19 Mei 2013

Hierdie week se liturgie: 19_mei_2013

Die rede waarom ʼn hond so vriendelike liefdevolle dier is, is omdat hy sy stert swaai en nie sy tong nie!
Ons blaai hierdie maand deur die brief van Jakobus en nêrens word daar meer klem gelê om dit wat ons met die tong doen as juis in hierdie boek nie. Vanaf hoofstuk 1 is dit asof die skrywer die leser vermaan om in elke opsig sensitief te wees wat ons met die tong doen — of dit gaan oor ons vooroordele of veroordeling; ons verdeeldheid of vergeetagtigheid — vir Jakobus gaan dit daaroor dat die tong, ʼn spieël van ons gedagtes, ʼn venster moet wees van die hart. Hy gebruik verskillende simbole om sy leser bewus te maak dat die tong kan seën en vervloek; kan heelmaak en kan breek. In hoofstuk drie verwys hy na die tong dat “ʼn klein vuurtjie kan ʼn groot bos aan die brand steek” en almal van ons was al aan die uitdeel en ontvang kant van so tongklap-brand!
Hy vra, hoe is dit moontlik dat die mens alles kan tem maar nie die tong nie? En gaan dan verder deur te sê: “Met die tong loof ons die Here God en met die tong vloek ons die mense wat as die beeld van God gemaak is.” (Jak 3:9)
Sjoe, dis harde woorde wat ʼn mens tot stilte ruk!
Miskien is dit vanweë ons double mindedness waarvan hy in Hoofstuk 1 praat. Aan die eenkant fluister ons liefdeswoorde van omgee en toegee, maar aan die anderkant verskree ons mekaar tot ʼn puinhoop van veroordeling. Dieselfde tong wat bid word gebruik om te vervloek. Hoe is dit moontlik en wat sê dit van ons hart ... om nie eers te praat van ons gedagtes nie? Ek dink dit was Shakespeare wat êrens gesê het “Give your thoughts no tongue” maar dit lyk en klink en proe en ruik en voel onmoontlik.
Dalk het dit tyd geword dat ons weer leer om eers tot 10 of 100 of 1000 te tel voor ons iets sê want die beste tyd om stil te bly is as jy voel jy móét iets sê anders gaan jy ontplof. Juis dan moet ons tong stillê want voor die tong praat, moet dit die wil verloor het om te wond. Selfs die wysheid van Spreuke verwys na ʼn dwaas as iemand met ʼn los tong. Nee, sê Jakobus “terwyl daar bittere afguns en verdeeldheid in julle harte is, moet julle nie daarmee spog dat julle wysheid het nie want dan praat julle nie die waarheid nie.” (Jak 3:14)
Ons leef in ʼn tyd waarin ons baie kennis het oor baie goed en selfs oor die kennis beskik om te weet wat is goed en wat is sleg, maar ons het nie die wysheid om dit te doen nie. Tog vra ons daagliks vir insig om vir ons vrede en rustigheid te bring; daagliks roep ons vir kalmte in ons gedagtes sodat ons oor die wysheid sal beskik om die regte ding te doen. Niemand van ons stry dat ʼn enkele woord die mag het om ʼn wegholvuur te blus nie ... dankie; asseblief; lief jou; jy lyk mooi; welgedaan; vergewe my; trots op jou; lekker slaap ...
Maar, letterlik in dieselfde asem, weet ons wat dit doen as iemand sê: jy is verkeerd; jy is ʼn teleurstelling; ek haat jou; dis jóú skuld ... Dieselfde tong wat versoen (soen?) word ʼn slagveld van loopgrawe en ogiesdraad.
Ek onthou ʼn paar jaar gelede eet ek een aand by mense en iemand se naam kom op wat die spesifieke huisgesin baie leed aangedoen het deur
gerugmakery as gevolg van jaloesie. Die een gas aan die tafel vra vir die gasheer wat hy dink van die persoon. Hy antwoord “sy is ʼn baie 
         intelligente vrou wat welberese en belese is en baie doen vir veral bejaardes in plakkerskampe.” Verbaas merk iemand aan die tafel op dat
hoekom sê hy soveel goeie goed van iemand wat hulle al in so verleentheid gebring het, toe die man antwoord: “Want jy het my gevra wat ek 
         van haar dink en nie wat sy van my dink nie!”
Kom ons gebruik hierdie week om sagter te praat. Kom ons onthou om die tong te gebruik om te seën. Laat ons tong in elke gesprek die brug wees terug na vrede en die lig waar ons in die donker skadu's van ons gedagtes verdwaal geraak het in ons warboel gedagtes en dan kom ons Sondag na ons sirkel met die woorde van Jakobus 3:17-18 “Maar die wysheid wat van bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, sonder skynheiligheid. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak.”
Dit sal ʼn groot geskenk wees om aan jouself te gee maar die grootste geskenk om dit met ander te deel.
Laat liefde jou hart vind terwyl jou tong soek na woorde.

ACIM leeswerk -- Text Book: Chapter 14: TEACHING FOR TRUTH, Section VII: Sharing Perception with the Holy Spiritp287 Hardebandboek.
(Lees gerus die voorafgaande gedeelte: Section VI: The Light of Communication)

Besoek ons  FACEBOOKhttp://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.

Gedagte vir die Week:
“The wise man, even when he holds his tongue, says more than the fool when he speaks” (Jewish Proverb) 

SONDAGBYEENKOMSTE

Broodjie vir die Week
Om ons weeklikse 
"Broodjie vir die Week" 
per e-pos te ontvang, 
druk hier.

KONTAK ONS

Terblanche Jordaan
(Spirituele Leier)
+27 83 460 4545terblanche@neospektrum.co.za
Annelize van der Linde
(Voorsitter)
+27 82 377 3318annie@finservice.co.za
Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com

DONASIES

NEO-SPEKTRUM is afhanklik van donasies om te funksioneer en om ons gemeenskapsprojekte te ondersteun. 

Bankbetaling

ABSA: Neo-Spektrum
Takkode: 632005
Rekening: 4083481065

Maandelikse debietorder

Edward Smuts
(Projekkoördineerder)
+27 82 788 1824ed56chris@gmail.com
©2025
Neo-Spektrum envelope-o
linkedin facebook pinterest youtube rss twitter instagram facebook-blank rss-blank linkedin-blank pinterest youtube twitter instagram
Verified by MonsterInsights