Hierdie week se liturgie: 13_mei_2012
Daar is op Sosiale Media blaaie van tyd tot tyd enorme debatte oor die bestaan van God. Die “God” van die Bybel wat moord en slawerny; vrees en straf beveel en as raamwerk gebruik word om felle kritiek uit te spreek asof ons steeds in ʼn Ou Testamentiese wêreld leef. As die Bybel ons enigste verwysingsraamwerk is oor God, is die Godsbeeld ʼn droewige prentjie met net so hier en daar ʼn oase in die geestelike woestyn van die verhale.
Teen die tyd wat daar by die Nuwe Testament gekom word, is die agterdog, suspisie, wanopvattings en misverstand al so gelaai met voorveronderstellings dat die God van Liefde se teenwoordigheid (gesig) gemis word en (be)moeisaam gesoek word na Bybelversies oor teenstrydighede, weersprekings en onsinnighede sodat die fanfare oorverdowend voortgesit kan word. Daarna skuif die argumente na die kerk en alles wat in die Naam van hierdie “God” gedoen is en dié prentjie lyk nog droewiger.
Min mense wat ek ken, lees nog die Bybel. Nog minder maak ʼn studie daarvan. Die meeste het hul rug gedraai op die Godsbeskouing van die Bybel en dit vervang deur ʼn magdom ander leesmateriaal, wat enige iets insluit van die ‘ridiculous’ tot die ‘sublime’ met biblioteke vol boeke oor esoteriese sielkunde, self-help, ‘The Secret’ (nou geen geheim meer) en postmodernistiese filosofie sonder dat ons enige iets verstaan van die konteks waarbinne die Bybel geskryf is. Ken ons die Midde-Oosterse geskiedenis goed genoeg om te kan onderskei tussen die lewenslesse binne die verhale en die invloed van verskeie mitologieë op die ontstaan van ʼn godsdiens waaruit ons geloof gebore is? Miskien sal ons uitroep “NEE, en ek stel ook nie belang nie! Die ontnugtering is net te groot want ek weet wie die muis is wat my tand in die skoen kom haal.”
Máár (en dis ʼn sagte ‘maar’) – vir baie is daar steeds waarheid opgesluit in die boeke van die Bybel sonder om dit letterlik te interpreteer, analiseer, dissekteer en selekteer. Vir biljoene mense op hierdie planeet is die Bybel steeds ʼn bron van inspirasie en motivering; gee dit moed en bemoediging aan hulle wat soek en vra na ʼn ervaring met God. Daar word nie getwis of gestry of iets feitlik is of nie; nog minder is daar enige voorneme om terug te keer na ʼn wêreld wat plat is en op pilare staan; slawerny; of veroordelend staan teenoor hulle wat van ons verskil of aan ʼn ander geloof behoort. Die Bybel word gewoon gelees as boeke met verhale oor mense, van mense, in mensetaal wat in ʼn verhouding staan met dit wat hul beskryf as God.
Kom ons verken Sondag vir ʼn uur die agtergrond en betekenis van die Bybel en hoe antwoord ons al die kritiek. Die Bybel is nie God nie! Die Kerk is nie God nie ... ons is tog verby daardie punt! Miskien as ons eerlik genoeg is, sal ons (h)erken dat ons vandag steeds ons geloof, in watter vorm ook al, beoefen vanuit ʼn bepaalde kultuurhistoriese raamwerk en miskien, nét miskien, as ons die bril van ons interpretasies en eie verhale (home movies) eenkant sit, sal ons iets mooi en wonderlik ontdek in die ou geskrifte wat vandag nog van toepassing en relevant is.
Die Bybel in Vandag se Tyd --
Die konteks van ‘Tribal Religion’ – toe én vandag
Geskiedenis, wysheid en profetiese literatuur
Mites, metafore, gelykenisse en simbole
Die betekenis van die Boodskap vandag
10h00 Sondag in die kapel van die Kolping Sentrum — Besoek ons FACEBOOK: http://www.facebook.com/pages/Neo-Spektrum/278715195501651 vir meer inligting.
Kom deel Sondag in ons gesprek oor ʼn God wat in ʼn duisend stemme op ʼn duisend plekke met jou in gesprek is.
Ons volgende ACIM (A Course in Miracles) byeenkoms is 10 Mei om19h00 by die Kolping Sentrum. Henri Theron (onderwyser en vertaler van ACIM) kom by ons kuier vir ʼn Q&A
Gedagte vir die Week:
Jy is dalk die enigste Bybel wat iemand vandag sal lees oor God.