Hierdie week se liturgie: 15_julie_2012
Kyk daar is son en blou!
Die winter lê koud dié jaar soos die een front na die ander front ons vanuit die see bestorm. Die tweede helfte van die jaar lê in ons skoot. Tyd vir kaskar bou want die afdraande lê om die draai en as die reën so aanhou kan jy maar uitkyk vir die ou met die groot SANTAM sambreel in ʼn houtboks met baby-prâm wiele ... dis ekke daai want die jaar kan net beterder draai.
Ons gesels hierdie maand oor LUKAS 17:20-21 (1933 VERTALING): “En toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is BINNE-IN julle.” — Wat is hierdie Koninkryk en hoe lê dit binne-in ons? Waar laat ons die Koninkryk kom?
Sondag is vir my die begin van ʼn nuwe jaar. Dis gewoonlik ʼn tyd van introspeksie en bepeinsing oor die jaar wat verby is maar ook ʼn tyd van waardering en dankbaarheid. Dit vat ʼn lang tyd om jonk te word en opnuut die gawe van Lewe in ons hande te vat en positief die jaar wat voorlê, kop omhoog, in te stap. Verjaarsdae is nooit my ‘ding’ nie en om een of ander rede is daar altyd so stukkie seer in my lewe op my verjaarsdag. Ook dié jaar is nie anders nie want my seun vlieg Sondag net na kerk terug Bloemfontein toe vir die laaste skof van die jaar se skool en ‘koebaai’ sê, is nog minder my ding.
As jy my vra wat is my verjaarsdagswens dan sal dit die mooiste geskenk wees as almal dié Sondag dit saam met my kom vier vir ʼn uur.
Die laaste paar Sondae was dit koud en gereën – kom ons maak dit Sondag warm en toegeneë ongeag wat die weer doen!
Ons gaan gesels oor die skrywer van die Petrus-briewe se uitroep dat ons, in hierdie Koninkryk waarvan ons praat, ʼn ereplek het; dat ons die hoeksteen is; ons is deel van die adeldom wat geroep is uit die duisternis na die wonderbare lig! (1 Petrus 2:2-9)
Ons IS die Koninkryk!
Die Amazing Veelkleurige Edelsteen genaamd: Dankbaarheid!
• Die beeld van ʼn pasgebore baba
• Die beeld van ʼn lewende steen
• Die beeld van ʼn koninklike adeldom
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum — Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Ons bly nie net aan die bors van ons moeder nie; ons is nie net stene in die hande van bouers nie maar word geklee in die adelllike bontkleed van God se Liefde.
Ons het Saterdag 21 Julie 2012 by die Kolping Sentrum ʼn lesing oor ‘Die Geskiedenis van die Bybel’ -- en begin op 26 Julie weer met ACIM. Kontak my asseblief as jy belangstel.
Gedagte vir die Week:
“You don't have a soul. You are a Soul. You have a body.” — C.S. Lewis