomme plant om ons te herinner dat die skoonheid en vreugde van die lewe lê in al die tussenin oomblikke wat nie pendel tussen een uiterste na die ander nie. Ons kan bome plant in hierdie tuin wat ons herinner aan ons wortels (waar ons vandaan kom), as ons sien hoe ons takke reik na die son sodat ons onthou dat Lewe word ervaar in Lig.
In ʼn wêreld wat verstik aan intoleransie het dit miskien nodig geword om weer na die natuur te kyk waar ʼn Geelhout nie dink hy is beter as ʼn Doringboom, en ʼn Stinkhout nie geaffronteer voel deur ʼn stupid naam nie. Die Oranje en Vaalrivier vloei ineen en die Vaal verloor sy naam sonder om ʼn tantrum te gooi. In die diereryk is daar nie heinings wat die perfeksie van die imperfeksie skei nie. Daar is harmonie en balans tussen die kleinste en die grootste. In ons wêreld is daar mure en bokse — daar is rasse en klasse, geslag en geloof, wie is in (perfeksie) en wie uit (imperfeksie).
Spiritualiteit is daarom ʼn soek na realiteit, na eerlikheid, na ʼn ken en verstaan van onsself. Spiritualiteit is ʼn pelgrimstog van ontdek en ontgin, dag vir dag, waar dit nie gaan oor die afstand wat afgelê is nie maar die ervaring wat bekom is, die wysheid wat ons verryk.
Sit iemand gister by my in ʼn diep gesprek oor ʼn ernstige krisis binne hulle familie. Soos oudergewoonte wys ek daarop dat elke ‘verhouding-krisis’ is ten diepste ʼn ‘spirituele krisis’ en elke oplossing word gevind in ʼn spirituele antwoord. “Spiritualiteit werk nie,” kom die antwoord kortaf, “... want dit hou nie!” Wel, stort ook nie — daarom doen ek dit elke dag!
Ons tema dié maand is — THE SPIRITUALITY OF IMPERFECTION — en het reeds gesels oor Self-Aanvaarding, Self-Vergiffenis en eerskomende Sondag gaan ons gesels oor Self-Liefde. Om vir ‘jouself lief te wees’ is seker een van die spirituele begrippe wat die meeste misverstaan word want as ons aan ‘liefde vir jouself dink’ dan hoor ons “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand ...” Om te sê dat jy ten eerste vir jouself lief moet wees voor jy vir enige iemand anders liefde kan gee of wys, is die essensie van ʼn outentieke spiritualiteit. And authenticity begins with unconditional self-acceptance — imperfections and all. Kom ons spandeer Sondag se uur om deeglik oor dié onderwerp te besin want die idee/persepsie dat liefde iets is wat jy ontvang; wat iemand vir jou moet gee of van jou kan wegneem; dat liefde kan seermaak en teleurstel; dat liefde só Goddelik is dat ons as mens dit nooit sal ervaar of ken nie, is alles onderliggend waarom ons verhoudings so struikel en stotter — en ek praat nie net van liefde in ʼn huwelik nie, ek praat van liefde oral, altyd, vir almal.
Soos reeds gesê, self-liefde is nie ʼn proses wat ons foute en wonde ontken of ignoreer nie ... self-love is expanding our awareness to include our flaws and our strengths. Ons wil almal aanvaar word. Niemand wil verwerp wees of voel nie. Maar hoe op aarde gaan ons oor daai brug kom met ons medemens as ons onsself nie aanvaar nie en as ons onsself aanhoudend verwyt oor alles wat moet anders, beter, en perfek wees? Daarom vra ek in gister se gesprek, “Wil jy vergewe of soek jy ʼn verduideliking? Vra jy vergiffenis of sal jy verdedig?” want ons kan nie oor vergiffenis praat sonder om nie te praat oor liefde nie en ons kan nie oor liefde vir jouself praat sonder om nie praat oor self-vergiffenis en self-aanvaarding nie.
Aanvaar jouself, vergewe jouself, wees lief vir jouself. As jy wil vlieg, gaan jy moet leer om alles wat jou op die grond hou te laat los. Wees getrou teenoor jouself. Hoe jy jouself behandel, stel die maatstaf waarmee jy ander gaan behandel. As daar een ding wat hierdie leraar vir jou vandag kan sê, is dit die feit dat deur die jare waar dit soms bitter-sleg gegaan het, waar die verwerping en vernedering op sy harste gesny het, was ek altyd daar vir myself. Daar is baie redes om jouself te haat en jouself oor te gee aan woede maar vra vir jouself vandag: wat is waar vir jou; wat laat jou hart lag; wanneer voel jy jouself; hoe laat jy liefde toe om in en deur jou te vloei?
Be kind to yourself. Let grace be your trees and love be your flowers. Because, to have just a little perfection we need more than a handful of imperfections! Gee jou wortels water; snoei jou takke; laat jou bloeisels bot ... dan sal ons almal van jou vrugte eet as die somer kom!
🌺 ACIM — Kolping: 16 November @ 19h30 en Stad: 20 November @ 19h30 — Lessons 41-48 (Lees asseblief hierdie 8 lesse voor die tyd)
Besoek ons Facebook
Gedagte vir die Week:
“Imperfection inspires invention, imagination, creativity. It stimulates. The more I feel imperfect, the more I feel alive.” ― Jhumpa Lahiri