Hierdie week se liturgie: 13_oktober_2013
Wonder jy ook soms – wat is die sin van die lewe in die algemeen en die sin van my lewe spesifiek? As mens terugkyk oor die laaste jaar of dekade van ʼn mens se lewe, is daar van tyd tot tyd ʼn stock-take van waar staan ʼn mens; wat gee sin; wat is my doel; waarheen is ek op pad; wat sit ek neer en wat vat ek saam?
Dit is die vrae wat ons gereeld verken by Neo-Spektrum. Daar is nie noodwendig antwoorde nie, allermins ‘regte’ antwoorde, maar op die ou einde van die dag is die vrae meer belangrik as die antwoorde. Die antwoorde het ʼn manier om vanself te manifesteer — nie in goed wat ons doen nie maar in die manier hoe ons is. Nie in wat gebeur nie, maar hoe ons daarop reageer. Al drie ons menslike fakulteite is daarby betrokke – IQ (Intellektuele Intelligensie); EQ (emosionele intelligensie); en SQ (spirituele intelligensie).
Kognitief (IQ) besit die mens ʼn formidabele vermoë om oor goed te dink; te presteer; suksesvol te wees; en nuwe ontdekkings te maak. Emosioneel (EQ) het elke mens verskeie kompartemente van emosies — (en onthou: alle emosies is ʼn reaksie van die brein op ʼn sekere ervaring/belewenis) — ons het ʼn ontsaglike vermoë om uitdrukking te gee aan al ons reaksies deur middel van ekstase; hartseer; opgewonde; bang; blydskap; afgunstig; dankbaar; en liefde. Maar dit is spiritueel (SQ) waar die rubber spreekwoordelik die teer raak want daarin word ons bewus van wat werklik agter ons oë aangaan ... wat regtig ons intensies is ... wie ons werklik is. Ons het die afgelope Sondag genoem dat IQ gaan oor noticing, EQ gaan oor feeling, en SQ gaan oor being. Ons het die verband getrek tussen wat die Bybel noem “die Koninkryk van God” en wat ons vandag verstaan as Spirituele Intelligensie. Jesus vermaan dat as ons die onskuld en ontvanklikheid van ʼn kind verloor, sal ons die Koninkryk van God nie sien nie (Matt 18:3); hy nooi om eers die Koninkryk van God te soek en nie so besorg te wees oor al ons genoegens nie (Matt 6:33); hy gee ʼn belofte dat die insig in die misterie van Koninkryk aan ons gegee is (Mark 4:11); en hy stel dit onomwonde dat die Koninkryk van God is IN en OM ons (Luk 17:7).
Daar kan nog baie voorbeelde aangehaal word maar dit blyk seker te wees dat wat Jesus bedoel het met Koninkryk van God, is wat ons vandag verstaan as Spirituele Intelligensie. Wat is SQ binne ʼn Christelike konteks? Dit is die vermoë om om te gaan met die lewe (consciousness) op ʼn betekenisvolle manier (awareness) waarin ons ons aksies en reaksies in ʼn groter, ryker, betekenisvolle konteks sien (presence) sodat ons met liefde, aanvaarding, respek, lojaliteit, en seëninge (awakening) ons skuldgevoelens oor ʼn verlede en vrese oor die toekoms sal laat los vir ʼn herinnering wie ons werklik is (rebirth). Ek lees dit in elke gelykenis, elke gesprek, elke interaksie tussen Jesus en mense om hom. Dit maak ons wakker uit ʼn diep slaap (ego-denke) om op te staan (siel-denke) as iemand wat onthou wat ons eindelose potensiaal en moontlikhede is. DÍT is die krag van Spirituele Intelligensie.
Dis daarom nie vreemd dat die fokus van die ‘Koninkryk van God’ én van ‘Spirituele Intelligensie’ verwys na die hart ♥ as die sentrum nie. Ek hou nie baie van akronieme nie maar ter wille van ons gesprek eerskomende Sondag, kom ons staan stil by wat beteken die woord H.E.A.R.T en dan bring ons dit in verband met ons gesprek oor Spirituele Intelligensie as Koninkryk van God.
Honesty ... Empowerment ... Awareness ... Responsibility ... Truth
Kom ons dink vir ʼn oomblik na as ons weer sê – “my hart is seer” of “dit maak my hart bly” of “uit die diepte van my hart” – en word bewus van wat die ‘hart’ eintlik sê. Miskien moet die uitdrukking oor waar jou skat is net andersom wees naamlik “waar jou hart is, daar sal jou skat ook wees.” Kom ons raak Sondag vir ʼn uur stil met al ons vrae en met ʼn eenvoudige asemhalingstegniek ontsluit ons die portaal om weer ons hart te hoor klop — daarin lê al die antwoorde op ons vrae.
Ek hoop van harte J om almal van julle Sondagoggend 10h00 in ons sirkel te sien. Tot dan sluit ons af met die merkwaardige belofte uit Matteus 5:8 --
Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.
ʼn Geseënde dag en bespreek gerus nog vir Saterdagaand se lekker musiek-en-kuier-aand by die Barnyard dan maak ons weer die galery vol. Daar is nog enkele kaartjies oor – so, moenie dit misloop nie!
♥♥♥ Kyk asseblief na die volgende drie datums en bespreek jou plek vir iets wat die siel, verstand en gemoed sal voed.
== 10 Oktober -- ACIM by Kolping om 7pm en ons lees Marianne Williamson se boek “Gift of Change” — Hoofstuk Sewe: From Focus on Guilt to Focus on Innocence
== 12 Oktober -- ‘WE ARE THE CHAMPIONS’ lekker konsert by die Barnyard met musiek van Freddie Mercury, Pink, Elton John, Michael Jackson en vele ander. Bespreek asseblief by megan.korsman@gmail.com
== 2 November -- ‘Geskiedenis van die Bybel’ werkswinkel by Kolping van 9am tot 1pm. Die ganse geskiedenis van Abraham (±1500BC) tot by Konstantyn (325AC) op ʼn tydlyn om vir eens en vir altyd dit in konteks te verstaan.
Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Gedagte vir die Week:
“You are not a drop in the ocean. You are the entire ocean in a drop” — Rumi13_oktober_2013