Hierdie week se liturgie: 16_desember_2012
Gewoonlik is dit Woensdae maar dié week gaan die epos vandag uit want ek het pas die huis in gestap na ʼn heerlike week by my sus en swaer en hul kinders op George. Wat ʼn heerlike week van bederf in ʼn gedeelte van ons land wat om elke draai net mooier en mooier is. Hoe nader wat ons aan Kaapstad gekom het, hoe meer het die temperatuur gestyg en in ʼn snikhete huis gestap wat ʼn week lank gebak het in die son ☼ Vergete is die lang winter, hallo somer!
Soos ek versigtig met die N2 van George na Kaapstad ry, dink ek aan die reis van ons elkeen se lewe. Die plekke waar ons al vertoef het; die paaie (én afdraaie) wat ons al gevat het; hoe gevaarlik dit al was; die dankbaarheid om veilig ons bestemming te bereik en die verwondering oor my eie lewenspad. Miskien omrede ons grootgemaak is met die idee dat ons treine op God se spoor is. Ons dink God het die spoor vasgelê en “come hell or high water” (letterlik & figuurlik) sal jy op die spoor bly ... intussen is die lewe ʼn rivier waar elke druppel in die rivier deel vorm van ʼn GROTER eenheid — alwetende dat ons oorsprong is die Oseaan en so vind die rivier sy weg terug na die See en dit kronkel en maak opdrifsels en ja, daar is stroomversnellings en watervalle — maar dis die reis!! Die lewe is nie ʼn spoor nie maar ʼn rivier en God sê nie vir jou waar en hoe jy jou pad moet terugvind na die Oseaan nie — God sê net: Ek is die Oseaan en Ek gaan nêrens en EK weet jy is op pad na my want eintlik is jy onlosmaaklik deel van my!
Ek dink veral aan die kere waar ek verdwaal het en hoe ʼn pad my raakgeloop het. Soveel keer was daar al ʼn afgrond of het ons by ʼn brug wat verspoel stilgehou en dit dapper gewaag het deur die storm-strome-rivier. Dat ons enigsins nog lewe, is ʼn wonderwerk! Miskien is die feit dat ons vandag ± 400km kon aflê en veilig by die huis is, ʼn wonderwerk, as mens dink hoe motors teen gemiddeld 120km/h ʼn paar meters van mekaar verbyry. Soos ons ry dink ek aan ‘wonderwerke’ en dit waarmee ons grootgeword het as wonderwerke. Ons Bybel is vol sulke verhale veral die verhale oor Jesus. Vir lank in my lewe wonder ek al hoekom die mens net IN ʼn godheid kan/wil glo wat wonderwerke doen? Maak dit Jesus, God en God, ʼn mens? Meer belangrik nog: is die verhale oor wonderwerke nodig of is dit ‘tekens’ en nie historie gebeure nie? As ʼn mens hoor of lees van iemand wat geloofsgenesing ervaar het, is die vraag altyd: hoekom daardie persoon en nie die een langs hom/haar wat net so opreg gevra het nie?
Maar as ons hierdie maand gesels oor: Wie is Jesus? dan moet ons stilstaan by wat gesê word oor hom al sou ons wonder of dit Jesus was/is. Die verhale oor Jesus se wonderwerke het moontlik ʼn diep spirituele betekenis en nie ʼn letterlike historiese verduideliking nie want die wonderwerke sê baie min (indien enige iets) oor die geskiedenis van Jesus. Kom ons staan Sondag stil by net een of twee van hierdie wonderwerke en kyk of ons kan sien; luister of ons kan hoor; en stap waar ons kreupel is.
Die blinde sê: ek hoor nie ek is kreupel nie
i. Die dag toe ons gestap het sonder krukke
ii. Die dag toe ons gehoor het wat is ons potensiaal
iii. Die dag toe ons gesien het ons is wonderwerkers
Ek is realisties daarom sien ek wonderwerke elke dag om my ... soos vandag se rit terug huis toe; in hospitale om ons; in die vergiffenis tussen twee mense; die liefde wat in ons harte klop vir elke geliefde maar ook vir ʼn vreemdeling.
Vind ʼn pad Sondag na ons sirkel en kom deel in ons gesprek oor die wonder van alle wonders: “Want so lief het God die wêreld gehad!”
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
There are no miracles for those that have no faith in them ~ French Proverb ~